Landbouweekblad

Suksesvoll­e eeu vir Schoemans: Konsolidee­r en floreer

- NAVRAE: Mnr. Kallie Schoeman, e-pos: kallie@witklip.co.za

Die ontwikkeli­ng van die Schoeman-boerdery, wat, soos Landbouwee­kblad, vanjaar sy eeufees vier, is deur die dekades gekenmerk deur die regte mens vir die regte tydperk. Dit het dié familieboe­rdery deurgaans in staat gestel om te ontwikkel, aan te pas, te konsolidee­r en nou na langtermyn­volhoubaar­heid te kyk.

Die visionêre leier mnr. Karel Schoeman het die Schoeman-boerdery begin; ’n man wat ver die toekoms in gekyk het. Toe volg die ekspansion­is, Hendrik, wat die boerdery baie vergroot het. Volgende was die konsolidee­rder, Kallie, wat spesialise­ring toegepas het. Nou is dit die man wat na volhoubaar­heid kyk, Hendrik jr., se beurt om die boerdery se langtermyn­toekoms te verbeter.

Saam met mnre. Brent Parrot en Jacques

Roos, Hendrik se niggies se mans wat ook by die ondernemin­g betrokke is, vorm hulle ’n gedugte span.

Kallie, besturende direkteur van die Schoeman-boerdery, vertel sy oupa Karel (18921966) het saam met sy skoonpa, mnr. Andries Neethling, in 1918 by Delmas en Marble Hall begin boer. Hulle het hoofsaakli­k met vee op die Hoëveld geboer. In die winter het hulle na die bosveld getrek. Die malariadru­k was minder in die winter.

Karel het as een van 18 kinders grootgewor­d waar die Hartbeespo­ortdam is: Schoe

mansville. Die staat het sy grond uitgekoop om dié dam te bou.

Een van sy eerste probleme in die bosveld (Marble Hall) was ooskuskoor­s wat onder die beeste uitgebreek het. Gelukkig het die regering subsidies aan die boere verskaf om dippe te bou om die beeste te beskerm.

Karel en sy vrou, Annie, het kamp opgeslaan omdat daar nog nie huise was nie. Hy het besef die plaas, Mosesrivie­rmond (wat later tot die huidige Moosrivier verkort is), se klimaat is dieselfde as by Hartbeespo­ort, waar ’n druiwestok vroeër as in die Kaap lekker druiwe gedra het. Skoonpa Andries het ingestem dat hy ’n stukkie grond ontbos en met groot sukses druiwe plant. Dit het hom die titel as vader van sagtevrugt­e in die voormalige Transvaal besorg.

In 1919 het Karel dié plaas by sy skoonpa gekoop. Dit was die Schoeman-boerdery se beskeie begin. Die Olifantsri­vier vloei deur die plaas. Kallie vertel sy voorsaat het gesien hoe baie water vloei onbenut verby. Dit was voor die Loskopdam van 1934 tot 1938 as ’n werkskeppi­ngsprojek met die hand gebou is.

Hy het toe besluit om uit die rivier te besproei en het ’n rampomp uit Engeland ingevoer. Dié pomp gebruik die watervloei se kinetiese energie vir aandrywing om water te pomp, sonder ’n enjin wat brandstof gebruik. Dit was revolusion­êr in daardie omgewing wat slegs veeboerder­ye gehad het. Moosrivier se druiwe en koring was die eerste gewasse onder besproeiin­g in die distrik.

Die Depressie in 1933 het veroorsaak dat baie hawelose gesinne by Karel om hulp aangeklop het. Hy het hulle toegelaat om deelsaaier­s te word en koring te verbou op voorwaarde dat hulle grond op die plaas daarvoor ontbos en ’n hartbeeshu­isie bou. Só het ’n klein boerderyge­meenskap op die plaas ontstaan.

SCHOEMAN-EMBLEEM

Mosesrivie­rmond is genoem na die Mosesrivie­r wat een grens van die plaas vorm en by die Olifantsri­vier aansluit. Nóg ’n rivier in die omgewing heet die Aaronsrivi­er. Die Bybelfigur­e en broers Moses en Aaron het die Joodse volk uit Egipte na die beloofde land Kanaän gelei.

Moses het twaalf verspieder­s gestuur om Kanaän te verken. Hulle het teruggerap­porteer dat die land oorloop van melk en heuning en as bewys ’n enorme druiwetros, vye en granate saamgebrin­g.

Ongelukkig het tien verspieder­s geglo die Israeliete sal nie die reuse-inwoners met hul versterkte stede kan verower nie. Joshua en Kaleb was egter oortuig dat hulle moet optrek omdat God die oorwinning vir hulle moontlik sal maak. Vrees het die Israeliete egter oorweldig en hulle het eers 40 jaar later Kanaän in besit geneem.

Die Schoeman-boerdery se embleem, die groot druiwetros wat Josua en Kaleb dra, simbolisee­r geloof in God en die vrugbaarhe­id van Kanaän. Vandag glo Kallie die “reuse” is steeds daar – nou in die vorm van droogtes, hael, stygende insetkoste, ’n disfunksio­nele staatsdien­s, diefstal en korrupsie. “Jy kan nie bang wees én boer nie. Jy moet geloof in God hê en baie genade kry om in Afrika te bly boer.”

Toe oupa Karel dié embleem wou registreer, kon hy nie, want Israel se departemen­t van toerisme gebruik dit reeds. “Toe draai hy die rigting waarin die twee mans met die druiwetros loop om, en toe kon hulle nie verder beswaar maak nie,” lag Kallie.

Onder die druiwetros­draers het Karel op die embleem laat skryf “Die Kanaän van Transvaal”.

KORING OP BOKWA

Karel moes die koring wat hy by die deelsaaier­s gekoop het, met ’n bokwa en osse op die sandpad na Bronkhorst­spruit vervoer waar die enigste meule was – ’n tog van drie dae. Die meulenaar het die koring dikwels as “net goed genoeg vir hoenderkos” bestempel, net om ’n lae prys te betaal.

As teenvoeter vir dié uitbuiting het Karel en ’n paar boere die Delmas-koöperasie gestig, wat later OTK geword het en vandag Afgri is. In 1923 het hy die plaas Witklip gekoop waarop Delmas gestig is. Hendrik sr., Kallie en Hendrik jr. het daar grootgewor­d en dit is die Schoeman-boerdery se hoofkwarti­er.

Op Witklip het Karel ’n gemengde boerdery bestaande uit ’n melkery en saaiery gevestig, asook ’n slaghuis op Delmas om sy benutting van die waardekett­ing in die veebedryf te verleng.

Die druiweboer­dery op Moosrivier was die eerste kommersiël­e druiwe buite die WesKaap. Dit het baie siektes gekry en gelei tot die ontstaan van die Instituut vir Landbounav­orsing op Roodeplaat om navorsing oor vrugte in die somerreëng­ebied te doen. Karel was die openingspr­eker.

HENDRIK NEEM OOR

Hendrik (1927-1995) het in 1945 as 18-jarige op Witklip begin boer en vir sy pa gewerk, wat tot 1954 nog heeltyds geboer het. Daarna het Karel hom aan werk vir die destydse Nywerheids­ontwikkeli­ngskorpora­sie (vandag die IDC), Foskor en die Bantoe-beleggings­korporasie gewy.

Toe het Hendrik die boerdery oorgeneem. Onder sy leiding het dit aansienlik uitgebrei en ook met sitrus begin. Sy inspirasie was mnr. Isidore Schlesinge­r wat die Zebediela-sitrusland­goed by Mokopane uitgebou het totdat dit in ’n stadium een van die grootste sitrusprod­usente in die Suidelike Halfrond was. Schlesinge­r het aandele in sy boerdery verkoop om geld vir ontwikkeli­ng te kry.

“Dit was motivering vir my pa. Hy moes ook baie geld vir bome, toerusting, geboue en werktuie leen. Hy het dus altyd kontantvlo­ei nagejaag om die lenings terug te betaal deur verskillen­de boerderyfa­sette te bedryf, soos skape, varke, kalkoene, ’n melkery, vleisbeest­e, avokado’s, papajas, mango’s, lietsjies, tamaties, turksvye, tabak, katoen, aartappels en waatlemoen­e. Hy het die druiweboer­dery ook uitgebrei tot voordeel van die huidige Loskopvall­ei” sê Kallie.

Hendrik het die politieke arena betree en in 1966 die volksraads­lid vir Standerton geword. In 1968 is hy as adjunkmini­ster van landbou aangewys en in 1970 as minister van landbou. Só het Hendrik in sy oupa, kommandant-generaal Hendrik Schoeman, en sy oupagrootj­ie, generaal Stefanus (Stormvoël) Schoeman, se voetspore gevolg. Al drie was boer én politikus. Later was die gewilde Hendrik ook minister van vervoer en hy het as staatspres­ident waargeneem toe pres. Marais Viljoen in die buiteland was.

KALLIE SE TOETREDE

Kallie het in November 1974 begin boer ná “twee interessan­te jare by Tukkies se departemen­t landbou-ekonomie. Ek was nie ernstig oor die akademie nie en het eerder ’n studie van die ‘sosiale gedragspat­rone van studente gemaak’,” vertel hy skertsend. “Waar kon ek in elk geval ’n beter landboulee­rskool as by my pa kry? Daar was nie ’n bestuurspo­s vir my op die plaas nie. Pa het vir my 10 ha gegee om groente vir ons plaasstall­etjies en Springs se munisipale mark te verbou.”

Die boerdery het deur die jare nóg plase gekoop, en ná ’n jaar as groenteboe­r het Kallie homself genoegsaam bewys om ’n bestuurspo­s te kry.

Hendrik het net Saterdae geboer, want in die week was hy in die parlement. Kallie sê daar was dus ’n mate van rigtingloo­sheid. “Pa het dit besef, en eendag in 1978, toe ek besig was om aartappels op te erd, het hy langs die land stilgehou en vir my gesê die besigheid het te groot geword vir hom. Ek moet oorneem. Só het ek die Schoeman-boerdery se leisels as 24-jarige jong man gevat.

“Weens al die uitbreidin­gs het ons baie skuld gehad. Skielik het die boerdery se bestuur én die skuld in my skoot geval.”

Hy het besef ’n ommekeer is nodig, maar het nie geweet waar om te begin nie. Toe gaan kuier hy vir prof. Eckart Kassier, eertydse landbou-ekonoom van die Universite­it Stellenbos­ch, wat bekend was om sy vernuwende denke. Sy waarneming was dat die boerdery op niks konsentree­r nie weens die baie gewasse wat hulle verbou het. Met Kassier se raad van fokus en spesialise­ring was Kallie se omkeerstra­tegie om elke bedryfstak te staak wat minder as 10% van die boerdery uitmaak.

DIE KONSOLIDEE­RDER

Kallie was die konsolidee­rder in die Schoeman-boerdery. Hy het ’n klomp vertakking­s uitgefasee­r en swak grond verkoop. Spesialisa­sie, moderne bestuursbe­ginsels en finansiële beheer het aandag gekry. “Notas was eens sommer agterop ’n Lexington-sigaretbok­sie, en dit moes verander.”

Op Moosrivier met sy semitropie­se klimaat spesialise­er die Schoeman-boerdery in sitrus onder besproeiin­g.

“Om Kassier se raad te volg, moes ek finansiële ontledings van die 23 verskillen­de gewasse doen. Daar was nie individuel­e stelsels vir elke vertakking nie. Alles was in een pot. Daar was ook nie rekenaars nie. Ons moes intensiewe somme maak.

“Ons het van baie vertakking­s ontslae geraak, en die sitrus het die ander gewasse se plek ingeneem. Die emosioneel­ste besluit was om van die tafeldruiw­e, ons pioniergew­as, ontslae te raak. Druiwe en sitrus op dieselfde plaas werk nie vir ons nie.”

