‘WAAR IS SA SE DROOGTEPLAN?’
DIE Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap is deur pres. Cyril Ramaphosa aangemoedig om omvattende meerjarige aksieplanne in werking te stel om landbouproduksie te verhoog en voedselsekerheid te verbeter, ondanks herhaalde droogtes.
“Maar waar is Suid-Afrika se droogteplan?”
Dít was die vraag van me. Annette Steyn, die DA se skaduminister vir landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, aan Ramaphosa tydens ’n debat in die nasionale vergadering oor probleme en oplossings vir ’n waterskaarsland soos Suid-Afrika.
Sy het uitgewys dat Suid-Afrika op 13 Februarie 2018 tot ’n nasionale droogterampgebied verklaar is. Die regering het toe, by monde van dr. Zweli Mkhize, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, gesê drie provinsies, insluitend die Wes-Kaap en sommige dele van die NoordKaap en Oos-Kaap, word erg geraak en die situasie verbeter nie.
“Dit was 18 maande gelede. Die situasie het intussen vererger en steeds is die regering nêrens te sien nie.”
MOEILIKE BESLUITE
Steyn het gevra of die regering weet hoe moeilik dit vir boere is om daagliks te besluit watter diere hulle voer gaan gee en watter hulle gaan laat vrek. Daarmee het sy die traumatiese besluite uitgelig wat boere daagliks moet neem omdat hulle nie meer geld het om voer te koop nie.
Sy het gesê dit is nie net veeboere wat geraak word nie, maar ook graan- en gewasboere wat in 2013, 2015, 2016 en ook vanjaar gesukkel het weens die gemiddelde laer reënval.
“Dit het boere in skuld gedompel en hulle kan nie verdere krediet van die banke kry nie. Landbouskuld groei jaarliks en beloop tans sowat R190 miljard.”
Daar is ook gevalle van boere wat hul eie lewe geneem het.
Steyn het me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, gevra om dringend ’n vergadering te belê van al die nasionale ministers en provinsiale LUR’e wat vir die landbou verantwoordelik is, om die impak van die droogte te bespreek.
Steyn het gevra minstens R1 miljard van die geld wat vir agriparke begroot is, moet vir droogteverligting bewillig word.
Sy het mnr. Tito Mboweni, minister van finansies, gevra om wetgewing wat die banksektor reguleer, in oënskou te neem sodat boere met sagte lenings in droogtetydperke gehelp kan word.
Mnr. Narend Singh, IVP-LP, het gesê dit gaan nie oor die tekort aan reën wat die droogte meebring nie, maar eerder die regering se wanbestuur van water. Hoewel meer mense sedert 1994 toegang tot water het, behoort die klem nie daarop te val nie.
“Elkeen in die land sou skoon drinkwater gehad het as die waterhulpbronne reg bestuur is.”
GEDEELDE BLAAM
Mnr. David Mahlobo, adjunkminister vir menslike nedersettings, water en sanitasie, het gesê Suid-Afrika is ’n waterskaars land en klimaatsverandering sal dit moeiliker maak om watervoorraad te voorspel. Daar is damme in klein dorpies en landelike gebiede wat kritiek min water het of droog is. Die damvlakke word as deel van die regering se vroeë waarskuwingstelsel gemonitor en geskikte maatreëls word ingestel om die situasie te verlig.
Waterbestuurders wil nie altyd na raad luister nie, het Mahlobo gesê. Dikwels hou klein dorpe aan om water te pomp, ten spyte daarvan dat hulle gewaarsku word wanneer die damvlakke tot ’n sekere punt daal, en dat waternood gaan ontstaan.