Wolpryse bring verligting vir boere
Stabiele wolpryse is tans ’n welkome pleister op die seer wat die droogte in dele van die Wes-Kaap veroorsaak.
Die leierskap van Agri Wes-Kaap het vroeg in Maart sy lede tydens dié landbou-organisasie se streekskongresse moed ingepraat.
“Ek hoef julle niks van die droogte te vertel nie. Julle beleef dit elke dag. Die Wes-Kaap is geknou deur die droogte, al vir vier jaar,” het mnr. Cornie Swart, voorsitter van Agri WesKaap, op die streekkongres op Beaufort-Wes gesê.
“Die nasionale regering moet na die landbou se versoeke begin luister. Droogtehulp en bystand moet versnel word en die funksionele vermoë van die departement van water en sanitasie moet ’n voorrangsaak wees.”
Naas die Vrystaat en die OosKaap is die Wes-Kaap die grootste wolproduserende provinsie in Suid-Afrika. Die omgewing van Caledon, Bredasdorp en Swellendam is veral bekend as wolskaapwêreld, en Caledon is die enkele grootste wolproduserende streek in die land.
Wolboere in die Wes-Kaap is taamlik goed oorgehaal om skape te voer, sê mnr. Isak Staats, hoofbestuurder van wol en bokhaar by BKB .“As ek kyk na die produksie in die Caledon-streek is dit net effens minder as in ’n normale seisoen. Die wol is selfs ’n bietjie fyner en dus van ’n hoër gehalte. Waar boere wel swaarkry, is in die Swartland en in die omgewing van Oudtshoorn.”
WOLPRYSE LIG GEMOED
Wolpryse is tans stabiel en ver- gelyk goed met die vorige jaar.
Met die huidige voorkoms van bek-en-klouseer wat Suid-Afrikaanse uitvoer na lande soos China verhinder, is dit egter onduidelik hoe die wolprys gaan reageer.
China is Suid-Afrika se grootste mark vir wol en Merinovelle.
Hoewel geen kliniese tekens van bek-en-klouseer of positiewe toetsuitslae in die kwarantyngebied in die noordooste van Limpopo onlangs aangeteken is nie, het die Chinese nog in Maart vasgeskop oor die invoer van enige diere met gesplete hoewe of diereprodukte uit Suid-Afrika. Dit sluit in gebiede soos die Wes-Kaap, wat baie ver van die rooilyngebied in die noorde van die land is.
“Kommunikasie van Agbiz oor die diplomatieke onderhandelinge laat dit darem lyk of die land binnekort weer met China kan handel dryf. Die kwarantyngebied vir bek-en-klouseer is baie goed bestuur, en China aanvaar Suid-Afrika se protokolle vir die bekamping van slenkdalkoors.
“Ons wil in die toekoms verseker dat soortgelyke protokolle vir bek-en-klouseer ook deur lande soos China aanvaar word om ’n herhaling van hierdie verbod te vermy,” sê Staats.
Vrese dat dié biosekerheidskrisis wolpryse erg sou benadeel, het gelukkig nie gerealiseer nie. Wolpryse het taamlik stabiel gebly in die laaste veiling van Februarie en die eerste veiling van Maart.
Staats sê dat hulle tevrede is met die wolpryse. “Dit gaan eintlik goed en wolboere in die Wes-Kaap glimlag darem.”
Die veiling op 6 Maart was die 25ste van die 2018-’19-seisoen. Cape Wools se Merino-aanwyser het met 1,9% toegeneem met die sluitingsprys op R221,78/kg (skoonwol).
Dit is amper 23% hoër as ’n jaar gelede.