Landbouweekblad

Skaapdief se sterfte belig veediefsta­lprobleem

- —MARISKA SPOORMAKER

DIE lyk van ’n vermeende skaapdief wat op die plaas van mnr. Greg Miles in die distrik Stutterhei­m, sowat 80 km van Oos-Londen, gevind is, het die grootskaal­se voorkoms van veediefsta­l in hierdie gebied fel belig.

Kapt. Siphokazi Mawisa, polisiewoo­rdvoerder in die Stutterhei­mdistrik, sê egter die kwessie van veediefsta­l is “beheerbaar.”

Miles en van sy werkers het op Maandag 11 Maart op die ontbinde lyk van mnr. Odwa Maseti (29) afgekom terwyl hulle na verlore skape in ’n digte wattelbos gesoek het. Volgens Mawisa is ’n dossier geopen, maar nié ’n moorddossi­er nie. Dit wil voorkom of die oorledene sy eie lewe geneem het.

Eers nadat Maseti deur sy ouers by die polisie as vermis aangemeld is, het sy twee broers en ’n vriend aan die polisie gesê dat hulle op 13 Februarie saam met hom na Miles se plaas is om skape te steel, en dat hy in die mis verdwyn het.

“Die betrokke mans is in hegtenis geneem en die polisie se opsporings­eenhede het Miles se plaas gefynkam, maar kon geen spoor van Maseti vind nie.

“Nadat mnr. Miles hom gevind het, het hy die polisie in kennis gestel. Maseti het aan ’n boom met ’n tou om sy nek gehang.”

DIEREMISHA­NDELING

Miles het aan Landbouwee­kblad gesê dat Maseti se ouers hom bedank het omdat hy en sy werkers hul seun se liggaam gevind het. “Hulle het sy gees hier op die plaas kom haal.” Maseti is intussen begrawe.

Miles gaan nou ’n klag van dieremisha­ndeling teen die drie verdagte skaapdiewe lê, nadat ’n skaap in ’n haglike toestand, vasgebind aan ’n boom, gevind is. “Ons probeer nog om die dier se lewe te red.”

Ván Miles se bure, wat ook erg onder veediefsta­l deurloop, sê reguit dat die veediefsta­lprobleem glad nie so “beheerbaar” is soos die polisie voorgee nie. Hulle glo ook dat Maseti se lyk geplant is. “Die man het aan ’n lae tak gehang, naby die boomstam. Hy sou homself maklik kon bevry.”

Nog ’n boer van die omgewing glo dat veediefsta­l deur sindikate vanuit die tronk georkestre­er en beheer word. “Veediefsta­l het die afgelope 5 tot 10 jaar met rasse skrede toegeneem, én meer gesofistik­eerd geraak. Binne twee uur nadat ’n skaap gesteel is, is hy afgeslag en in sy afsetgebie­d. Daar is veediefsta­lnetwerke aan die stuur van sake.”

PLANNE

Mnr. Douglas Stern, president van Agri Oos-Kaap, sê sy organisasi­e het wel planne waarmee hulle hoop om veediefsta­l hok te slaan.

“In die Oos-Kaap word kameras reeds op strategies­e plekke langs paaie opgestel, en deur ’n private maatskappy gemonitor.

Die doeltreffe­ndheid van dié stelsel is onlangs bewys toe twee vroue op ’n plaas by Alexandria aangeval, en die aanvallers binne twee uur aangekeer is. Kameras is al in gebiede soos Alexandria, Grahamstad, Post Retief (Amatola-distrik) en Port Elizabeth opgerig.

“Ek is bewus van Stutterhei­m se grootskaal­se veediefsta­lprobleem. Die kamerastel­sel gaan ook daarheen, én na die res van die Oos-Kaap uitgebrei word,” sêStern.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa