Hart tot hart
Onlangs lees ek in ’n dagblad ’n gebed deur ’n boervrou van Sutherland. Dit het my diep aan die hart gegryp om te sien hoe sy haar hart met kinderlike eenvoud en opregtheid uitstort voor die Here.
Sy skets ’n prentjie van die gevolge en ervaring van ’n lang en voortdurende droogte. Mense, diere en plante kry swaar en die verwagting en gebede bring herhalende teleurstelling. Wat tussen die lyne gelees kan word, maak die probleem net soveel groter. Nou moet ’n mens versigtig wees dat jy nie méér tussen die lyne lees as wat die bidder bedoel het nie. Tog het dit vir my gevoel of daar tussen die lyne ’n stem eerbiedig uitroep: “Waar is U dan, Here? Hoor U dan nie ons pleitgeroep nie?”
Persoonlik kan ek my met opregtheid vereenselwig met sulke gebede. Ek het mos self op ’n plaas grootgeword en later op die platteland, waar ek gewerk het, die gemoedspyn ervaar van mense
– mý mense en mý land wat soms so onherbergsaam kan word.
Dis in sulke tye wanneer die vraag by ’n mens opkom: Is daar tog ook wins te maak uit pyn en swaarkry? ’n Mens moet versigtig wees om nie swaarkry as God se straf te beskou nie. Swaarkry is so dikwels God se leerskool waarin Hy Sy kinders geestelik laat groei. As jy swaarkry reg bestuur, dan bring dit diepte in jou godsdiens. Voorspoed het al meer mense laat struikel as swaarkry.
Ek dink weer aan Boervrou se innige gebed en wonder stilweg of dit nie gevorm is in die droë grond van swaarkry nie.
As jy swaarkry reg bestuur, dan bring dit diepte in jou godsdiens.