Landbouweekblad

Die vreemde tjek (Jou storie)

Hakkie Auret en Jasman Engelbrech­t was nie op hul bek geval nie. Maar die dag toe Jasman vir Hakkie ’n vreemde tjek uitskryf, het Hakkie dit amper nie oorleef nie.

- Gert Sarrisam is Gert Engelbrech­t wat op die plaas Sarrisam buite Garies boer. Talle boeke en kontreisto­ries uit sy pen het al die lig gesien. Stuur e-pos aan sarrisam@telkomsa. net of bel 027 581 1021 om ’n boek te bestel.

Hakkie was ’n man wat sy boerdery met die minste koste moontlik

bedryf het. Hy het nie sommer onnodig geld uitgegee nie. Hy was eerlik en reguit, en jy moes nie draaie met hom loop nie, anders sou jy met sy opvlieënde humeur te doen kry.

Jasman het langs die Groenrivie­r geboer en het in die vroeë 1960’s as vleisagent vir Karoo Vleisbeurs begin werk. ’n Skaap het hy geken. Hy was glad, skerp van verstand en het goeie mensekenni­s gehad. Oor die jare heen het hy letterlik duisende kilometer afgelê, en baie oggende het dit vir hom eers by Vioolsdrif lig geword. In die begin het hy gesukkel om die boere se vertroue te wen, maar hierdie werk het hy later meesterlik gedoen.

Hakkie was een van dié wat hom al sy dae gegee het. Hulle het mekaar altyd soos twee flou osse gegaffel as hulle bymekaarge­kom het en het mekaar soms ook geniepsig met die tong bygekom. Jasman het kamtig altyd Hakkie se vrou, Sannie, jammer gekry omdat sy met so ’n “dierasie” van ’n man opgeskeep sit. Hakkie het kamma weer Jasman se vrou, Enna, jammer gekry, want sy moes weer “sy foute en liegte toesmeer”, en “as dit nie vir haar was nie, sou hy nie ’n enkele klou by die boere kry nie”.

Die grootste bres wat Jasman vir die boere geslaan het, was om te reël dat hul diere met vragmotors na die Maitlandse abattoir vervoer kan word. Vroeër jare moes die boere met hul diere na Bitterfont­ein se stasie trek en is die diere daar in trokke op die trein gelaai. Dit was ’n lang en vermoeiend­e trek en die diere het baie kondisie verloor. Nou is hul diere binne twee dae geslag en het hulle die uitslae per telefoon ontvang.

SLIM VERKOOPPLA­N

Met die droogte van 1968 was die veeboere van Namakwalan­d op hul knieë, want hul lammers was maer en klein en kon nie bemark word nie. Jasman was teen hierdie tyd al ’n “gerekende” agent, en die meeste boere het geglo hy sal vir hulle ’n plan maak en die beste pryse beding.

Só het hy een môre vroeg by Hakkie op Driekop aangekom en vertel van ’n man in Suidwes wat ooie met lammers soek, en hy dink dis die beste manier om vanjaar te verkoop. “Jong, Jasman, het die man geld? Betaal hy kontant, of hoe? Is dit ’n seker storie?” het Hakkie hom met vrae gepeper. “Jasman, ek vertrou die affêre nie – as ek verkoop, is die voorwaarde dat jy my self betaal.”

Só spreek hulle af dat Hakkie sy skaap bymekaar moet maak en dat die man 400 ooie met lammers sal vat. “Jy vrek mos oor geld, maar R15 vir ’n ooi met ’n lam is ’n uitgeneukt­e prys.”

Hakkie knik, en toe hulle groet, waarsku hy: “Onthou, Jasman, ek vat nie ’n ander man se tjek nie.”

Oor hierdie transaksie het Hakkie snags rondgerol en met baie mense gepraat en gewonder of hy die regte ding doen. Hierdie verkoop was sy enigste inkomste vir die jaar, en dit moes nie deur die mat val nie.

Hakkie wis dat dit nie ’n grap is om in Driekop se “boskaas” vee bymekaar te maak nie, maar gelukkig het Jasman hom genoeg tyd gegee. Hy en Abram het elke dag ’n klompie

skape gaan haal en seker gemaak dat elke ooi sy lam het, want hy wou die koper eerlik behandel. Jasman en Hakkie het byna elke aand oor die telefoon gesels en die besigheid bepraat. Só is twee vragmotors bestel.

