UPINGTONSE BOKKE IN ‘NEWCASTLE’ TE KOOP
’N UPINGTONSE boer het onlangs ontdek dat foto’s van sy stoetbokke op ’n vermoedelik bedrieglike Facebook-verkoopsblad gebruik is.
Mnr. Hennie le Roux, eienaar van die Witsand-Boerbokstoetery naby Upington, het ontdek ’n Facebookprofiel met die naam Dale Farm het van sy foto’s wat hy op Witsand se Facebookblad gelaai het, gebruik om Boerbokke te “verkoop”.
“Jy kan nou op daardie profiel ingaan en mooi ramme en ooie gaan koop, en dit sommer teen ’n lammetjie se prys,” sê hy.
’n Onlangse advertensie op die blad adverteer bokke teen R700 elk. Belangstellendes moet dan ’n e-pos of ’n WhatsApp-boodskap stuur vir nog inligting. Le Roux se stoetramme verkoop egter teen gemiddeld R10 000 stuk.
Van Witsandstoetery se Boerbokke is aan die begin van Februarie teen ’n “spesiale prys” van R1 300 aangebied. Bonsmarabulle word vir R3 200 elk op die blad geadverteer en verkoop.
Die blad beweer Dale Farm is in Newcastle in KwaZuluNatal geleë.
Dale Farm het by navraag per Facebook-boodskap aan Landbouweekblad gesê boere het die klagtes bekook omdat hulle pryse so goed is en hul besigheid van krag tot krag gaan.
AANLYN VERNEUKERY
Le Roux sê hoewel die advertensies hom tans nie benadeel nie, vrees hy daar is dalk niksvermoedende kopers wat vir die slenter val en nog nie die saak aangemeld het nie.
“Iewers vang hy mense uit, want ons het al twee keer agtergekom hy doen dit. Hy het dit eers met my ooie gedoen, en toe wag hy ’n rukkie en doen dit weer met my ramme.”
Le Roux sê dis nie die eerste keer dat sy foto’s op sosiale media in bedrieglike transaksies gebruik word nie. Van sy kliënte in Botswana het hom twee maande gelede laat weet van sy bokke word in Botswana geadverteer.
Hy maan boere wat diere deur advertensies op sosiale media koop, om versigtig te wees. “Pasop vir die pryse wat nie klop met dit wat in die bedryf aangaan nie, want dan is daar iewers fout.”
Le Roux sê hy het al self op die blad navraag gedoen oor bokke, en kry dan terugvoering deur ’n Facebook-boodskap. Sodra hy egter die nommer daarop skakel, antwoord niemand nie. Hy het die saak nog nie by die polisie aangemeld nie, omdat hy nog nie self deur die transaksies benadeel is nie.
Hy voeg grappenderwys by hy kry wel baie advertensie deur die slenter. “Baie mense vra op die vals blad wie se bok- ke dit is, en diegene wat weet, sê dis myne, en dan kry ek baie ‘likes’ op my eie blad.”
‘DIS BEDROG’
Mnr. Daniel-Ross Richards, ’n prokureur en kenner van kommersiële en korporatiewe reg by die Baaise prokureursfirma Cavanagh & Richards, sê iemand wat ’n wanindruk by die publiek skep deur valslik voor te gee hy of sy is die eienaar van ’n produk, slagoffers lok om ’n deposito te betaal en dan spoorloos verdwyn, pleeg bedrog.
Volgens Richards kan Facebook betrek word om ’n vermeende bedrieër se identiteit te bepaal, maar dis ’n duur en uitgerekte proses. Hy meen dis makliker om self die persoon se identiteit te probeer bepaal deur te sien wie sy kontakte op Facebook is.
Mense het ook die opsie om strafregtelike klagte teen die persoon in te dien, of ’n hofinterdik te bekom wat die persoon verbied om voort te gaan met die aksies wat wanvoorstellings veroorsaak.
“Doen jou huiswerk. As iets te goed klink om waar te wees, is dit gewoonlik. Moenie vertrou dat die advertensie die waarheid is bloot omdat dit op Facebook of enige ander bron verskyn nie,” sê Richards. “Wat lewende hawe of enige ander produk betref, betaal eers die verkoper ná inspeksie van die lewende hawe of produk.”