‘Wees oopkop oor Afrika se potensiaal’
DIE tempo van bevolkingsgroei in lande suid van die Sahara beteken dié streek gaan teen die einde van die eeu 40% van die wêreld se werkende bevolking huisves, teenoor die huidige 10%, en boere moet kennis neem van dié verbruikersmark.
Dit was die boodskap van dr. James Lappeman van die Universiteit van Kaapstad se Liberty-instituut op die onlangse Subtrop-bemarkingsimposium in Witrivier, Mpumalanga.
Lappeman het gesê hoewel Afrika lank die sukkelende stiefkind van die wêreld was vir wie rocksterre geldinsamelingskonserte moes hou, ervaar baie Afrikalande sedert 2000 ’n positiewe groeikoers. Die basis was laag en dit beteken nie die lande is skielik ryk nie. Tog was ses van die snelgroeiendste ekonomieë ter wêreld tussen 2000 en 2010 aldus The Economist in Afrika, toe die vasteland se ekonomie met 70% gegroei en verbruik met 150% toegeneem het.
Die inkomste per capita in Afrika se tien grootste ekonomieë het in daardie tyd verdubbel. Angola het die hoogste groeikoers ter wêreld gehad.
Die bloeityd is moontlik gemaak deur die kommoditeitsupersiklus wat deur China aangevuur is. Dit het egter afgeplat sedert die ekonomiese insinking wat die wêreld in 2008 getref het. Daar is egter steeds groei, al het dit in baie Afrikalande verlangsaam.
MIDDELKLAS
Lappeman waarsku dat ’n mens jou nie moet blind staar teen organisasies soos die Afrika-ontwikkelingsbank se data wat beweer een uit elke drie mense in Afrika is nou deel van die middelklas nie.
“Jy moet self besluit hoe jy dit wil definieer en hoe jy jou besigheid daarvoor wil posisioneer,” sê hy, want weinig van die mense wat volgens dié bank middelklas is, sal avokado’s by Woolworths kan bekostig.
Dit is byvoorbeeld nie in ander Afrikalande so belangrik om ’n motor te besit om as middelklas gesien te word as in Suid-Afrika nie. Mense se lewenstandaard is wel beter as twintig jaar gelede. Vir baie mense is die gedagte dat hulle in die middelklas val eerder ’n ingesteldheid oor ’n leefstyl as ’n inkomstesyfer.
Lappeman sê dis baie moeilik om te bepaal wie hoeveel geld het in Afrika. Die geld van baie verbruikers in Afrika kom van die buiteland af, maar nie in die vorm van bystand van ryk lande nie. Daar word meer geld na Afrika suid van die Sahara gestuur deur familielede wat in die buiteland werk, as wat al die lande van die wêreld elke jaar saam aan Afrika skenk.
“Dít is ’n groot en belangrike storie. Daar is dus, ondanks die algemene verlangsaming van ekonomiese groei in die wêreld, steeds gesonde groei in Afrika.”
VERSTEDELIKING
Hy sê produsente wat hul oog op die Afrika-mark het, moet kennis neem van die vinnige tempo van verstedeliking. Die megastede in Afrika gaan in die toekoms groter en meer word.
Hoewel mens dikwels aan verstedeliking as ’n euwel dink, sê hy vir die meeste vroue in Afrika bring dit onmiddellik ’n verbetering in hul lewensgehalte mee.
Afrika stuur ook al hoe meer geskoolde mense die wêreld in. Van 2000 tot 2010 het die aantal mense met ’n tersiêre kwalifikasie meer as verdubbel.
Hoewel infrastruktuur ’n kwessie bly, verbeter dinge stadig maar seker.
Lappeman sê die pad- en spoornetwerke wat in die koloniale dae gebou is, was bloot bedoel om grondstowwe van die binneland af na hawens te vervoer. “Nou sien ons al hoe meer spoorlyne en paaie wat stede en dorpe met mekaar verbind. Die vasteland se padnetwerk is die afgelope dekade met gemiddeld 7 500 km per jaar verleng.”
DINK LANG TERMYN
Lappeman het gesê hoewel dit nie altyd maklik is om in Afrika sake te doen nie, kan dit op lang termyn goeie geleenthede bied. Hy het na die vinnige groei van die swart middelklas van Suid-Afrika verwys as een van die grootste suksesstories in die geskiedenis.
In Suid-Afrika is die vinnige ontluiking van hierdie middelklas aangevuur deur 100 goue maande voor die 2008-resessie. ’n Sterk geldeenheid, ekonomiese groei en toegang tot krediet het dit meegebring.
In die res van Afrika gaan dit waarskynlik eerder deur onder meer bevolkingsgroei en ander faktore aangedryf word. Die uitwerking gaan dalk nie so drasties wees soos met die opkomende swart middelklas van Suid-Afrika of die kommoditeitsupersiklus van China nie, maar die groei in die vraag na voedsel en ander produkte gaan langer aanhou en meer volhoubaar wees.