KOOLSTOFSPOOR VAN AKWAKULTUUR BEKYK
Akademici van die Rhodes-universiteit, internasionale navorsers en belanghebbendes in die akwakultuurbedryf het byeengekom om gidsprojekte saam te stel om die koolstofspoor van visboerderye te verminder.
Dit is deel van die Verenigde Nasies se AquaVitae-projek vir die verhoging van akwakultuurproduksie in en rondom die Atlantiese Oseaan.
Die Rhodes-universiteit se projekte sluit geïntegreerde, multitrofiese akwakultuur (IMTA) op land, ter see en seekomkommer-akwakultuur in.
Die projekte kyk onder meer na hoe perlemoen reageer wat in tenks geplaas word saam met seekomkommers wat op soliede afval voed en makro-alge wat opgeloste voedingstowwe van die perlemoenafvalwater verwyder. Perlemoen is gesonder wanneer die tenks skoon gehou word van die perlemoen se afval. Danksy die seekomkommer en alge sal daar minder arbeid nodig wees om die tenks skoon te maak. Die volwasse seekomkommer kan uiteindelik na China uitgevoer word. Daar word dit as ’n lekkerny beskou. Die perlemoen voed weer op die alge, wat die proses volhoubaarder maak.
Die AquaVitae-projek sluit 36 navorsings- en bedryfsvennote van 16 lande in. Daar word tans aan 9 werkpakkette en 13 gevallestudies gewerk om volhoubare akwakultuurtegnologie te ontwikkel en toe te pas. Die Universiteit Stellenbosch, die maatskappy Marifeed en Wildekusperlemoen is die Suid-Afrikaanse instellings en bedryfsvennote wat ingesluit is by die AquaVitae-projek.