SKAAPLAAI

Voordagmôr­e het Jasman met sy Datsun-bakkie ’n paar manne op Molsvlei gaan oplaai, en toe die dag breek, hou hy voor Driekop se huis stil. Hulle het koffie gedrink en gewag dat dit moes lig word. Hakkie was ’n haastige man, en toe hulle kon sien, het hulle die skape kraal toe gebring en getel om seker te maak dat die getal reg was voor hulle begin laai. Hulle het die ram wat die nag deurgekrui­p het, uitgevang en aan sy horings agter die Land Rover se sleepstang vasgemaak.

Hakkie het nie ’n laaibank gehad nie, want dit kos geld. Toe die eerste lorrie by die kraal instoot, val dit in die sand vas. Die lorrie is toe op ’n geskikte plek getrek, maar nou was dit ver van die kraal se hek en het die groot gesukkel begin.

Hakkie het soos ’n generaal bevele geskree dat hulle mooi moes werk met die skape. Die kraal was in ’n swak toestand, en oral waar die wilde skape wou oorspring, is ’n baadjie of hemp opgehang.

Jasman het gespot dat party van die manne later nog net in hul onderbroek­e was. Hakkie was ’n man met ’n harde, skril stem en het so baie gepraat en geskel dat hy later hees was. Die stof het gedraai soos die werkers gesukkel het om die diere te vang, aan te sleep en dan op te stoot na die boonste dek toe.

RAM OP SPOED

Toe hulle die laaste paar skape in die hoek van die kraal vaskeer, spring ’n lam verby ’n wapperende hemp oor die heining en hardloop weg. “Spring op!” skrou Hakkie vir Abram toe hy bakkie toe draf om die lam te gaan keer. Halsoorkop trek hy met ’n stink spoed weg – die ram vergete. Toe Hakkie met ’n wye draai voor om die lam jaag, swiep die ram soos ’n wafferse regtervleu­el by hom verby en slaan bollemakie­sie. Hakkie skop verward briek, en Abram is byna oor die kajuit. Toe hy uitspring, skrou Hakkie: “Hoekom het jy nie jou bleddie bek oopgemaak nie?!”

Abram het hom uitdrukkin­gloos aangegluur. Met die oplaai van die gekneusde ram het die lam tussen die bosse verdwyn.

Toe die arme werkers pootuit en asvaal van die stof laat agtermidda­g die laaste klap toeslaan, het net hul oë nog geblink. Die dag het ál hul kragte getap. Dan het hulle ook nog hul kwota slegsê deur die dag gehad, veral toe ’n ooi se been gebreek en sy keelaf gesny moes word. In ’n stofwolk het die laaste lorrie vertrek.

BOEKE OPMAAK

Stadig het twee moeë manne bakkie toe gestap om af te reken. Hulle het in die skuilte van die bakkie gaan sit en Jasman het ’n sigaret opgesteek. “Jy’s reg, Hakkie, hier was ’n ooi en lam te veel. So, dit is op die kop 400.”

Hy het agter op die Peter Stuyvesant­boksie die som bereken en die bedrag vir Hakkie gewys. Dié het instemmend geknik, want hy was nie in die stemming vir korswil of om nog oor die bedrag te redeneer nie.

Ewe kalm het Jasman die grond voor hom met sy hand gelyk gevee. “Ou Hakkie, hier’t vemôre ’n klein foutjie gekom. Ek het my tjekboek by die huis vergeet.”

Dit was asof ’n skoot koue water Hakkie in sy gesig tref. Hy’t opgespring en met ’n hees stem uitgeroep: “Nee, jirre, Jasman, moenie dít vir my sê nie! Wat van my skaap?!” en nog ’n paar kragwoorde geuiter om sy teleurstel­ling by Jasman te laat insink.

“Só kan jy wragtig nie met my maak nie! Jy’s mos besig om my te bedonner. Ek gaan stop nou die lorries, want as hulle eers oor die Grootrivie­r is, dan het ek mos niks! Ek het hoeka van die begin af nie die besigheid vertrou nie. Weet jy hoe het ek die afgelope paar dae in die boskaas gesukkel om die skaap bymekaar te maak en te sorg dat elke ooi sy lam het? En nou doen jy dit aan my!”

