Só vermy jy kwaksalwery — kenner
As die aansprake oor ’n produk té goed klink om waar te wees, is dit waarskynlik die geval. Dring eerder aan op proewe op jou plaas, krap dieper as die bemarkingsaansprake en moenie in die wip van aansprake van kwaksalwers gevang word nie.
Die afgelope paar jaar was daar ’n skerp toename in die landboubedryf van “wondermiddels” wat plantgroei en die grond “verbeter”. Dit sluit in produkte soos oplossings met ’n verskeidenheid voedingstowwe of “nuwe chemiese formulasies”, vergruisde rots, organiese sure, asook verskeie ekstrakte van mikro-organismes en vis-, diereen groenteprodukte.
Oordrewe aansprake oor die voordele van sulke produkte vir plante en die grond word dikwels gebruik om die produkte te bemark, met gepaardgaande voor-en-ná-foto’s wat glo die beduidende reaksie op die bepaalde produk toon.
Navorsing het egter getoon dat hierdie middels dikwels geen invloed op die opbrengs of gehalte van oeste het nie, en dus vermorste uitgawes vir die boerdery beteken.
Bemarking van hierdie “alternatiewe” produkte gaan saam met aansprake oor die rol en doeltreffendheid daarvan in grondverbetering en gewasproduksie. Baie daarvan word byvoorbeeld geadverteer as alternatiewe vir tradisionele kunsmisprodukte of dat hulle die doeltreffendheid van die kunsmis verbeter. Gesonde verstand, saam met waarneming van die prestasie van hierdie produkte in veldtoestande, dui daarop dat hierdie aansprake dikwels met ’n knippie sout geneem moet word.
Daar moet kennis geneem word van die resultate van ’n ondersoek deur dr. Doug Edmeades, ’n gerespekteerde NieuSeelandse grondwetenskaplike, oor die doeltreffendheid van vloeibare kunsmis wat van organiese materiale afkomstig is.
In dié ondersoek het Edmeades na statisties ontwerpte velden laboratoriumproewe wat met
28 produkte in vele lande gedoen is, gekyk. Die resultate van meer as 800 proewe is geëvalueer.
Sy bevindinge is in die Australian Journal of Agricultural Research (vol. 53, bl. 965-976, 2002) gepubliseer. Sy gevolgtrekkings het die volgende ingesluit: “The results summarized in this review show that liquid fertilizers derived from natural products have no practical effect on crop yields when applied as recommended. It is possible that such products when applied at many times their recommended application rates may increase plant growth due to either the addition of nutrients, organic matter or plant growth hormones. However, the evidence suggests that this would require increasing the application rate by at least several orders of magnitude. It is most unlikely that such high rates would be economically viable.”
BEMARKINGSTAAL EN GEBREKE
Net so het dr. M.T. Rose en medewerkers in studies oor humusryke middels (Advances in Agronomy, vol. 124, bl. 37-89, 2014), en dr. Moshe Halpern en medewerkers in ondersoeke na biostimulante (Advances in Agronomy, vol. 130, bl. 141-174, 2015), bevind die reaksie op dié tipe produkte is onvoorspelbaar.
Boere behoort kennis te neem van hierdie belangrike waarnemings wat in hoogs aangeskrewe wetenskaplike joernale gepubliseer is.
Die aansprake van bemarkers van dié “spesialisprodukte”, asook die gevare en inherente gebreke van sulke aansprake, word in die TABEL hiernaas aangedui. ’n Fiktiewe produk, Soilkin, word in die voorbeelde gebruik.
’n Voortdurende bekommernis by die bemarking van hierdie produkte is die jargon en pseudowetenskap wat dikwels in die promosiemateriaal gebruik word. ’n Brosjure vir ’n bepaalde produk vir suikerriet maak daarop aanspraak dat dit opbrengs verhoog met ’n “korter internodale lengte” (korter internodiums in suikerriet word met laer opbrengste verbind!) Nog ’n produk is na bewering “geformuleer met normale anorganiese kunsmisinsette, soos . . . kaliumsulfied” (laasgenoemde is hoogs giftig).
Betekenislose jargon en slagspreuke is volop in dié produkinligtingstukke. Voorbeelde hiervan, wat eintlik betekenisloos is, sluit in “optimalisering van die grondchemie” en “hoë-energieplantvoeding”.
DIEETPILSINDROOM
Ook kommerwekkend is dat sommige produkte die volledige verandering van boerderypraktyke vereis. Daar kan dus van ’n boer verwag word om ander dinge saam met die aanwending van die produk te doen. Hierdie ander dinge lê dikwels aan die kern van die voordeel. Dit kan groenbemesting, wisselbou, deklae, bewaringsbewerking, die bestuur van suurheid of grondverdigting of soutgehalte, dreineringsbeheer, besproeiingskedulering en behoorlike voedingsbestuur insluit.
Die byvoeging van ’n paar liter van ’n “wonderproduk” bykomend tot bogenoemde praktyke het selde enige voordeel.
Dit is dieselfde as die “dieetpilsindroom”, waar die pil of drankie gewaarborg is om merkwaardige gewigsverlies te verseker, maar die fyndruk op die bottel lui: “Slegs doeltreffend as dit saam met ’n oefenplan en beheerde dieet gebruik word.”
Met ander woorde eet reg en oefen, dan het jy nie die pil nodig nie.
DOEN HUISWERK
Hoe moet ’n boer reageer as hy aan ’n nuwe produk bekend gestel word? Maak eerstens seker dat die produk ingevolge Wet 36 van 1947 geregistreer is en dat daar ’n registrasienommer op die etiket is.
Verder, as daar ’n klomp uiteenlopende en oordrewe aansprake oor gewaande voordele gemaak word, is die beste benadering om die verkoopsman te vra om die pad te vat.
As dit lyk of die produk wel voordele kan inhou, is die beste benadering dat die boer die toets van die produk op ’n stukkie grond toelaat (en die betrokke maatskappy ál die koste dra).
Die veldproef moet altyd ’n kontrole (geen toediening) insluit van die produk wat ondersoek word. Die boer moet seker maak dat die produk teen presies dieselfde koers toegedien word as wat op die etiket aanbeveel word. Opbrengste van die toetsblok en kontrole kan dan vergelyk word. Vergelykings moet visuele waarnemings én werklike opbrengsmetings insluit.
Toetsblokke moet groot genoeg wees sodat die verskille duidelik gesien kan word en grondverskille in ag geneem word. Vanweë seisoenale verskille moet hierdie soort toetse oor ’n paar jaar gedoen word voordat ’n besluit oor die doeltreffendheid van die produk geneem kan word.
Ter opsomming, boere moet veral bedag wees op baie van die “wonderprodukte” wat gedurig op die mark kom. Daar is geen twyfel dat miljoene (miljarde?) rande jaarliks in Suid-Afrika vermors word op landbouprodukte wat min of geen uitwerking op grondgesondheid, opbrengs of gewasgehalte het.
Daar is nie kitsoplossings vir grondgesondheid en volgehoue gewasproduksie nie. Dit vereis toegewyding aan goed gevestigde beste praktyke en die besef dat jy ’n komplekse en geïntegreerde stelsel bestuur.
Dr. Neil Miles is ’n onafhanklike grondwetenskaplike met ondervinding van verskeie gewasse en boerderypraktyke.