Elitekoei: Bonsmara
Die stoetery waaruit 2019 se Elite-Bonsmarakoei kom, streef na ’n lae geboortegewig en ’n hoë speengewig, ’n mikpunt waarmee die Hartzenbergs goed vorder.
Byna 40 jaar nadat die Bonsmarastoetery Denand met behulp van die legendariese veekenner en rasvaarder dr. Jan Bonsma begin en ontwikkel is, is die Hartzenberg-familie onverpoos besig om hul teelbeleid te verfyn, sê die eienaar, dr. Ferdi Hartzenberg. Sy Elitekoei, FHK 07/120, tel onder die Elitekoeie wat verskeie rasse gaan verteenwoordig in Landbouweekblad en SA Stamboek se Elite-platinumkoeikompetisie vir 2019. Die algehele wenner word op 29 April tydens die Bloemskou aangewys.
Hartzenberg sê sy twee seuns, Ferdinand en De Wet, is in beheer van die boerdery op die plaas Kleinuitschot naby Sannieshof, waar hul pa en oupa, ook Ferdinand, begin boer het. Dit beslaan 1 679 ha. Toe hul oupa op 7 September 1920 daar begin boer het, was Kleinuitschot net 256 ha groot.
Hulle is ten volle in beheer van alle bedrywighede op dié plaas, wat hoofsaaklik ’n saaiplaas is. Dewet bestuur ook die Bonsmaras en Ferdinand die Ile de France-skaapboerdery.
Hartzenberg sê “om nie op die seuns se tone te trap nie”, boer hy op ’n klipperige gedeelte van die plaas Houthaalbomen van 1 032 ha net buite Lichtenburg met ’n afsonderlike Bonsmarakudde. Dieselfde bulle word in albei kuddes gebruik. Die Elitekoei is op Houthaalbomen gebore en later na Kleinuitschot verskuif. “Ek is dus ’n miniboer met 150 Bonsmarakoeie. Van my tydgenote wat saam met my studeer het, is tans megaboere,” sê hy skertsend.
STOETERY IN 1981 BEGIN
“Prof. Bonsma, onder wie ek gestudeer het, het altyd gesê speengewig is die belangrikste gewig. Gevolglik het ek voluit vir speengewig geteel. Omdat speengewig en geboortegewig positief gekorreleer is, het die geboortegewig mettertyd toegeneem.
“Om dié probleem te bekamp, het ek ongeveer 10-12 jaar gelede ’n teelbeleid begin volg wat daarop gemik is om kalwers te teel wat gemiddeld 35 kg met geboorte weeg en 300 kg met speentyd, en wat vrugbaar en vroegryp is,” sê hy.
Meer as 50% van die verse kalf reeds op die ouderdom van twee jaar.
Van sy medetelers het vir hom gesê dit kan maklik 50 jaar duur om dié teeldoelwitte te bereik. Hartzenberg sê sy liefde vir die Bonsmara het oor die jare van krag tot krag gegaan. Op 83-jarige ouderdom hoop hy steeds om sy doelwit te bereik. TABEL 1 en TABEL 2 (slegs Houthaalbomen se gegewens) dui aan hoe ver hulle al gevorder het.
TWEE KALFTYE
Die beeste bewei in die somer op Houthaalbomen klip- of suurveld met toegang tot ’n fosfaatlek. In die winter loop hulle op mieliereste, waar hulle ’n klipveld-winterlek kry.
Die boerdery volg ’n vierkampstelsel waarin die beeste elke twee weke verskuif word. Die veld bestaan hoofsaaklik uit rooiherfsgras (Schizachyrium sanguineum), koperdraadgras (Elionurus muticus), lemoengras (Cymbopogon excavatus) en terpentyngras (Cymbopogon plurinodis).
Hulle het twee kalftye – somer en winter. Eersgenoemde word in twee groepe verdeel.
FHK 07/120 is 12 jaar oud en het al nege kalwers gehad. Haar tussenkalfperiode is ’n uitstekende 362 dae. Sy is ’n goed aangepaste koei met goeie vroulike en moedereienskappe. Sy het die eerste keer op 31 maande gekalf en daarna elke jaar.