Winterreën sal nie 2018-vlakke haal
IN dié stadium dui langtermynweervoorspellings daarop dat die Wes-Kaap, en in besonder die Swartland en selfs die Overberg, vanjaar nie soveel reën gaan kry as in 2018 nie, maar wel meer as in die besonder droë 2017.
“Ons gaan waarskynlik iets tussen 2018 en 2017 beleef wat reënval in die provinsie betref. Vanjaar sal waarskynlik nie ’n besonder swak jaar vir die landbou in die Wes-Kaap wees nie,” het mnr. Guillaume (Giel) Hugo, Overbergse weervoorspeller, op die Skog-voorsaaidag op die Langgewens-proefplaas buite Moorreesburg gesê.
Hy het gesê weer- en reënpatrone word deur middel van verskillende metodes en modelle voorspel, waaronder statistiese en wiskundige modelle. As na die reënvalstatistieke van die afgelope 140 jaar gekyk word, blyk dit dat die provinsie besig is om uit ’n natter 11 jaar-siklus na ’n droër siklus te beweeg.
VERDERSUID
Die aanduidings is dat die provinsie vanjaar nie dieselfde hoeveelheid reën as verlede jaar gaan kry nie. Koue fronte wat reën na Afrika bring, is tot dusver verder suid as verlede jaar weens die hoëdrukstelsels wat in die Indiese en Atlantiese
Oseaan aanwesig is. Dit kan beteken dat droër toestande van Mei tot Augustus kan voorkom.
Dit blyk uit die modelle dat die noordelike dele van die Swartland droër kan wees as die suidelike dele van die streek. “Die moontlikheid bestaan dat daar aan die einde van 2019 minder water in die Wes-Kaapse damme kan wees as aan die einde van 2018.”
SOMERSAAIGEBIEDE
Dieselfde weerstelsels wat swaar reënstorms oor dele van Mosambiek, Zimbabwe, Malawi en Tanzanië veroorsaak het, gaan waarskynlik reën weghou van die westelike saaigebiede in die Vrystaat, en dus die risiko van droogteskade aan laat aangeplante mielies verhoog.
Mnr. Johan van den Berg, klimatoloog by Santam Landbou, sê laagdrukstelsels, soos sikloon Idia, wat ook tot ’n onderbreking van elektrisiteit aan Suid-Afrika vanaf die Cahora Bassa-dam gelei het, “het gewoonlik ramptoestande aan albei kante van die spektrum tot gevolg. Aan die een kant is daar skade van oorstromings en aan die ander kant is daar droogterampe.”
Teen druktyd het weermodelle aangedui die toestande kan begin April effens verbeter.
Volgens dr. Werner Rossouw, handelaar en direkteur van Silostrat, beloop die reën wat tydens sikloon Idia oor Zimbabwe geval het, meer as 420 mm. Dit is meer as wat Silostrat se depots by Hoopstad en Hertzogville sáám gekry het vanaf 1 September verlede jaar tot 16 Maart vanjaar.
Die reënval by Silostrat se depots in die Vrystaat in dié tyd was sowat die helfte tot ’n derde minder as die gemiddelde reënval oor vyf jaar. –