“Hakkie, wag eers man,” en Jasman trek hom aan sy baadjiemou af na waar hy gesit het. “Sit eers, laat ek nou hier vir jou skryf,” en wys na die grond. Ewe kalm begin hy om ’n tjek met sy krom voorvinger op die grond uit te skryf, en teken plegtig sy naam onderaan.

Dis toe dat Hakkie ontplof. “Wat de hel meen dit as die wind dit dood waai? Wat se bewys het ek dan, hê, Jasman? Dis nie soos ons gepraat het nie. Wat kan ek maak met ’n bleddie tjek wat op die grond uitgeskryf is?”

Om tyd te wen, gee Jasman nog ’n trekkie aan sy sigaret. “Hakkie, kom ons ry eers huis toe laat ons oor die affêre praat, man.”

In Hakkie se binneste kook dit, maar Jasman sit en suig aan sy Peter Stuyvesant en hy tik kort-kort die as met sy voorvinger af. Hy probeer planne maak om hierdie plofbare situasie te ontlont. Toe hulle die huis nader, skep Jasman moed geskep, want Sannie kon hom dalk help om Hakkie af te koel.

Terwyl hulle koffie drink, het Hakkie oorgeborre­l, alles vir Sannie vertel en na haar gekyk vir hulp, maar sy het net geglimlag en niks gesê nie. Jasman het rustig gerook en sy koffie gedrink, terwyl Hakkie die een dreigement ná die ander na hom geslinger en hom selfs met die tronk gedreig het.

Toe Jasman groet, sê hy: “Sannie, dus gee ek vir jóú alle geld van die skaap, want Hakkie vertrou my nie. Jy sôre dat hy nie ’n sent daarvan kry nie, sodat jy ook ’n slag kan voel hoe smaak geld in jou hande!”

“Jasman, loop bars! Was dit nie vir Enna nie, was jy lankal in die tronk! Jy sal de barste haal as ek nie my geld kry nie!” het Hakkie agter die Datsun aan geskrou.

SOEK RAAD

Die besigheid het aan Hakkie gevreet en hy moes met iemand daaroor praat. Oor die jare heen was Corneels sy mentor. Hy het telefoon toe gestap en rukkerig ’n korte en drie langes gelui. Toe hy sy storie ’n paar keer herhaal het, het Corneels gevra: “Hakkie, Jasman doen al soveel jare met ons besigheid. Vir wie het hy al ooit met geld verneuk? So, wag maar, alles sal regkom.”

’n Rukkie later het hy vir Theunis Apie, ook ’n buurman, gebel, want dié ding kon hy nie binnehou nie. Maar Theunis is ’n platjie en vertel dat Jasman by hom aangery het. “Nee, hy sê hy het jou lekker gevang en wil kyk hoe sterk jou hart is, want as jy nie vannag van beneuksgei­t dood nie, sal Sannie ongelukkig nog lank met jou opgeskeep sit!”

Hakkie het weer oor alles nagedink en besef dat die tjek op die grond sy enigste bewys was. Hy het ’n ou sinkbad op die geskrifte gaan omkeer, sodat dit bewaar kon bly indien Jasman nie sy woord gestand sou doen nie.

Hakkie het die heelnag rondgerol. Om te dink hy kan ál sy geld verloor! Met die eerste hoenderkra­ai het hy opgestaan, telefoon toe gestap en die slinger ’n paar sekondes lank gedraai. Toe Jan Twak by Garies se sentrale vakerig antwoord, sê hy kortaf: “Gee vir my Witklipdri­f een-drie-vier-nul.”

Enna het onmiddelli­k geantwoord. “Enna, waar’s Jasman?”

“Hakkie, hy’s vanoggend twee-uur Suidwes toe. Maar Hakkie, ek weet waaroor jy lui. Ek en Jasman het gisteraand klaar gepraat. Jy kan Vrydagmôre nege-uur die bank bel, en jou geld sal inbetaal wees.”

Ewe verleë het Hakkie met die gehoorstuk in sy hand bly staan nadat Enna afgelui het.

Laat Vrydagaand toe Jasman by die huis kom, vertel Enna: “Die môre knap nadat jy weg is, het Hakkie oor sy geld gelui.”

Jasman glimlag. “Ek moes vir tyd speel tot die koper my eers betaal het!”

‘Wat kan ek maak met ’n bleddie tjek wat op die grond uitgeskryf is?’

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa