SA KAN 1 MILJOEN TON MIELIES INVOER
SUID-AFRIKA kan in die nuwe bemarkingsjaar, gebaseer op verskeie markfaktore en die oesskatting, 600 000 ton tot 1 miljoen ton mielies invoer, sê dr. Werner Rossouw, handelaar en direkteur van Silostrat.
Die geelmielie-oordragvoorraad word tans op 800 000 ton geskat, wat sowat 25 dae se voorraad verteenwoordig. Rossouw sê gewoonlik is sowat 85 dae se oordragvoorraad beskikbaar, derhalwe kan pryse nader aan invoerpariteit verwag word. Dit is mits wesenlike hoeveelhede mielies nie ingevoer word nie.
Volgens Rossouw word tans verwag dat 600 000 ton tot 1 miljoen ton geelmielies by die Oos-Kaapse en Wes-Kaapse hawens ingevoer sal word. “Indien dit die geval is, sal geelmielies in die afsienbare toekoms rondom invoerpariteitsprysvlakke moet bly verhandel.”
GROTER AANPLANTINGS?
Invoerpariteitsprysvlakke kan wel groter aanplantings in die volgende seisoen tot gevolg hê, wat dan weer groter oeste kan lewer. “Dan sal mielies moontlik in die onderste helfte van die pariteitsband verhandel.”
Rossouw sê indien die volgende oesskatting met 200 000 ton daal, sal Suid-Afrika nog 200 000 ton mielies moet invoer. Die hawens in die Oos- en Wes-Kaap kan van 800 000 ton tot 1 miljoen ton graan hanteer, dus sal ’n verdere 200 000 ton moontlik by die Durbanhawe gelewer moet word. Die invoerpariteitprysvlak by die Durbanhawe is gewoonlik sowat R100 hoër as by ander hawens. “Dan begin ons kyk na invoerpariteitspryse van R2 800 tot R2 850 per ton in Durban.”
Die invoerpariteitsprys in die Oos-Kaapse en Wes-Kaapse hawens is tans R2 700/ton en R2 750/ton.
KOMITEE GEPRYS
Rossouw voeg by dat die Oesskattingskomitee “fantastiese” werk doen, en dat sy skatting die emosie uit die mark verwyder omdat hy met syfers werk en met groter akkuraatheid in die mark help .“Die komitee haal die raai uit die pryse uit.”
Die komitee word gereeld gekritiseer, veral oor die impak wat sy skattings o pp ryse kan hê. Rossouw sê die komitee is geneig om konserwatief met sy skattings aan die begin van ’n seisoen te wees, soos in 2016.
Rossouw sê die komitee se eerste produksieskatting van 10,510 miljoen ton vir die 2018-’19-mielie-oes, tesame met die onsekerheid van die droogtetoestande, het pryse verbeter.
“Hoewel die skatting groter as verwag was, het die mark ’n syfer gehad om mee te werk, ook ten opsigte van oordragvoorrade. Die prys per ton mielies het toe vir drie dae aaneenlopend gestyg.” — ALANI JANEKE