Oor damme, volstruise en onmisbare geskiedenislesse
Infrastruktuur is onontbeerlik vir vooruitgang en die skep van welvaart. Dit moet net reg aangepak word.
Dis nie aldag dat mens ’n uitnodiging kry om vir Landbouweekblad ’n rubriek te skryf nie. Veral nie as jy nog nooit geboer het nie. Ek was laas op ’n plaas toe my oupa nog met volstruise in Oudtshoorn se wêreld geboer het, en dit was byna twee dekades gelede. Al wat ek onthou, is dat dit nie kinderspeletjies is om met volstruise te boer nie, en dit geld natuurlik nie net vir volstruisboere nie.
Wat kan ek dus aan die lesers van Landbouweekblad bied wat hulle nie reeds weet nie? My eie lewenspad kan dalk hiermee help. Ná skool is ek Stellenbosch toe om ekonomie te studeer. Ek het my M-tesis in 2006 ingehandig en daarna by die departement van ekonomie begin doseer. Ek is vandag nog hier, nóú as medeprofessor.
Die onderwerp vir my destydse tesis was Suid-Afrika se infrastruktuurkwessies. Net jammer niemand het dit gelees nie, want beurtkrag het dieselfde jaar begin.
Vir die volgende twaalf jaar sou infrastruktuur aan die agterspeen suig as dit kom by SuidAfrika se ekonomiese beleid. Te veel staatsbronne is geplunder. Te veel korttermynverligting (hoër salarisse vir staatsamptenare) en te min langtermynhorisonne
(soos infrastruktuurbeleggings). Ons begin nóú die vrugte daarvan pluk . . . Beurtkrag. Slaggate. Brûe wat ineenstort.
Maar energie- en padinfrastruktuur is natuurlik nie die enigste infrastruktuur wat benodig word nie. Die waterkrisis in die Wes-Kaap het ook die behoefte aan meer en groter damme belig, en nie net vir drinkwater nie. Boere weet hoe broodnodig damme kan wees om ’n goeie oes te verseker.
WAT SKEP WELVAART?
Ná my M-tesis oor infrastruktuur het my belangstelling na ekonomiese geskiedenis verskuif. Ek het in 2012 ’n doktorsgraad aan die Universiteit van Utrecht in Nederland voltooi, en begin om ekonomiese geskiedenis as vak te doseer.
Die geskiedenis is ’n wonderlike plek om meer oor die grondbeginsels van die ekonomie te leer. Wat maak sommige lande ryk en ander arm? Geld hierdie lesse ook vir individue? Vir ’n hele paar duisend jaar – tot so onlangs as ’n eeu gelede – was byna alle mense arm, en was boerdery hul hoofbron van inkomste.
’n Ander manier om dié vrae te vra is, wat het sommige boere in staat gestel om uit te styg bo die res, en die samelewing te transformeer tot die hoë vlak van lewenstandaarde wat die meeste mense vandag wêreldwyd geniet?
Een antwoord is damme. Infrastruktuur. Kapitaal.
Die fundamenteelste konsep binne die ekonomie is Adam Smith se idee dat welvaart geskep word deur arbeid te kombineer met kapitaal. Dit laat werkers toe om te spesialiseer en ’n surplus te produseer. Hierdie surplus word dan verkoop vir ’n wins, en ’n deel van daardie wins word verder belê in kapitaal, wat die volgende surplus nóg groter maak. Dít is hoe mens welvaart skep.
Dit is geen verrassing dat boerderye vandag ál meer kapitaalintensief word nie. Hoe minder mense saam met meer kapitaal gevoeg word (mits die kapitaal natuurlik nie te duur is nie), hoe groter gaan die surplus wees. Maar dit geld nie net vir vandag se tegnotrekkers en ander gesofistikeerde masjinerie nie.
Al sedert die tyd van antieke Egipte is damme en die besproeiing wat dit bied, een van die belangrikste vorme van kapitaal wat boere in staat gestel het om groot surplusse te produseer.
ELKE SAAK HET VELE KANTE
Dit is hoekom ’n nuwe artikel in die Journal of Development Economics so verrassend is. Volgens die skrywer van die artikel, Elizabeth Mettetal, het die bou van nuwe damme ná 1994 in die voormalige tuislande tot ’n daling in lewensverwagting vir die gemeenskappe in die omgewing gelei. ’n Nuwe dam, bereken Mettetal, het tot ’n gemiddelde styging van 10% tot 20% in kindersterftes gelei. Hierdie kapitaalbelegging was dus sleg vir die omliggende gemeenskappe.
Hoekom sulke vreemde resultate? Mettetal voer aan dat die bou van damme tot meer besoedeling van die nabygeleë gemeenskappe se drinkwater gelei het. Hoewel landbouproduksie voordeel getrek het uit die nuwe damme (soos mens sou verwag), het mense ook siek geword omdat daar, volgens haar, meer chemikalieë in die water voorgekom het.
Ek kan aan nog ’n rede dink. Die antieke Romeine het ook, weens klimaatsverandering en die behoefte aan water vir hul landerye, damme begin bou. Dit het natuurlik die verspreiding van muskiete aangemoedig. Een teorie vir die val van die Romeinse Ryk is die verspreiding van malaria. Dit is vreemd dat Mettetal geensins in haar artikel na malaria verwys nie.
Die punt is: Damme het hul voor- en nadele. Dit beteken natuurlik glad nie dat mens nie in nuwe infrastruktuur moet belê nie.
Hierdie soort navorsing toon bloot dat mens goeie impakstudies moet doen vóór die bou van nuwe infrastruktuur, sodat die nadelige gevolge voorkom kan word. Soos om byvoorbeeld ’n watersuiweringsaanleg sáám met die dam te bou (ás die oorsaak van die hoër sterftesyfer inderdaad besoedeling is).
Ekonomiese geskiedenisstudies soos dié van Mettetal help ons om te dink oor die dinge wat nodig is om ’n welvarende samelewing te bou. En al sou ek self maar sukkel as boer, weet ek mens moenie jou kop soos ’n volstruis in die sand steek as dit by die lesse van die verlede kom nie.
Prof. Johan Fourie is medeprofessor aan die departement van ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch.