Landbouweekblad

WOL | Pryse stabiel ondanks China-verbod

- — FREDALETTE UYS

Wolpryse het op die jongste veilings stabiel gebly, ondanks die verbod wat China verlede maand op Suid-Afrikaanse wol ingestel het. “In hierdie stadium verloop die veilings goed. Ons is ingenome dat wol steeds verkoop, en kan tans nie kla nie,” sê mnr. Isak Staats, hoofbestuu­rder van wol en bokhaar by BKB.

Twee veilings is voorverled­e week aangebied: die geskedulee­rde een asook die veiling wat vir 20 Februarie beplan was en toe uitgestel is. Op die eerste veiling was die sluitingsp­rys R218,17/kg, wat 0,3% laer was as op die vorige veiling. Op die 27 Februarie-veiling was die sluitingsp­rys R217,60/kg, met die Cape Wools Merino-aanduider wat met ’n verdere 0,3% gedaal het. Op verlede week se veiling was die sluitingsp­rys R221,78/kg (skoon), en die Cape Wools Merino-aanduider 1,9% hoër.

Volgens Staats koop die kopers wol aan om dit op te berg. Dit word egter teen ’n groot risiko gedoen.

Mnr. Deon Saayman, bestuurder by Cape Wools, sê die regering se handelskom­itee lewer ’n groot bydrae om die Chinese wolverbod te probeer oplos. “Ons moet nou net tyd toelaat vir al die nodige prosedures om plaas te vind. Dit is moeilik om ’n tydraamwer­k daaraan te koppel.”

Sterker wol het swakker vertoon weens ’n tekort aan belangstel­ling uit China. Weens die Chinese verbod was daar ook ’n skerp daling in die prys van korter wol.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa