Indringer oorskadu droogte: Nuwe hoop teen prosopis
In groot dele van Suid-Afrika neem prosopis-indringing reuseafmetings aan, veral in die Noord-Kaap. Dié indringerplant, ook bekend as muskietboom of suidwesdoring, het teen 2012 al 2,3 miljoen hektaar vervuil. Met ’n geraamde toename van 18% of meer per jaar lyk dit of lugbespuiting met ’n onkruiddoder die antwoord kan wees.
As jong seun in die 1960’s het sy pa vir hom gesê net ’n sny vars witbrood is beter as ’n prosopisboom. “Vandag veg ek egter met my rug teen die muur teen dieselfde ‘witbrood’ wat besig is om dele van my plaas te verswelg,” sê mnr. Riaan Coffee van die plaas Bitterpit by Groblershoop in die Noord-Kaap. Soveel so dat ’n nuwe lugbespuitingsproduk twee jaar gelede met goeie sukses by hom op die proef gestel is (sien KASSIE ).
“Ons het prosopis geplant, natgelei, vermeerder en uitgeplant, want ons het geglo dié bome gaan ons redding in die droë Karoo wees. Toe begin dit egter vervuil so ver as wat die skape en wild wat die peule gevreet het, die pitte uitgemis het. “Vandag sit ek met onbeheerbare, digte stande prosopis. Ek is magteloos daarteen met die konvensionele uitkapmetode en stompbehandeling.”
Ook mnr. Urbanus Badenhorst van die plaas Almondsdam by Strydenburg meen as hy die stryd teen prosopis en ander indringers nie deel van sy bestaande bestuurstelsel maak nie, gaan geen veevertakking ekonomies volhoubaar wees met die tempo waarteen die indringerplant vermeerder nie. Dié natuurwetenskaplike boer ook met Dorpers, Bonsmaras en wild.
“Ek het nie ’n keuse nie, want in hierdie ekstensiewe wêreld móét ek die beste moontlik uit my veld kan haal.”
Hy sê Karooboere het met bepaalde reënvalpatrone grootgeword, wat sekere veldtipes of biome geskep het.
“Drakragnorme is hiervolgens bepaal, maar droogtes, soos die huidige rampdroogte, het dit drasties beïnvloed. Daarmee saam het bosindringing, soos veral prosopis, kwaai toegeneem. Dit word dikwels aangehelp deur party boere wat swak kamp en beweidingstelsels toepas.
“Dit alles beïnvloed ons volhoubare ekonomiese veevertakking nadelig. Die grondslag van volhoubare, ekonomiese bestaan is goeie weiveldbestuur en veldverbetering.”
VERWOESTYNING DIE VOORLAND?
Navorsers waarsku dat indien koolstofvlakke (CO2vlakke) 550 dele per miljoen (DPM) bereik, groot dele van veral die NoordKaap letterlik in woestyn gaan verander. Die ideaal is dat dit minder as 350 DPM moet bly.
“Tans word gesê dat dit al sowat 415 DPM is, wat ’n baie ernstige situasie is,” sê Badenhorst.
Hy het 90 ha op sy plaas toegespan wat heeltemal met prosopis besmet is, en waarop proewe gedoen word om prosopisbesmetting hok te slaan.
Nog ’n boer wat deurloop, is mnr. Charl Vermeulen van die plaas Bonnza naby Carnarvon. “Van die 19 000 ha op my plaas is 6 000 ha erg besmet en feitlik onbruikbaar en onbegaanbaar. Tien jaar gelede was dele al besmet, maar dit was begaanbaar en bestrybaar. Nou het ek die stryd verloor, en die probleem vererger.”
Vermeulen het dit tot dusver meganies probeer bestry. “Ek het ’n gebied van 2 km by 8 km skoongemaak wat nie te erg besmet was nie. ’n Span van twee met rugsakke en gifspuite was ’n maand lank heeltyds besig. Dit het my R20 000 gekos. Waar die ergste en digste besmetting is, het ek die handdoek ingegooi. Daarom is lugbespuiting nou my enigste hoop.”
