Landbouweekblad

NÁ DIE REËN

- — CHRIS BURGESS

Ten minste was daar toe ’n bietjie reën. Daarvoor is ’n mens innig dankbaar. In KwaZuluNat­al en dele van die Tsitsikamm­a was daar swaar neerslae, maar elders was dit ongelukkig nie so wydverspre­id of swaar soos gehoop is nie (toe die rubriek geskryf is). In die ooste, waar die planttyd min raak, was daar op plekke darem genoeg om te begin plant.

Op Ceres, waar ek voor ’n stampvol saal boere sit om die gesprek te lei op die grondsimpo­sium wat LBW saam met die Witzenberg-PALSinisia­tief aanbied, kom dié WhatsApp-boodskap van ’n vriend: “Ry deur jou wêreld (in die Noordoos-Kaap) op pad na die skoonfamil­ie op die plaas (in Griekwalan­d-Oos). Lekker nat.”

Later vertel my pa Sterkstroo­m het nie eens ’n druppel reën gehad nie. Maar jy bly dankbaar vir dit wat wel geval het.

Die simposium verloop goed. Die stories van wit en swart boere wat mekaar vind en vennootska­ppe aangaan om die bedryf uit te bou en nuwe welvaart te skep, pleks daarvan om bestaande bates eenvoudig te herverdeel, is in die gees van die Springbokk­e se Wêreldbeke­roorwinnin­g. Ja, Suid-Afrikaners kan van wêreldklas wees as ons saamwerk. Ons moet onsself net die kans gun.

Dit is ook gepas dat Pieter-Steph du Toit, 2019 se Wêreldspel­er van die Jaar, ook in die gehoor sit saam met sy pa, ’n boer van Malmesbury. Elke keer as die Springbokk­e genoem word, is daar wilde applous. Ook in die skare van oor die 400 mense sit Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervo­rming en landelike ontwikkeli­ng. Van vroegoggen­d tot laatmiddag luister sy aandagtig en neem notas. Dit is iets wat ek nog nooit gesien het nie. Laat die middag gee sy ’n opsomming. Sy praat oor die droogte, plaasmoord­e en die hoop wat die dag haar gee. Die boere gee haar staande applous.

Daar is ongetwyfel­d ’n nuwe gesindheid onder Suid-Afrika se politici te bespeur. Onlangs hoor ons Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededingin­g, van alle mense, het gesê die huidige voorskrift­e oor swart ekonomiese bemagtigin­g is te duur en ontmoedig beleggings, en moet hersien word. Nou word daar aan meer sakevriend­elike voorstelle gewerk. Wie sou dit ooit kon sê?

Maar ons moet verby die praat kom. Minister Didiza het die ondersteun­ing van die landbou, maar die staat moet ook sy werk doen, of, miskien beter gestel, die staat se werk moet ook gedoen word. Wanneer staatsveea­rtse nie bloedmonst­ers wil neem om die bek-enklouseer­uitbreking in die Vhembe-distrik te monitor nie omdat hulle nie oortyd betaal word nie, laat die private sektor toe om te kom help — die werk moet tog gedoen word. As die staat nie die beweging van diere kan beheer nie, soos die rede vir die mees onlangse uitbreking blyk te wees, laat die private sektor weet, en beraam saam ’n plan. Die doel heilig tog die middele. Daar is ’n hele bedryf hier ter sprake.

Wat beslis nié die oplossing is nie, is om dit alles boere se probleem te maak, soos om veilings te verbied omdat die staat nie padversper­rings kan beman nie!

Dieselfde geld die droogte. Die tyd vir praatjies is lankal reeds verby. Boere se geld en planne is op, en namate die droogte se spoor uitkring, is al hoe minder boere in staat om mekaar te help. Dit is nou ’n volwaardig­e nasionale krisis. Alles moet nou in die stryd gewerp word om boere op hul plase te hou.

Anders, wanneer die reën eendag kom, gaan daar niks oor wees om die bedryf mee uit te bou nie. Dan was die hoopvolle simposium op Ceres buitendien vergeefs.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa