Landbouweekblad

SOJABONE: DÍS HOEKOM JY ’N HEFFING BETAAL

-

Produsente betaal vanaf 1 Maart 2019 ’n heffing van R65 per ton op sojabone wat verhandel word. Hierdie statutêre heffing is deur die nasionale minister van landbou, bosbou en visserye ingestel nadat belanghebb­endes in die bedryf, verteenwoo­rdig deur die sonneblom- en sojaboonfo­rum, daarom gevra het.

Die doel van die heffing is om saadmaatsk­appye aan te moedig om nuwe kultivars met gevorderde saadtegnol­ogie plaaslik beskikbaar te stel. Suid-Afrikaanse sojaboonpr­odusente plant tans hoofsaakli­k saad wat hulle van vorige produksiej­are teruggehou het. Sommige van die kommentare hieronder is verkort. — Red.

JURG EN CHRISTINA

BECKER skryf: Ek stem nie saam met die heffing nie. Ons boere het ons laat vang. Die heffing moet af. Van die heffing gaan 20% weer vir swart, opkomende boere. Ons is keelvol om die staat se werk vir hom te doen. Ons boere word swaar belas en kry geen hulp van die regering nie. Dit is ’n flou Rooikappie­storie dat die beste saadgene nie die land binnekom nie. Hulle kom! Vanjaar is die heffing R65/ton en volgende jaar R80. Hoe het hulle by sulke bedrae uitgekom? Produsente bars om R5 000/ton skoon te kry. Die saadmaatsk­appye sit lekker agteroor en lag vir ons stupid produsente. Ons betaal vir hul navorsing, en hulle vra steeds baie vir hul saad.

DERICK KUUN skryf: Ek sou nie omgegee het om die heffing te betaal as ons ’n mark vir verbruik of uitvoer gehad het nie. Ons produseer ons in ons moer in. Kyk na die mielieprys die afgelope twee jaar en die sojaboonpr­ys die afgelope jaar. Ons het goeie boere, maar ons produseer te veel, en Graan SA of die regering kry nie vir ons markte nie. Die boere bring hul kant, maar ons sal net kan voortbesta­an met ’n mielieprys van R2 800 per ton (Safex) en ’n sojaboonpr­ys van R5 500 per ton. DEWALD LABUSCHAGN­E skryf: Mieliesaad kos nou R200 000 tot R300 000 per ton, en ’n mens kry R2 000 per ton as jy (die oes daarvan) verkoop. Kos dit werklik soveel om saad te produseer? Nee. Daar is baie geld te make in boerdery. Jy moet net nie die boer wees nie.

DERIUS KRUGER skryf: Ekas boer ondersteun die heffing, want hoe moet ons boere die nuutste kultivars en tegnologie kry as ons heeltyd saad terughou? Ek meen as ’n boer koring- of sojaboonsa­ad terughou en dit jaar ná jaar plant, gaan hy mettertyd agteruit boer. Jy wil tog nie ’n kultivar plant wat nie die opbrengpot­ensiaal het van die nuutste kultivars nie. Indien ons as boere nie wil bydra nie, sal ons op lang termyn onsself keel afsny. Gaan kyk self hoe het tegnologie en opbrengste oor die jare verbeter. As ons beter kultivars wil hê, moet ons ook ons kant bring. HANNETJIE NEEDHAM skryf: Verbruiker­s begin ook vrae vra oor die tipe saad — genetiese modifiseri­ng, die gebruik van Roundup, ens. Dis goed om dit in gedagte te hou. Sterkte aan al die boere wat met droogte sit. Ek haal my hoed vir julle af. Dankie dat julle vasbyt!

BEN NIEMAND skryf: Dit is ’n bitter pil, maar ek sal dit sonder teenkantin­g sluk. Ek kan op van my lande nie meer sojabone plant nie weens sekere onkruide wat glifosaat nie bestry nie. As ons nuwe kultivars met die dikamba-geen kan kry wat beter opbrengste lewer, kan ek weer aangaan. Onthou ook, hierdie heffing is deur Graan SA met saadmaatsk­appye onderhande­l. Daar is voorwaarde­s dat dit net sal geld solank hulle nuwe kultivars uitbring. Dis jammer dat die heffing statutêr afgedwing word, maar ongelukkig is dit ál manier. Hulle het in Suid-Amerika ’n vrywillige heffing probeer, maar ná die eerste jaar nadat die boere nuwe kultivars gekry het, het hulle begin weier om dit te betaal. Toe sit hulle weer met dieselfde probleem. BRYAN MC BOWLES skryf: Dan wonder ’n mens hoekom dit goedkoper is om in te voer!

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa