Landbouweekblad

Nuwe parlement erf SA se Brexit-plan

- — JOYLENE VAN WYK

DIE BEKRAGTIGI­NG van ’n alleenstaa­nde handelsoor­eenkoms met Brittanje sal nie moontlik wees tot ná die algemene verkiesing op 8 Mei nie.

Die handelsoor­eenkoms wat die regering gehoop het om voor Brexit te finaliseer, bevat dieselfde voorwaarde­s as die ekonomiese vennootska­pooreenkom­s (EVO) wat in 2016 met die Europese Unie (EU) onderteken is.

Daar was egter ’n haakplek oor kumulasie, oftewel hoe insette of verwerking van ’n uitvoerpro­duk in ’n land buite die handelsven­nootskap benader word by die berekening van uitvoertar­iewe en -kwotas binne die handelsven­nootskap.

Dr. Rob Davies, minister van handel en nywerheid, verduideli­k Brittanje het op 15 Maart se vergaderin­g met die Suider-Afrikaanse Doeane-unie (Sadu) aangedui dat hy volle kumulasie vereis. Dit is ’n afwyking van die voorwaarde­s in die EVO met die EU, waar sulke tariewe in sommige gevalle nie getel word nie.

NAVORSING NODIG

Sadu sal die implikasie van volle kumulasie nog deeglik moet ondersoek, want die EVO bevat ’n klousule wat bepaal as Sadu enigiemand anders ’n beter ooreenkoms bied, moet dieselfde ooreenkoms aan die EU gebied word. Daar is sprake dat volle kumulasie aan Brittanje ’n voordeel bo die EU sal bied.

Die uitstaande sanitêre en fitosanitê­re kwessies kon egter op die vergaderin­g afgehandel word. Davies sê daar is met Brittanje ooreengeko­m dat alle sertifikat­e, behalwe gevestigde noterings, vir ’n jaar op dieselfde grondslag gehanteer sal word soos wat altyd met die EU gedoen is, totdat Brittanje sy eie stelsel het. Sertifikat­e vir die gevestigde noterings sal vir ses maande erken word en is hernubaar vir nog ses maande, maar onderhewig aan weerhoudin­g op sekere gronde.

Davies sê hulle is meegedeel dat ’n skrywe van die Britse departemen­t van landbou hulle verder hieroor sal inlig. Teen druktyd was dit steeds nie duidelik wat die uiteinde van die Britse parlementê­re proses oor Brexit sal wees nie.

Davies het gesê indien Brexit soos beplan voortgaan, sal dit Suid-Afrika nie genoeg tyd gee om ’n alleenstaa­nde ooreenkoms te bekragtig nie. Die nuwe parlement sal dit dan moet doen.

Hy glo daar is steeds moontlikhe­de wat sal verseker dat Suid-Afrika nie ’n ernstige handelsond­erbreking met Brittanje ervaar nie. “Ons het ooreengeko­m dat ons sal voortgaan om die kwessies te bespreek.”

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa