Grondlys: Is dit kansvattery voor verkiesing?
DIE ANC was verlede week tjoepstil ná mnr. Deshi Ngxanga, sekretaris-generaal van die ANC in die Noord-Kaap, ’n lys getwiet het van sowat 30 produktiewe kommersiële plase in dié provinsie wat die party vir onteiening sonder vergoeding geoormerk het.
Dié twiet was strydig met herhaalde versekerings, plaaslik en internasionaal, deur pres. Cyril Ramaphosa dat produktiewe landbougrond en kossekerheid nie deur die proses van onteiening sonder vergoeding geraak sal word nie.
Senior ANC-afgevaardigdes wat aan ’n gesprek met ’n Amerikaanse afvaardiging oor grond en voedselsekerheid deelgeneem het (sien die berig hiernaas), het beweer hulle is onbewus daarvan. Die party het ook nie gereageer op herhaaldelike navrae van Landbouweekblad oor die aangeleentheid nie.
In ’n dekbrief wat die lys van plase vergesel het, sê Ngxanga dat ’n oudit van private en staatsgrond gedoen word om so gou moontlik die grond onder veral jong mense wat belang stel om dit te bewerk, te verdeel, sodra artikel 25 van die Grondwet verander is. Hy sê daar sal met ANC-strukture, alliansievennote en ander belanghebbendes saamgewerk word om die ingewikkelde proses glad te laat verloop.
Me. Naledi Gaosekwe, woordvoerder van die ANC in dié provinsie, sê die lys is bloot voorbereidingswerk in die lig van die parlementêre proses om die Grondwet te wysig, en moes nie versprei gewees het nie.
ONGELDIGE REDES
Talle plase word geoormerk vir onteiening bloot omdat die eienaars ook ander plase besit. Nóg redes wat aangevoer word, is ongegronde bewerings van ontslag en uitsetting van werkers, swak lewensomstandighede of gebrek aan verblyfsekerheid vir werkers, vermoedens dat begunstigdes van bemagtigingsprogramme nie gekry het wat hulle toekom nie, en in een geval ’n grondeienaar wat van rassisme en strafbare manslag beskuldig word.
Nóg die wysigingswet vir onteiening of die grondwetwysiging wat onteiening sonder vergoeding moontlik maak, is al naby aan klaar of gereed vir goedkeuring in die parlement. Albei dié wetsontwerpe kan eers ná die verkiesing op 8 Mei deur die nuwe parlement gefinaliseer, oorweeg en goedgekeur word.
Boonop word die verslag van die hoëvlakpaneel wat Ramaphosa moet adviseer oor die pad vorentoe vir grondhervorming, ook nog gefinaliseer.
Mnr. Theo Boshoff, bestuurder van regsintelligensie by Agbiz, benadruk dat onteiening slegs kan plaasvind ingevolge ’n wet van algemene toepassing, vir die beperkte doel en binne die magte waarvoor dié wet voorsiening maak. Wat grondhervorming betref, is dit slegs die minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming wat mag onteien op grond van die Wysigingswet op die Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg (Esta), die Wet op die Herstel van Grondregte (Wet 22 van 1994), die Wet op Huurarbeiders (Wet 3 van 1996), en die Wet op die Beskikbaarstelling van Grond en Bystand (Wet 126 van 1993). Elke wet omskryf die omstandighede waar onteiening kan plaasvind, asook die proses en hoe vergoeding bereken moet word.
TEENSTAAN
Mnr. Dan Kriek, voorsitter van Agri SA, sê Ramaphosa en topamptenare van die ANC het by herhaling die versekering gegee dat produktiewe plase nie vir onteiening sonder vergoeding geoormerk sal word nie. Agri SA het dit ook duidelik gestel dat hy enige wysiging van artikel 25 van die Grondwet teenstaan.
“Agri SA vergader met die regering, die ANC en alle ander organisasies met die verstandhouding dat elkeen die regsprosesse en die oppergesag van die reg sal respekteer,” sê Kriek. “Ons beskou die jongste uitspraak van die Noord-Kaapse ANC strydig met hierdie beginsels. Ons het ’n beroep op die nasionale leierskap van die ANC gedoen om in te gryp. Ons sal nie huiwer om ’n regsgeding aanhangig te maak nie, want ons beskou die beskerming van private eiendomsregte as uiters belangrik om broodnodige ekonomiese groei in Suid-Afrika te verseker.”