Graanpryse klim — en SA moet invoer
Kleiner oeste weens die droogte en ander klimaatstoestande beteken Suid-Afrika gaan in die komende jaar aansienlike hoeveelhede mielies, koring en oliesaadprodukte invoer. Die landboubedryf moet hom dus staal vir wisselvallige pryse en min ondersteuning van regeringskant.
Baie waarnemers reken die Oesskattingskomitee se jongste raming van veral die mielie-oes is oorskat. Op Graan SA se onlangse jaarkongres buite Bothaville is egter uitvoerig verduidelik watter tegnieke ingespan word om die oesskatting te beraam, van opnames by saaiboere tot satelliettegnologie.
Die oesskatting vir ’n jaar verander gewoonlik van die eerste raming af tot die finale syfer, maar die afwykings is gering, rondom 5%, en word net aangepas namate toestande verander.
Vanjaar se somer-oes is sowat ses weke laat aangeplant, wat die eerste ramings moeilik gemaak het. Die komitee kon ook nog nie die verdere verloop van die seisoen voorsien nie, soos reënval en vroeë ryp, en daar sal gevolglik weer aanpassings laat in die seisoen gemaak word.
Wat wel seker is, is dat Suid-Afrika in die 2019-’20-seisoen ’n redelike invoerder van mielies, koring en oliesaadprodukte gaan wees weens kleiner oeste as gevolg van die droogte en ander moeilike klimaatstoestande in die produksieseisoen. Dit is ’n ope vraag of die klimaatonsekerheid van die afgelope vyf jaar gaan voortduur, maar aanduidings van klimatoloë is dat dit wel die volgende vyf jaar ’n faktor gaan bly.
Intussen verwag internasionale graanmarkontleders van die Australiese buro vir landbounavorsing dat die internasionale graanpryssiklus verby sy onderste draaipunt is, en dat stygende dollarpryse in die volgende paar jaar verwag kan word. Plaaslik beteken dit die rand-dollarverhouding gaan in die volgende paar jaar bly verswak, veral as die ANC-regering ná die verkiesing in Mei aan bewind bly, soos allerweë verwag word.
In die lig van die ANC se onvermoë om doeltreffend te regeer, is die kans skraal dat daar ’n suksesvolle ommekeer in landboubeleid en ondersteuning aan nuwe en bestaande kommersiële boere sal wees. Hoewel dit
lyk of daar darem nou die eerste keer ’n wil is om dinge beter te doen, moet ’n mens in gedagte hou dat dit nie maklik is om ’n paar duisend nuwe bestaansboere te vestig, en om sowat 60 miljoen mense van kos te voorsien wat van plase of invoer moet kom nie.
KLEINER OESTE, GROTER INVOER
Die TABEL toon die jongste ramings van belangrike oeste en moontlike invoer vir die komende jaar. Die nasionale mielie-oes is aansienlik kleiner as verlede jaar, en Graan SA en ander ontleders reken Suid-Afrika sal in die nuwe bemarkingsjaar tot 1 miljoen ton mielies moet invoer, na gelang van hoe die volgende paar weke in die somerreëngebied verloop. Daarmee saam sal die grootste deel van die sowat 3 miljoen ton oordragmielievoorraad opgebruik word.
Die sojaboon- en sonneblomsaadoes is ook kleiner as verlede jaar, en Suid-Afrika gaan ’n invoerder van oliekoek (proteïene) en kookolie bly. Dié invoer kan in die komende jaar van 1,2 miljoen ton tot 1,5 miljoen ton wees. In albei gevalle beteken dit plaaslike pryse gaan relatief hoog bly en nader aan invoerpariteit verhandel, wat onder meer die intensiewe veebedryf sal knou.
Die grondboonoes is die afgelope twee jaar erg geknou, en Suid-Afrika word ’n netto-invoerder van grondbone. Dieselfde geld droëbone, en sowat 50 000-70 000 ton
sal ingevoer word, meestal uit China.
Die koringbedryf is in ’n kreeftegang, ten spyte van die moeite wat Graan SA en ander belanghebbendes met ’n omkeerstrategie doen. Die koringinvoer in die huidige bemarkingsjaar word op sowat 1,6 miljoen ton geraam.
MINDERMIELIES
Die Australiese landboubedryf het pas sy jaarlikse landbou-vooruitskouingskonferensie gehou, en, gegrond op heelwat navorsing, sy verwagtinge bekend gemaak oor die internasionale vooruitsigte vir ’n paar bedrywe. In GRAFIEK 1 word die verloop van sogenaamde growwe graan (basies mielies) aangedui. Dit toon die verwagte eindvoorraad as persentasie van jaarlikse verbruik, en die verwagte Amerikaanse mielieprys.
Volgens die Australiese navorsingsmodel gaan voorraadvlakke relatief daal tot verbruik, en pryse in Amerikaanse dollar gaan die volgende paar jaar opwaarts neig. Dit word toegeskryf aan die verwagte styging in die vraag na veevoer in die wêreld, asook die industriële gebruik van mielies vir onder meer etanol en sterk groei in China.
Die verwagte verswakking van die rand teenoor die dollar kan hierby gevoeg word. Dit beteken invoer- en uitvoerpryse gaan ook die volgende paar jaar styg, wat implikasies vir die intensiewe Suid-Afrikaanse veebedrywe inhou. Buiten wisselende pryse sal voerkoste aan ’n breë front styg.
KORINGKOMPETISIE
GRAFIEK 2 toon die navorsers meen koringpryse (harde rooi koring in Amerika) gaan redelik stabiel bly tot 2023-’24 en stadig opwaarts bly neig. Dit is in ooreenstemming met die groei in die wêreldbevolking en hul inkomste, en dus veranderings in hul eetpatrone.
Na verwagting gaan koringproduksie in die volgende paar jaar skerp styg in Argentinië, Indië en die sogenoemde Swartsee
gebiede, wat Rusland en die Oekraïne insluit.
Die Swartseegebied gaan redelik oorheersend word wat koringuitvoer betref, en is ’n redelik goedkoop koringprodusent, met staatsondersteuning ten opsigte van navorsing en uitvoerinfrastruktuur, met nog baie groeipotensiaal. Dis ook die oorsprong van die grootste deel van Suid-Afrika se koringinvoer, en, ten spyte van die invoertarief op koring, kan Suid-Afrika nie behoorlik meeding nie.
Plaaslik word koringpryse redelik gestabiliseer deur die invoertarief, en na verwagting sal die randprys meestal sywaarts en effens op beweeg met die verswakking van die wisselkoers.
Suid-Afrika het feitlik op ’n permanente basis ’n groot invoerder van koring geword,
en sal na raming vanjaar sowat 1,6 miljoen ton koring moet invoer.
SOJABOONGROEI
Sojabone is wêreldwyd die belangrikste oliesaad, en die produksie en verbruik daarvan groei bestendig namate die vraag na plantgebaseerde proteïendiëte toeneem.
Die skerp daling in sojaboonpryse is die gevolg van pres. Donald Trump van Amerika se handelsoorlog met China, wat die Amerikaanse uitvoer geknou en pryse met tot 25% vir Amerikaanse boere laat daal het.
GRAFIEK 3 toon die verwagtinge dat die oliesaadvoorraad wêreldwyd gaan bly daal, en dat pryse in dollarwaarde stadig sal styg. Indien Trump en China tot ’n vergelyk kan kom, kan die Amerikaanse sojaboonpryse
vinnig herstel. Intussen is daar ’n sterk vraag na Suid-Amerikaanse sojabone.
Suid-Afrika se oliesaadoeste vir 2019 is heelwat kleiner as die vorige jaar, want die sonneblom- asook die sojaboonoes is deur die droogte geknou. Sojaboonproduksie groei nog sterk en die verwerkingskapasiteit brei uit, maar Suid-Afrika bly ’n netto invoerder van oliekoek (veevoerproteïen) en plantaardige olies (kookolie). Binnelandse pryse is gekoppel aan internasionale pryse.
Internasionaal word verwag die pryse van graan en oliesaad gaan die volgende paar jaar in dollarwaarde stadigaan opwaarts neig. Daarby lyk dit of die rand teenoor die dollar en ander internasionale geldeenhede gaan bly verswak, wat beteken pryse sal wisselvallig bly.