WEINIG INSPRAAK IN STAAT SE NUWE ‘MEESTERPLAN’
’N MINISTERIËLE gespreksessie oor die transformasie van toegang tot water het min duidelikheid gebring oor hoe wetgewing gewysig gaan word om dit te bewerkstellig.
Só sê mnr. Theo Boshoff, bestuurder van regsintelligensie by Agbiz, een van meer as 300 verteenwoordigers van verskillende belangegroepe wat onlangs in Boksburg met mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Waterwese en Sanitasie, vergader het.
“Daar is ongelukkig min aandag gegee aan die voorgestelde wetswysigings wat volgens die departement se meesterplan groter klem gaan lê op transformasie in die toekenning van waterregte. Daar is hoofsaaklik gekyk na veranderings in die institusionele raamwerk vir beter dienslewering, insluitend waterhervorming.
“Die transformasieplanne wat in die voorgestelde wetswysigings word, is steeds nie bekend gestel nie,” sê hy.
Boshoff sê dit is onduidelik hoe die publiek insette tot beleid en die meesterplan kan lewer, en dat gestruktureerde geleenthede hiervoor nodig is.
“Al was daar ’n paar raadplegings oor die meesterplan, is dit nooit amptelik in die Staatskoerant afgekondig nie. As die Kabinet die meesterplan goedkeur, is dit dus eintlik finaal.”
VERIFIKASIE
Staatsamptenare het in voorleggings op die vergadering verwys na die sowat 60% water wat deur die kommersiële landbou gebruik word.
Mnr. Gregory Smith, natuurlikehulpbronbeampte verantwoordelik vir water by Agri SA, wat ook die vergadering bygewoon het, sê dit is uiters belangrik dat die verifikasie- en geldigver- klaring van bestaande regmatige watergebruik voltooi word, sodat die hoeveelheid water wat die landbou gebruik, geverifieer kan word.
“As ons weet hoeveel water daar is, weet ons wat toegewys kan word en kan water beter bestuur word.”
BESPROEIINGSRADE
Vir Agri SA is dit belangrik dat bestuursagentskappe vir opvangsgebiede (CMA’s) en watergebruikersverenigings (WUA’s) behoorlik in werking gestel word.
Dié organisasies sal transformasie op plaaslike vlak bevorder en help om waterbronne te bestuur, sê Smith.
Boshoff sê daar is op die vergadering groot gewag gemaak van die stadige pas waarteen besproeiingsrade na WUA’s oorskakel.
“Die departement en die vereniging vir watergebruikersverenigings het verskil oor die getal wat reeds oorgeskakel het, en die redes vir die stadige pas.”
Hy sê dit blyk die minister het ingevolge bestaande wetgewing magte wat duideliker riglyne kan gee en beter steun aan WUA’s kan bied om wetsgehoorsaamheid te bevorder.
Boshoff sê opkomende boere het op die vergadering hul ontevredenheid gelug oor die gebrek aan inklusiwiteit binne die bestuur van WUA’s.
“Van die opkomende boere meen dat hul belange nie voldoende aandag kry nie, en dat WUA-tariewe hulle verhinder om mee te ding en te groei.
“WUA’s meen weer onwettige watergebruik plaas groot druk op wetsgehoorsame kommersiële en opkomende boere.
“Die departement se inspektoraat het te doen met groot knelpunte wat kapasiteit betref, wat dit onmoonlik vir WUA’s maak om die wet af te dwing.
BATE
“WUA’s behoort as ’n bate beskou te word. Indien ooreenstemming oor kernkwessies soos inklusiwiteit bereik kan word, behoort WUA’s ’n kernfaktor in waterbestuur en transformasie te bly,” sê Boshoff.