Kontantvloei weens die rampdroogte is egter ’n knelpunt. “Dit sal weer beter gaan, en in beter tye beoog ek om minstens R50 000 per jaar te begroot om die prosopis stelselmatig te bestry.”
Mnr. Johan Cloete van die plaas Weltevrede by Douglas meen ook die prosopisprobleem word erger. “Waar prosopis erg verdig, raak die veld en grond waardeloos, want absoluut niks groei onder die prosopisbome nie.”
Hy sê grondwaarde by Douglas wissel van R3 000/ha tot R5 000/ha. “Lugbespuiting sal sowat R2 000/ha beloop, maar dit is net die ergste verdigte dele wat uit die lug bespuit hoef te word. Op lang termyn sal dit beslis lonend wees om sulke grond
deur lugbespuiting te herwin.”
’n Boer wat prosopis redelik in toom kan hou met ’n paar metodes, is mnr. Carl Möller van Gannapan, Carnarvon. Hy stem wel saam die enigste werklik doeltreffende metode by digte besmettings is deeglike lugbespuiting.
“Ons het prosopis vroeër bestry deur dit met gif te bespuit, maar weens die groeiwyse is stukkies gereeld gemis. Dan loop dit weer uit en aanhoudende opvolgwerk is nodig.”
Wat Möller nou doen, is om bome af te saag – hoe laer, amper onder die grondlyn, hoe beter. Die stompe word oopgekloof en gif (750 ml Tordon gemeng met 20 liter vuil dieselolie) word dadelik daarin gesmeer. “Met die afsaagproses is dit asof die wortelstelsel alle sap ‘intrek’. Dit word ook in die wortelstelsel ingesuig en die plant vrek permanent.
“’n Mens moet daarop let dat ’n ry ogies onder die bas voorkom, net onder die grondlyn aan die stamme van die meeste doringtipes – waaronder prosopis. Veral dié ogies moet ontbloot behandel word. As die gif nie behoorlik aan die ogies gesmeer word nie, kan die plant met hernude krag daar uitloop.”
Nog ’n metode wat Möller redelik suksesvol toepas, is deur ’n skeurtandploeg se middelste tande uit te haal en dit met ’n padskraperlem te vervang. Dit word met ’n Caterpillar gesleep en die prosopis se wortelstelsel word onder die grond met ogies en al afgesny. Dit is egter duur en tydrowend.
PROSOPIS SE ANGEL
Elke boer in die Noord-Kaap, en deesdae ook die meeste boere in die Oos- en Wes-Kaap, Vrystaat en Noordwes, is deeglik bewus van die prosopis-indringerboom.
Mnr. Willie Auret, ’n kenner van onkruid en indringerplante, sê prosopis is lid van die Fabaceae-peulplantfamilie. Dit is oorspronklik ’n Noord-Amerikaanse spesie wat veral in die noordelike dele van Mexiko en die suidwestelike dele van Amerika (Texas en Nieu-Mexiko) voorkom. “Dit is ekstensiewe gebiede wat baie ooreenstem met die Karoo en die droër westelike dele van Suid-Afrika.”
In Amerika en Mexiko staan dit bekend as mesquite. Groot dele van Suid-Amerika is ook deur die prosopis vervuil.
Die eerste prosopisbome is aan die einde van die 19de eeu in die destydse Suidwes-Afrika (Namibië) ingebring, onder meer as koelte- en sierbome en peulvoeding vir diere. Omdat min bome dikwels in die droë klimaatsdele voorkom, is dit nie net as droogtebestand beskou nie, maar ook as bronne van hout en nektar vir bye. Dit het later suidwaarts na die Upington-omgewing versprei.
Daar is verskeie prosopisspesies – heuningprosopis is aanvanklik die land ingebring. Ander spesies het gevolg, en vandag kom ses spesies plaaslik voor. Dit is die heuningprosopis (Prosopis glandulosa), fluweelprosopis (Prosopis velutina) en hul basters wat die meeste hoofbrekens veroorsaak.
Die oorspronklike heuning-prosopis het te stadig gegroei en te min peule gedra, daarom is destyds na ander spesies gekyk. Die spesies P. glandulosa var. torreyana en P. velutina het geblyk die antwoord te wees, en het mettertyd die meeste heuningprosopis vervang.
’n Probleem het egter met die verbastering van die spesies ontstaan. Dié basters was veel meer gehard en moeiliker beheerbaar as die aanvanklike heuningprosopis. Die uitheemse plante, met min natuurlike vyande in Suid-Afrika, het vinnig aangepas en vermeerder, en dit is waarmee boere vandag op hul plase worstel.
Om dit deur konvensionele meganiese maniere, soos uitkapping en stompbehandeling, te probeer bestry, is baie arbeidsintensief, duur en stadig.
WATERDIEF
Na raming slurp prosopisplante jaarliks meer as 192 miljoen kubieke meter water op – gelykstaande aan 1 100 mm reën. Dit is grootliks in die droër en woestynagtige westelike dele van die land. Die prosopis se goed ontwikkelde wortelstelsel en penwortel onttrek water diep uit die grond. Op erg verdigte plekke kan dit selfs die ondergrondse watertafel nadelig beïnvloed.
Stande in party gebiede, veral rondom
droë waterlope en rivieroewers, is dig en ondeurdringbaar vir mens en dier. Dit verdring natuurlike plantegroei, waaronder die ou staatmaker-karoobossie, wat nie onder digte stande prosopis groei nie.
Die waarde van prosopis vir die veebedryf het ook drasties verminder, hoofsaaklik omdat peulproduksie van die verbasterings baie laag is.
Een Karooboer meen al waarvoor prosopis nog goed is, is dat dit uitstekende kole vir vleisbraai maak. Die moontlikheid om houtskool van prosopis te maak, is ondersoek, maar omdat dit meestal in afgeleë gebied voorkom, was dit nie ’n volhoubare antwoord nie. Die hoeveelheid water wat prosopis opslurp, is egter baie waardevoller as moontlike houtskool wat daarvan gemaak kan word.
Meer as 55% van die prosopisbesmetting kom in die Noord-Kaap voor. Me. Elna van den Berg van die Kaapse maatskappy Umvoto, wat onder meer navorsing en monitering van prosopis en ander indringerplante deur satelliettegnologie doen, meen egter digte stande in die Noord-Kaap het van 2007 tot 2014 minder geword, maar in die Wes- en Oos-Kaap, Vrystaat en veral Noordwes het dit toegeneem (sien TABEL ).
Benewens meganiese en chemiese bestryding is biologiese bekampingsmaatreëls in die laat 1980’s toegepas. Drie verskillende saadvretende insekte is vrygelaat wat prosopissaad moes vernietig. Tot dusver was die resultate nie baie goed nie, waarskynlik omdat die baster-prosopis die doeltreffendheid teenwerk.
Heelparty chemiese bestrydingsmiddels wat in Amerika gebruik is, is nou ook in Suid-Afrika geregistreer. Toedieningsdosisse moes egter verhoog word omdat die verbasterde spesie baie meer gehard en bestand teen chemiese middels is as die suiwer Prosopis glandulosa wat daar bestry word.
WAT DIE WET SÊ
Volgens die plantkenner mnr. Clive Bromilow, skrywer van die boek Probleemplante van Suider-Afrika, is prosopis ’n verklaarde indringerplant ingevolge die Wet op die Bestuur van Biodiversiteit (Nemba, Wet 10 van 2004). Indringer-2-plante (kommersiële indringerplante), soos prosopis, het wel ’n kommersiële benuttingswaarde. Dit mag onder beheerde toestande in afgebakende gebiede verbou word, met die volgende voorwaardes: Aanplantings moet tot die afgebakende gebiede beperk word.
Daar moet beheerde verbouings- en versorgingspraktyke binne die afgebakende gebiede wees.
Die plante of plantprodukte moet benut kan word.
Maatreëls moet getref word om die verspreiding daarvan buite die afgebakende gebiede te voorkom.