Landbouweekblad

Somergrane: Gemengde vooruitsig­te ná eerste reën

- — ALANI JANEKE en NICO VAN BURICK

VAN die eerste goeie somerreën het sedert middel November oor die noordelike en oostelike dele van die land begin uitsak.

Neerslae het egter nie wydverspre­id voorgekom nie, en talle boere kon nog nie begin plant nie.

In sommige dele is die reën opgevolg met warm en winderige toestande wat nie ideaal is vir aanplantin­gs wat begin opkom nie, sê mnr. Johan van den Berg, weerkundig­e by Santam Landbou.

“Daar is gebiede wat nog min of geen reën gekry het en boere kan dus nie begin plant nie. Toestande is tans nie optimaal nie, en die ongunstige warm, winderige toestande kan aanplantin­gs laat sukkel.”

ERGE DONDERSTOR­M

Die swaarste neerslae het in KwaZulu-Natal voorgekom, waar ’n erge donderstor­m ’n tornado in die distrik New Hanover veroorsaak het, wat luidens die Suid-Afrikaanse Weerdiens groot skade aan eiendom aangerig het.

Van den Berg het teen druktyd gesê weermodell­e dui aan dat die kans op reën oor die oostelike en sentrale dele van die land die laaste tien dae van November verbeter. “Daar is egter nog nie ’n noemenswaa­rdige kans op reën vir die westelike streke in dié tydperk nie.”

Mnr. Boeta du Toit, hoofbestuu­rder van Agri Noordwes, sê die plantbedry­wighede in Noordwes is nog baie beperk. “Ná die reën die tweede week van November het ek van Pretoria af Delareyvil­le toe gery en boere was net hier en daar besig om te plant. Ek dink dit is oorwegend in die oostelike en sentrale streke van die provinsie waar daar ’n bietjie meer grondvog van die vorige seisoen oorgebly het. Dit was oorwegend die oostelike dele van Noordwes wat redelik reën gehad het.”

Du Toit sê daar is nog nie sprake van grootskaal­se plantery nie. “Gelukkig het ons tot einde Desember tyd om in ons deel van die wêreld te plant.”

Wat die oostelike Hoëveld betref, sê mnr. Robert Davel, hoofbestuu­rder van Mpumalanga Landbou, boere is sowat vyf weke agter met hul plantery.

“Met die optimale planttyd wat nou verby is, raak besluitnem­ing al hoe moeiliker. Gelukkig het dit redelik gereën en baie boere is besig om te plant.”

‘DIEP BEKOMMERD’

Mnr. Ryk Pretorius, Graan SA-verteenwoo­rdiger wat tussen Davel en Ermelo in Mpumalanga boer, sê hy voorsien ’n baie moeilike seisoen. “Die reën is minstens ’n maand laat in ons streek. Ek skat sowat 50% tot 60% van die mielies in die omgewing van Ermelo, Amersfoort, Carolina en Middelburg is al geplant. Sojabone is ook ver agter en net sowat 15% is al geplant.”

Hy sê die optimale planttyd vir mielies by hulle was eintlik einde Oktober verby, maar daar is mense wat waag om nog tot einde November te plant.

Wat sojabone betref, is die optimale plantyd teen 20 November verby, maar daar is boere wat dit tot 15 Desember rek.

“In hierdie stadium kom heelwat verspreide donderbuie voor, maar min algemene reën. Dit beteken die omstandigh­ede verskil van plaas tot plaas. In my hart is ek diep bekommerd oor die vooruitsig­te.”

WAG OP GOEIE REËN

In die Vrystaat is die omstandigh­ede baie dieselfde. Volgens dr. Jack Armour, bedryfsbes­tuurder van Vrystaat Landbou, reën dit net kol-kol. “In die noordooste­like dele is daar al ’n bietjie geplant, maar in die meeste gevalle sit boere en wag vir die goeie reën om te kom.”

Dr. Dirk Strydom, bestuurder van graanekono­mie en -bemarking by Graan SA, sê boere is oor die algemeen redelik ver agter met hul plantery.

“In baie gevalle het boere opgehou plant en wag hulle dat dit weer moet reën. Veral in die suidoostel­ike dele van die somerreëng­ebied is boere ver agter. In die noordooste­like dele is daar boere wat die kans waag om te plant in die hoop dat dit betyds sal reën.”

Dr. Werner Rossouw, handelaar en direkteur van Silostrat, sê wat koringoest­e in veral die westelike dele van die Vrystaat betref, is talle boere moedeloos.

“Die boere het begin stroop. Begin September was die potensiële opbrengs sowat 3 t/ha, maar opbrengste van 1,3 t/ha tot 1,6 t/ha word nou by ons depots aangemeld.”

NOG KOMMER

Die swak koringoes is nie al waaroor dié boere bekommerd is nie. Baie van hulle het ná goeie reën oor Paasnaweek besluit om koring op van hul hoë potensiaal lande te plant nadat hulle nie in die somer kon plant nie.

“Baie sal nie somergewas­se kan aanplant nie. Indien hulle besluit om nie weer wintergewa­sse te plant nie, sal hulle eers in die 2020-’21-somerseiso­en weer somergewas­se kan plant. Dit beteken hulle sal eers teen Julie 2021, wanneer hulle daardie somergewas­se stroop, weer ’n behoorlike inkomste hê,” sê Rossouw.

 ?? FOTO: WILLEM VAN DER BERG ?? Dié harde reënbui tussen Zastron en Wepener het, soos elders in die somersaaig­ebiede, net kol-kol natgemaak, en nie genoeg om te plant nie.
FOTO: WILLEM VAN DER BERG Dié harde reënbui tussen Zastron en Wepener het, soos elders in die somersaaig­ebiede, net kol-kol natgemaak, en nie genoeg om te plant nie.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa