R12 miljard gaan 450 000 ontwikkel
Mnr. Roelf Meyer van die organisasie In Transformation Initiative se landbou-ontwikkelingsagentskap (LOA) het onlangs nuwe beleggings ter waarde van R12,9 miljard in 32 projekte reg oor die land aangekondig. Hy het sy visie vir die werking daarvan op die
Hoe gaan julle vertroue in die ontwikkelingsagentskap vestig? Hoe verskil dit van ander inisiatiewe?
Daar is nie op die oomblik so iets nie. Ons skep iets waaraan daar ’n groot behoefte is. Daar is nêrens ’n model waar finansiering ingestel is op hulp aan opkomende boere nie. Opkomende boere het geen verwysingspunt nie. Verder wil baie gevestigde kommersiële boere graag help en ’n bydrae lewer – nie net met hul kundigheid nie, maar ook met finansiering. Maar daar is geen node waar hulle saam kan meedoen nie. Dis een van die redes waarom ons ’n model skep waar mense kan bydra; veral diegene wat grondonteiening vrees. Dit word dan ’n punt waarheen geld gekanaliseer kan word, tot voordeel van almal wat in aanmerking kom.
Grondhervorming gaan nie verdwyn nie. Met die volgende verkiesing gaan daar weer groot stemwerwery daarom wentel. Ons moet ’n manier vind waarop ons die behoefte in oorleg met die aanbod aanpak. Dít maak die LOA ’n unieke instrument wat ons van stapel kan stuur as ’n dienlike voorbeeld vir die regering vir grondhervorming, en die kommersiële boer, wat ook kan bydra.
Die staat besit meer as 4 000 plase landwyd wat gebruik kan word, onder meer vir boerdery. Ons moet die oordrag daarvan bewerkstellig, sodat dit benut kan word. Die staat het grond uitgekoop, maar die begunstigdes het dit nog nie ontvang nie.
Gaan die LOA help om hierdie 4 000 plase
oor te dra?
Onder meer. Nie almal nie, en ook nie net dit nie, maar van daardie plase sal beslis in aanmerking kom. Ook grond wat reeds oorgedra is aan eisers en waar hulp nodig is om boerdery weer op die been te bring. Thoko (Didiza, minister van landbou) het gesê ons moet spesifiek kyk na die Levubu-gebied in Limpopo.
Waar kom die R12,9 miljard vandaan?
Uit 32 projekte waarin private instellings belê het; óf met hulle eie geld óf geld wat hulle elders gewerf het. Dele daarvan is buitelandse geld. Dit is nuwe projekte, maar hulle lê binne die riglyne wat ons nastreef by die LOA. Toe is besluit om dit onder die vaandel van die LOA te bring.
Gaan die agentskap dus nie self nuwe projekte finansier nie?
Ons sal dit op ’n proefbasis doen as ’n gidsprogram. Ons moet besluit watter distrikte van toepassing is en watter landbouprodukte behoort binne daardie distrikte verbou te word. Dan sal ons mense op ’n proefbasis die geleentheid gee om vir finansiering aansoek te doen. Die finansiering sluit die R12,9 miljard uit. Die ideaal is om gemengde finansiering te gebruik: Dit wat banke kan verskaf en ander, goedkoper finansiering ook – vanuit die buiteland of uit ondernemings se maatskaplike beleggingsprogramme (CSI).
Die rentekoerse sal op ’n projek-tot-projek-basis bepaal word. Jy kan nie argumentshalwe op lewende hawe dieselfde rentekoers hef as op hoë-inkomstegewasse nie. Daarom is die gidsprojek-stadium so belangrik.
Na watter distrikte kyk julle?
Ek wil nie nou al ’n streek noem en verwagtings skep nie. Ons het later dié maand ’n vergadering waar besluite geneem sal word.
Jy sê die finansiering gaan 300 000 werkgeleenthede skep en 450 000 mense begunstig. Is die syfers realisties?
Die getal kom van uitbreiding van die Vaalharts-besproeiingskema. Dit beslaan die hele Taung-gemeenskap. Dis hoekom die getal so indrukwekkend is. Ek het dit ook bevraagteken, maar die kundiges sê dit klop.
Hoe beoog julle om vaardigheidsoordrag te bewerkstellig?
Ons gaan dit nie self fasiliteer nie. Daar is ’n klomp groot boere wat bereid is om te help en hulle gewig in te gooi. ’n Mens moet daardie bereidwilligheid gebruik.
Is alles gereed om Januarie volgende jaar af te skop?
Dit is veilig om nou te sê ons gaan Januarie bedryfsgereed wees op ’n bekendstellingsbasis. Thoko druk ons. Sy wil graag resultate sien. Die samewerking wat ons van haar en die twee direkteursgeneraal kry, is fantasties.
Buiten finansiering en vaardigheidsontwikkeling, wat belemmer die sukses van nuwe landbouprojekte?
Die ideaal sal wees as ’n mens voorligtingsbeamptes het wat as mentors kan optree. Ons sal dit waarskynlik nie kan bekostig nie, en daarom sal ’n mens jou moet verlaat op bestaande kommersiële boere. En hulle wíl help. Ek het gister ’n brief ontvang van ’n swart groenteboer naby Vereeniging. Hy het 105 ha en genoeg finansiering. Hy vra niks nie, maar sê net dat hy beskikbaar is om ander te help. Is dit nie wonderlik nie?
Wat is jou droom vir die agentskap?
Ons oogmerk is om die landbou soveel moontlik te bevorder dat die sektor sy groeipotensiaal bereik. Daar is net een manier om dit reg te kry: Om nuwe boere te vestig wat groot boere kan word.