Staalkrisis ry boere bloots
BOERE voel reeds die impak van die sukkelende Suid-Afrikaanse staalbedryf aan hul sak.
Met staalpryse wat vanjaar reeds minstens twee keer beduidend gestyg het, raak dit ál duurder om staal-infrastruktuur soos hekke, afdakke of drukgange op te rig. Wat minder duidelik is, is waar die oorsaak lê.
Die onlangse aankondiging dat ArcelorMittal Suid-Afrika (Amsa) sy staalaanleg op Saldanha aan die Weskus gaan sluit, het skokgolwe deur die land gestuur. Die sluiting beteken 900 mense kan hul werk verloor. Die vakbond Solidariteit waarsku oor rampspoedige gevolge vir die plaaslike gemeenskap en die maatskappy se ander aanlegte.
“Daar is ook onsekerheid oor die toekoms van die aanleg by Newcastle in KwaZulu-Natal,” sê mnr Willie Venter, Solidariteit se adjunkhoofsekretaris vir die metaal- en ingenieursbedryf.
Amsa voer aan dat duurder grondstowwe, gereguleerde pryse (soos kragtariewe) en ’n laer aanvraag daartoe gelei het dat sy aanleg op Saldanha nie meer mededingend is nie.
TEN KOSTE VAN ANDER
Hierdie terugslag, hoe ernstig dit ook al is, is net die oortjies van die seekoei vergeleke met duisende werkverliese die afgelope paar jaar in die plaaslike staalwaardeketting omdat dié bedryf ten koste van Amsa benadeel word, sê mnr. Gerhard Papenfus, hoof van die nasionale werkgewersorganisasie van Suid-Afrika.
Dié organisasie verteenwoordig die meeste werkgewers in die staalverwerkingsbedryf.
Papenfus meen die tariefbeskerming van 20% op ingevoerde staal wat ingestel is om Amsa te beskerm, geskied ten koste van die bedryf en klante soos boere, wat prysnemers is.
“Amsa is die hoofrede vir die hoë plaaslike staalpryse. Ingevoerde staal uit China is van beter gehalte en kos 18% tot 27% goedkoper as wat Amsa dit kan lewer. Die proteksionistiese invoertarief en gevolglik hoë staalprys lei daartoe dat verbruikers, soos boere, minder staal gebruik omdat dit te duur vir hulle word.”
Papenfus sê as dié neiging voortduur, sal meer voltooide staalprodukte ingevoer word, pleks daarvan om dit plaaslik te vervaardig. Dit sal tot verdere sluitings en werkverliese in die plaaslike bedryf lei.
Mnr. Herman Janse van Rensburg, eienaar van Arlington Staalwerke in die Vrystaat, sê daar was vanjaar reeds minstens twee groot amptelike verhogings in staalpryse. Sy onderneming vervaardig onder meer werktuie soos ploeë. “As die dieselprys verhoog word, styg die prys van staal ook outomaties. Al die stygings het beslis ’n uitwerking op die winsmarge van ’n staalonderneming.”
SKOK OOR PRYSE
Boere is dikwels geskok as hulle kwotasies aanvra en besef hoe duur staal geword het, sê mnr. Hannes Esterhuyse van Rooikat Staalwerke op Williston in die Karoo. Hy vervaardig veral skaaphanteringstoerusting en koop sy staal in groot maat by ’n verskaffer in die Kaap. Die gemiddelde prys van rondepunt-staal met afmetings van 25 mm x 1,6 mm het byvoorbeeld sedert Oktober 2017 tot Julie vanjaar met 19% gestyg.
“Ek gebruik 22,9 m van daardie ronde pyp om ’n 3 m- verskuifbare skaaphekkie te maak. Dit gee ’n mens ’n idee met hoeveel die prys van staal vir een hekkie toegeneem het.”
In sy reaksie op die Saldanhaaanleg se sluiting het mnr. Ebrahim Patel, minister van handel en nywerheid, gesê dié stap sal nywerheidsontwikkeling in Suid-Afrika ’n knou toedien en Amsa moet sy besluit heroorweeg. Hy het daarop gewys dat die regering die staalvervaardiger nie net met die instelling van invoertariewe ondersteun nie, maar ook deur te vereis dat slegs plaaslik vervaardigde staal verkry word vir die staat se infrastruktuurprojekte.
MEDEDINGING MOEILIK
Suid-Afrikaanse staalproduksie sukkel om met die buiteland mee te ding, sê mnr. Mike Schüssler, ekonoom van die webwerf economists.co.za wat in Oktober 2019 ’n navorsingstuk oor die prys van Suid-Afrikaanse staalprodukte en die impak op die staalverwerkingsbedryf bekend gestel het.
“China, wat tans 55% van die staal in die wêreld vervaardig, het gevorderde tegnologie wat dié land se fabrieke uiters kostedoeltreffend maak.”
Daarenteen het die hoë arbeidskoste en elektristeitstariewe in Suid-Afrika, tesame met verouderde fabrieke, die voordele van plaaslik beskikbare grondstowwe beperk, sê Schüssler.
“Die gemiddelde prys vir platstaal in 2017 was $600 per ton. In die ooreenstemmende tyd was die Chinese gemiddelde prys $560 per ton, terwyl Amsa se verkoopprys $709 per ton was.”
Schüssler meen die hoë koste en ondoeltreffendheid word bloot deurgegee na die res van die staalwaardeketting. “Dit benadeel duidelik die plaaslike verwerkers. Hulle kan nie meeding as die produk wat vir tot 88% van hul koste verantwoordelik is, so duur geword het nie.”—