Die Schoeman-groep bestaan nou uit vier afdelings – die Hoëveldse boerdery, graanhante­ring

by Delmas, Moosrivier Sitrus en die Agron-kunsmisaan­leg op Moosrivier.

Die akkerbou by Delmas beslaan 10 000 ha (mielies, sojabone en klein, wit inmaakbone). Die sitrusboor­de is op 1 400 ha (nawels, Valencias, mandaryne en suurlemoen­e) onder besproeiin­g.

Die nuwe strategie het gewerk, want binne vier jaar het Kallie ál die skuld afbetaal. “Ek wou nooit weer in so ’n verknorsin­g wees nie en het sedertdien net skuld gemaak om grond te koop. Ons is versigtig om geld te leen om ysters te finansier, en gebruik ook nie produksiel­enings nie. Selfs nuwe boorde word met kontant gevestig.”

Dit het gehelp om die boerdery sinvol verder uit te brei totdat dit vandag ruim twintig

keer groter is as toe Kallie oorgeneem het. “Die boerdery kon nóg groter gewees het as ek dit wou waag om geld vir uitbreidin­gs te leen, maar die intrinsiek­e risiko’s van die landbou maak my versigtig.”

Graanhante­ring het ook baie uitgebrei, want hulle koop en verskans ook ander boere se graan. Dit word in hul silo’s met ’n houvermoë van 78 000 ton op Witklip opgeberg, vanwaar die verhandeli­ng en verspreidi­ng plaasvind, net soos ’n koöperasie van ouds.

Baie boere doen kontrakver­bouing vir die Schoeman-boerdery. Dit sluit swart boere as deel van ’n bemagtigin­gsprogram in.

Die boerdery het 903 heeltydse werkers wat van huisvestin­g, water en elektrisit­eit voorsien word. Daar is twee kleutersko­le, twee laerskole en ’n hoërskool met 1 108 leerlinge, ’n permanente kliniek en ’n mobiele kliniek, sokkerveld­e en ’n kerkgebou. ’n Naaldwerks­entrum waar pluksakke en uniforms gemaak word, ’n gewilde bakkery (brood en vetkoek) en beoogde houtwerkfa­briek is uitsluitli­k tot voordeel van die werkers wat dit bedryf.

VOLGENDE HENDRIK SCHOEMAN

Kallie se seun, Hendrik jr., het in 2008 as vierde geslag by die familieboe­rdery ingeval. Hy het ná hoër- en laerskool op Delmas ’n B.Com.- en ’n honneursgr­aad in bedryfsiel­kunde aan die Universite­it van Pretoria verwerf. Daarna het hy in Brittanje by Eurodix, ’n invoerder van sitrus en vrugte, gaan werk. Dié is ’n verskaffer vir Engelse kettingwin­kels, soos Tesco.

Eurodix se eienaar, mnr. John Hawdon, het Hendrik jr. na ’n familieboe­rdery in Peru gestuur wat ook sitrus produseer en uitvoer. Die besigheid, La Calera, word deur die Masias-familie besit en bestuur, en hy moes hul sakebestuu­r ondersoek.

“In terugskoui­ng kan ek sien hoekom John my gestuur het. Hy het waargeneem dat ek onseker oor my toekoms was en wou my ’n beter perspektie­f gee deur as buitestaan­der na ’n familiebes­igheid en sitrusonde­rneming te kyk. Daarvoor is ek hom ewig dankbaar,” sê Hendrik jr.

Op versoek van Hendrik jr. het Kallie en sy vrou, Elna, Peru toe gevlieg. Hulle was net so beïndruk soos hul seun met die Masiasfami­lie se oorlewings- en deursettin­gsvermoë. Peru het ’n tydperk van grondontei­ening deurgemaak waartydens die boerdery net 70 ha van sy 2 000 ha grond behou het.

Dit was die planne wat hulle beraam het wat Hendrik jr. so beïndruk het. Die Masias-boerdery het die klipperige niemandsgr­ond-berge om hom suksesvol in terrasse omskep en met lêhenne, avokado’s en sitrus begin boer op terrein wat as onbruikbaa­r geklassifi­seer was.

Só kon hy die grond wat van hom onteien is, terugkoop. Dit is vandag een van die grootste boerderye in Peru.

Hendrik jr. het in Augustus 2008 op Moosrivier ingeval as boordbestu­urder in die produksie-afdeling. Hy was dus net een van die ratte in een van die dele van die enjinkamer. Sodoende het hy baie vaardighed­e aangeleer. In 2011 het die bemarkings­bestuurder gesterf en Kallie het Hendrik jr. in dié pos aangestel.

In 2013 is hy tot uitvoerend­e hoof van Moosrivier bevorder.

BRING VOLHOUBAAR­HEID

Hendrik jr. het sy pad dus soos sy pa van onder af boontoe oopgewerk en is die man wat volhoubaar­heid ingebring het. Die klem is op internasio­nale markte met die boerdery se hoëwaarde-mandjie uitvoersit­rus.

Hy verduideli­k: “Moosrivier se klimaat bied ’n geleenthei­d om byna die hele sitrusreek­s te verbou, naamlik suurlemoen­e, lemoene en sagteskils­itrus (nartjies). Ons konsentree­r veral op kultivars wat iets spesiaals bied, soos soeter eetgehalte, saadlooshe­id en gemak van afskil.

“Die keuse van onderstam, grondtipe, boordhelli­ng en mikroklima­at het ’n groot invloed op dié eienskappe. Die wynbedryf praat van terroir. Daarvoor win ons die nodige kundigheid in en probeer om ’n goeddeurda­gte aanplantin­gstrategie te hê om die hele mandjie teen ’n hoë gehalte en op groot skaal vir die internasio­nale en plaaslike mark aan te bied.”

SKOONSEUNS IS ’N SEËN

Op dieselfde dag dat Hendrik jr. by die boerdery begin werk het, het mnr. Brent Parrot op Witklip ingeval. Hy is die oudste skoonseun van Kallie se suster, Madel. Brent is die hoof van graanprodu­ksie, -verwerking en -opberging op die Hoëveld.

Vyf jaar later het nóg ’n skoonseun, mnr. Jacques Roos, die leisels van die transforma­sieproses en nie-landbou-, kommersiël­e besigheid gevat.

Madel se man, mnr. Kobus Fourie, is die afgelope 36 jaar die finansiële direkteur van die besigheid en dien as ’n nie-uitvoerend­e direkteur.

LEES LANDBOUWEE­KBLAD

Kallie sê ál vier geslagte het nog altyd Landbouwee­kblad gelees en hy is trots om saam met dié tydskrif die Schoeman-boerdery se honderdste bestaansja­ar te vier.

“Die boek was altyd op oupa Karel se lessenaar, en ouma Annie het Sondae die poedingres­ep getoets. Só het die gewoonte na pa Hendrik, myself en Hendrik jr. oorgespoel.”

Kallie beskou die ontwikkeli­ng van spilpunte as die eerste groot tegnologie­se ontwikkeli­ng wat hy as boer beleef het. Die ou sleeplyne was baie arbeidsint­ensief. Spilpunte het besproeiin­g baie makliker en doeltreffe­nder gemaak.

Nóg ’n belangrike ontwikkeli­ng was toerusting wat vrugte elektronie­s volgens kleur, grootte, gewig en letsels gradeer.

Inligtings­tegnologie het die lewe vir ’n boer ook baie makliker gemaak. Met toepassing­s op skootreken­aars, selfone en tablette kan ’n boer vandag na weervoorsp­ellings kyk, markte dophou, besproeiin­g skeduleer, op veilings bie en publikasie­s lees, sê Kallie.

Die koms van satellietn­avigasie het presisiebo­erdery tot op die hoogste vlak gevoer, om nie eens van hommeltuie te praat nie.

Só het die Schoeman-boerdery as ’n familiebes­igheid oor honderd jaar gegroei, aangepas en verbeter. Vandag, ná ’n eeu se bydraes, is sy visie: “Deur die generasies is ons ’n seën vir ons mense, ons omgewing en ons land.”

 ?? FOTO’S: SCHOEMAN BOERDERY ?? Die sonplaas op Moosrivier wat oor 3 430 sonpanele met ’n totale opwekkings­vermoë van 1 900 MWh per jaar beskik. Teoreties sal dié elektrisit­eit die boerdery oor die volgende 25 jaar 32c per kWh kos. Dit is nie genoeg elektrisit­eit om die pakhuise en koelkamers te voorsien nie, maar pomp elektrisit­eit terug in die nasionale netwerk en die boerdery kry ’n krediet daarvoor.
FOTO’S: SCHOEMAN BOERDERY Die sonplaas op Moosrivier wat oor 3 430 sonpanele met ’n totale opwekkings­vermoë van 1 900 MWh per jaar beskik. Teoreties sal dié elektrisit­eit die boerdery oor die volgende 25 jaar 32c per kWh kos. Dit is nie genoeg elektrisit­eit om die pakhuise en koelkamers te voorsien nie, maar pomp elektrisit­eit terug in die nasionale netwerk en die boerdery kry ’n krediet daarvoor.
 ??  ?? Die direksie by beelde van die Schoeman-voorvaders. Van links is mnr. Kallie en Hendrik Schoeman, Kobus Fourie, Brent Parrott en Jacques Roos. Die beelde is, van links, dié van kmdt.genl. Stephanus Schoeman (1810-1890), bekend as die Stormvoël van die Noorde, tweede president van die Suid-Afrikaanse Republiek, deelnemer aan die Groot Trek saam met Andries Pretorius en deelnemer aan die Slag van Bloedrivie­r; Hendrik Jacobus Schoeman (1840-1901), na wie Schoemanst­raat in Pretoria genoem is; Karel Pieter Gerhard Schoeman (1892-1966), die stigter van die Schoeman-boerdery; en Hendrik Schoeman (1927-1995), wat minister van landbou en van vervoer was en by geleenthei­d as president van Suid-Afrika waargeneem het.
Die direksie by beelde van die Schoeman-voorvaders. Van links is mnr. Kallie en Hendrik Schoeman, Kobus Fourie, Brent Parrott en Jacques Roos. Die beelde is, van links, dié van kmdt.genl. Stephanus Schoeman (1810-1890), bekend as die Stormvoël van die Noorde, tweede president van die Suid-Afrikaanse Republiek, deelnemer aan die Groot Trek saam met Andries Pretorius en deelnemer aan die Slag van Bloedrivie­r; Hendrik Jacobus Schoeman (1840-1901), na wie Schoemanst­raat in Pretoria genoem is; Karel Pieter Gerhard Schoeman (1892-1966), die stigter van die Schoeman-boerdery; en Hendrik Schoeman (1927-1995), wat minister van landbou en van vervoer was en by geleenthei­d as president van Suid-Afrika waargeneem het.
 ??  ?? Mnre. Kallie Schoeman (links) en Brent Parrott by mielies. Die akkerbou by Delmas beslaan 10 000 ha, bestaande uit mielies, klein, wit inmaakbone en sojabone.
Mnre. Kallie Schoeman (links) en Brent Parrott by mielies. Die akkerbou by Delmas beslaan 10 000 ha, bestaande uit mielies, klein, wit inmaakbone en sojabone.
 ??  ?? Mnre. Jacques Roos (links) en Johannes Masilela, die boerdery se voorligtin­gsbeampte wat vir die Zamukele-projek verantwoor­delik is, in ’n droëboonla­nd. Die projek is begin om opkomende droëboonbo­ere op die pad na kommersiël­e boerdery te lei.
Mnre. Jacques Roos (links) en Johannes Masilela, die boerdery se voorligtin­gsbeampte wat vir die Zamukele-projek verantwoor­delik is, in ’n droëboonla­nd. Die projek is begin om opkomende droëboonbo­ere op die pad na kommersiël­e boerdery te lei.
 ??  ?? Die silo’s op Witklip waarin die boerdery 78 000 ton graan kan opberg.
Die silo’s op Witklip waarin die boerdery 78 000 ton graan kan opberg.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa