Meer ontwikkeling nodig in sonneblombedryf
Navorsing en ontwikkeling wat die opbrengspotensiaal van sonneblom betref, is nodig om dié gewas se winsgewendheid te verbeter.
Volgens die Nasionale Oesskattingskomitee se vooruitskouing wat in Oktober bekend gemaak is, beoog boere om vanjaar sowat 515 350 ha met sonneblomme te beplant. Die verwagte gemiddelde opbrengs is 1,3 t/ha en die oesskatting 680 940 ton.
Met die verbruikersvraag na kookolie wat bly groei, lê die antwoord waarskynlik by hoër opbrengste per hektaar.
“Sonneblomme het effens agtergeraak met navorsing en ontwikkeling as jy dit met mielies en sojabone vergelyk,” sê mnr. Cobus van Coller, ’n saaiboer van Viljoenskroon in die Vrystaat.
“Sonneblomme is belangrik vir risikoverlaging in saaiboerdery hier by ons, maar die opbrengspotensiaal het nie veel verbeter nie. Ons gemiddelde opbrengs op die plaas is sowat 2,2 t/ha. Dit is nie hoër as wat ons 20 jaar gelede op dieselfde plaas behaal het nie.”
Winsgewendheid, opbrengs per hektaar en die gehalte van die sonneblomoes is knelpunte wanneer daar buite die optimale datums geplant word. Dit is dus nie net ’n kwessie van teling nie. Volgens navorsing deur die Landbounavorsingsraad lewer sonneblomaanplantings in November tot middel Desember ’n aansienlik beter opbrengs teenoor laat aanplantings in Januarie en selfs Februarie.
SAADBEDRYF SE TAAK
Saadmaatskappye word die taak opgelê om nuwe oplossings te bied. Dit is moontlik dat sonneblomme ’n soortgelyke paadjie as sojabone kan loop.
Boere betaal sedert 1 Maart vanjaar ’n heffing van R65 per ton vir sojabone wat verhandel word. Dié statutêre heffing is deur die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling ingestel nadat belanghebbendes in die bedryf, verteenwoordig deur die sonneblomen sojaboonforum, dit versoek het. Die doel is om saadmaatskappye aan te moedig om nuwe kultivars met gevorderde saadtegnologie op die plaaslike mark beskikbaar te stel.
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Saadorganisasie (Sansor) verteenwoordig die saadbedryf en sorg dat boere saad van goeie gehalte by saadmaatskappye koop wat lid van Sansor is. Sansor was ook deurslaggewend met die instel van die sojaboonheffing om navorsing en ontwikkeling aan te moedig.
WÊRELDKONGRES
Die belangrikheid van die Suid-Afrikaanse saadbedryf en organisasies soos Sansor sal aanstaande jaar op die jaarkongres van die Internasionale Saadfederasie (ISF) in die wêreldkollig kom. Sansor is die gasheer van dié kongres, wat van 8 tot 10 Junie in Kaapstad gehou word.
Dr. Lukeshni Chetty, hoofbestuurder van Sansor, het op die Euroseeds-kongres in Oktober vanjaar in Stockholm, Swede, in ’n video-onderhoud met die organiseerders gesê Suid-Afrika is baie trots om dié kongres in 2020 aan te bied. Dit is laas in 2001 in die land gehou.
“Afrika kan nie uitgesluit word as ons oor aspekte soos voedselsekerheid en oplossings vir klimaatsverandering praat nie. Dit is ’n ongelooflike geleentheid om te wys wat Sansor doen. Ons sien daarna uit dat meer Afrikagebaseerde maatskappye aan die kongres deelneem en dat ons ’n deeglike verteenwoordiging van die wêreld se saadbedryf in Kaapstad sal sien.”
Sy het na verskeie prestasies in die Suid-Afrikaanse saadbedryf verwys wat daarop dui dat die bedryf in die toekoms selfs meer in navorsing en die verbetering van kultivars gaan belê.
“Die afgelope paar jaar het Sansor saam met sy lede (die saadmaatskappye) en produsente gewerk om ’n eindpunttantièmestelsel vir oopbestuifde gewasse daar te stel. Dit is ’n goeie voorbeeld van suksesvolle samewerking tussen die saadbedryf en boere.”
Dié stelsel geld tans vir koring, hawer en sojabone.
Dit was ’n lang proses wat Sansor moes volg, want die organisasie moes seker maak dat produsente, die regering en saadmaatskappye weet hoekom so ’n inkomstestelsel nodig is.
“Dit is intussen tot statutêre heffing verklaar. Dit sal daartoe bydra dat Suid-Afrikaanse boere die beste kultivars kan bekom,” het Chetty gesê.
NAVRAE OOR DIE ISF-KONGRES: Web: congress.worldseed. org/2020/registration