Bek-en-klouseer: Chaos ná veilingskok Al oplossing naspeurbaarheid
DIE verbod op alle veilings van lewende hawe in vier provinsies wat die staat kort voor druktyd aangekondig het, kan afslaers en boere tot R180 miljoen per week in omset kos.
Dié voorlopige skatting is gemaak deur mnr. Dawie Maree, hoof van bemarking en inligting by FNB Landbou, gegrond op een veiling by Vryburg in Noordwes waarvan die omset R7 miljoen kan beloop.
Maree was deel van ’n paneelbespreking oor biosekerheid wat die nasionale dieregesondheidsforum, Hollard en Landbouskrywers Suid-Afrika in Pretoria gehou het. Dit was ure ná die verbod – wat vir Limpopo, Mpumalanga, Gauteng en Noordwes geld – op 14 November aangekondig is.
Belanghebbendes in die bedryf sou net ná druktyd met die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling vergader in die hoop dat die besluit omgekeer sou word.
Die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) meen só ’n verbod skep paniek en sal nie die verspreiding van bek-en-klouseer keer nie. Meer moet eerder gedoen word wat bewegingsbeheer en die toepas van regulasies rondom die verskuiwing van vee betref.
“’n Omvattende plan eerder as ’n blote verbod moet ingestel word om die situasie reg te stel,” het mnr. Gerhard Schutte, hoofbestuurder van die RPO, aan Landbouweekblad gesê.
DIERE VERSKUIF
Volgens dr. Pieter Vervoort, voorsitter van die nasionale dieregesondheidsforum, was die departement se redenasie met die verbod dat “as dit slegs vir Limpopo geld, die vrees bestaan dat diere bloot na die volgende provinsie verskuif sal word om hulle daar te verkoop”.
het kort ná die afkondiging van die verbod berig ’n groep boere in die Waterberg het besluit om voort te gaan met ’n veiling op Bela-Bela.
“Ek het nog nooit so baie oproepe van boere gekry nie. Hulle stem nie met die [veilingsverbod] saam nie, ons ook nie. Dit gaan die situasie net ‘ondergronds’ dryf,” het Schutte gesê.
Maree het gesê indien die situasie op lang termyn voortduur, kan dit die verskaffing van vleis, asook vleispryse aan verbruikers, beïnvloed. Volgens voorlopige berekenings het die uitbreking van bek-en-klouseer in Januarie vanjaar die land sowat R1,2 miljard aan uitvoer gekos – “en dis net vir beesvleis”.
VERREIKENDE GEVOLGE
Me. Estelle van Reenen, bestuurshoof van Sparta, het gesê die jongste uitbreking kan verreikende gevolge vir Suid-Afrikaanse vleisuitvoer hê, hoewel dit nog te vroeg is om te sê hoe ernstig dit sal wees.
Rooivleisprodukte wat vir uitvoer bestem was, het aan die begin van die jaar op die plaaslike mark beland ná Suid-Afrika se bek-en-klouseervrye status opgeskort is. Dit het skerp prysdalings veroorsaak wat voerkrale se marges onder druk geplaas het.
“Geen van ons uitvoermarkte, buiten lande soos Eswatini en Zimbabwe, het tot dusver hul grense gesluit nie.
“Sedert die vorige uitbreking is protokolle ingestel waarmee ons die versekering gee dat ons nie beeste sal koop van die gebiede wat deur die uitbreking geraak word nie.”
Sy het die hoop uitgespreek dat dié protokolle voldoende sal wees om oorsese markte oop te hou. “Maar ons het geen versekering dat dit die geval sal wees nie.”
BEHEERMAATREËLS
Die departement sê in ’n verklaring alle beheermaatreëls vir die siekte is steeds gereed en dat Suid-Afrika se handelsvennote hopelik ooreenkomste wat ná die Januarie-uitbreking bereik is, sal handhaaf.
Mnr. Jacques Smalle, DAleier in Limpopo, het egter aan
Netwerk24 gesê dit wil voorkom of die 15 padblokkades in Vhembe glo te vroeg verwyder is, wat moontlik gelei het tot die vervoer van besmette diere.
Vervoort het boere gemaan om nie dadelik die vinger na die staat te wys nie.
“Dit is elke boer se verantwoordelikheid om biosekerheid op sy plaas en in sy omgewing te handhaaf. As ’n boer besluit om vee aan te koop sonder om te weet waar dit vandaan kom of minstens op ’n gesondheidsertifikaat aan te dring, kan die staat nie vir sulke besluite verantwoordelik gehou word nie.”
Hy het gesê mense versprei die siekte wanneer hulle besluit om kanse te waag en diere te verskuif, veral vanuit die siektebeheersone na ander gebiede.
“Ek het begrip vir boere wat in hierdie moeilike tye hul vee uit droogtegeteisterde gebiede wil verskuif na ander gebiede waar daar dalk nog weiding is, maar ons moet almal aan die res van die land se boere ook dink wanneer ons besluite neem.”
Boere moet ook ’n gesindheid van pligsbesef teenoor hul omgewing inneem en nie stilbly of anderpad kyk wanneer hulle weet ’n buurman bedryf sy boerdery op
’n manier wat vir almal ’n risiko inhou nie.
WIE DOEN DIE WERK?
Schutte het gesê omdat die landbou ’n provinsiale aangeleentheid is, heers daar tans verwarring oor of die probleem nasionaal of provinsiaal aangepak moet word. Die RPO het nege diere gesondheid s forums wat provinsiaal funksioneer, met die oorkoepelende nasionale diere gesondheid s forum.
“Hierdie forums werk baie goed saam, en het reeds bewys dat hulle soortgelyke situasies kan hanteer.”
‘Ons moet almal aan die res van die land se boere ook dink wanneer ons besluite neem.’