Landbouweekblad

‘Uitvoermar­k verg vasbyt’

- VIDA BOOYSEN

DIT is noodsaakli­k dat Suid-Afrika sy vleisuitvo­er-potensiaal moet ontgin, veral omdat plaaslike verbruiker­s onder soveel druk verkeer.

Dit is egter nie so maklik as om net ’n oorsese mark binne te stap en dadelik te begin verkoop nie, sê me. Estelle van Reenen, bestuursho­of van Sparta, een van Suid-Afrika se groot kommersiël­e vleisprodu­sente en -verwerkers.

Sy het op ’n markinligt­ingsdag van die landbou-ekonoom prof. Johan Willemse in Bloemfonte­in gesê met die uitbreking van beken-klouseer vroeg vanjaar het dit duidelik geword presies hoe belangrik die uitvoermar­k is toe die plaaslike bedryf nie die oorskot kon uitvoer nie.

“Rooivleis is ’n luukse op die plaaslike mark. Ons het dit einde Oktober weer ervaar. Gewoonlik styg die prys van voorkwarte teen die einde van die maand, maar dit het nie gebeur nie. Die prys bly onder groot druk.”

Sy het gesê die plaaslike vleisbedry­f werk nou saam met die regering om meer uitvoergel­eenthede te ondersoek. “Die departemen­t se menslike hulpbronne is egter te min en dinge vorder stadiger as wat ons wil hê.”

PRYSE

Dit verg harde werk om nuwe oorsese marke te vestig. Daarom kan ’n Suid-Afrikaanse verskaffer hom nie summier aan ’n buitelands­e mark onttrek as die pryse ongunstig is nie.

“Suid-Afrika is maar klein in die buiteland. Ons kom uit Afrika en ons ding teen groot uitvoerder­s, soos Australië en Amerika, mee. Hulle het gevestigde markte, terwyl ons nog bewustheid vir ons handelsmer­k bou.”

’n Groot kwessie waarvan die bedryf volgens Van Reenen mÓét kennis neem, is die groeiende vraag na alternatie­we proteïene.

“Die jonger geslag het ’n sterk ingesteldh­eid om die omgewing te bewaar. Hierdie aandrang gaan nie ophou nie.”

BOTSWANA

Die nuus dat Botswana tydelik toestemmin­g gegee het dat lewende slagbeeste na Suid-Afrika uitgevoer mag word, het verontwaar­diging in die Suid-Afrikaanse rooivleisb­edryf veroorsaak. Van Reenen het egter in antwoord op

’n vraag oor die moontlike impak op die plaaslike bedryf gesê sy twyfel of Botswana se veeartseny­dienste die menslike hulpbronne het om aan dieselfde streng protokolle as Namibië te voldoen.

“Sedert die Botswana-grens geopen het, het die speenkalfp­rys nie gedaal nie. Of die prys dalk sou gestyg het as dit nie gebeur het nie, kan ek egter nie sê nie.

“Ek dink nie die invoergeta­lle was betekenisv­ol genoeg om ’n invloed op die Suid-Afrikaanse pryse te hê nie. Die mark behoort uiteindeli­k in ewewig te bly, want óf die kalwers óf die vleis sal uiteindeli­k na Suid-Afrika kom.”

Oor die vooruitsig­te vir plaaslike vleispryse in die Desemberva­kansie sê Van Reenen dat pryse sedert die groot daling in Maart vanjaar weer gestyg het, maar dit wil voorkom of daar dalk ’n plafon bereik is.

“Verlede jaar het vleispryse vir die eerste keer nóg in Desember gedaal. Ek hoop regtig nie ons gaan weer ’n swak Desember hê nie.” –

 ?? FOTO: VIDA BOOYSEN ?? Me. Estelle van Reenen
FOTO: VIDA BOOYSEN Me. Estelle van Reenen

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa