Belegging in kennis lewer opbrengste
Die eienaars van drie megaboerderye in Limpopo se Hoedspruit-omgewing het besluit om self beheer te neem van plaaswerkeropleiding en -ontwikkeling en het ’n eie landbou-opleidingsentrum op die been gebring.
Om ’n kursus aanmekaar te slaan en mense te kry om dit te slaag is maklik, maar ons wil meer as dit doen. Ons wil mense kry om jou besigheid se spesifieke vereistes, behoeftes en probleme raak te sien en te verstaan. Ons wil hulle toerus met die nodige kennis en insig dat hulle sélf met die oplossings vorendag kom.”
Dit is die ambisieuse woorde van mnr. Thias Taute, hoofbestuurder van die landbouopleidingsentrum Hoedspruit Hub. Dié voormalige hoof van die Meridian Karinoprivaatskool in Nelspruit het op vanjaar se Subtrop-transformasiesimposium verduidelik die Hoedspruit Hub is ’n sosiale onderneming wat plaaswerkers oplei, en bestaansboere en kleinboere leer hoe om volhoubaar en suksesvol met minimum insette te boer.
Taute het voorheen by die Hoërskool Ben Vorster en die Hoërskool Merensky in Tzaneen skoolgehou en ook by Stanford Lake College by Haenertsburg.
Die Hoedspruit Hub is in 2016 deur die Landman-groep, Blydevallei-boerdery en Bavaria-vrugtelandgoed as gemeenskapsonderneming gestig. “Ons is nie ’n maatskappy suiwer uit op winsbejag nie en ons is nie ’n nieregeringsorganisasie wat net opheffingswerk werk doen nie. Dit is ’n mengsel van die twee,” verduidelik dr. Anri Manderson, bestuurder van die Hub se landbouekologie-afdeling.
Aan die kommersiële kant verkoop die Hub die proses van opleiding en ontwikkeling, vaardigheidsoudits, en die opstel van opleidings en ontwikkelingsprogramme. Aan die sosiale-ontwikkelingskant werk die Hub saam met nieregeringsorganisasies in die Kruger-tot-Canyon-biosfeer en bied opleiding vir bestaans- en kleinboere in landbou-ekologie of organiese boerderypraktyke.
Vir die meeste nieregeringsorganisasies is dit dikwels die eerste stap om arm gemeenskappe teen klimaatsverandering te verskans. Dit skakel in by ander temas soos waterbesparing, voedselsekerheid en mikrobesigheidontwikkeling.
VERANTWOORDELIKHEID VAN KOMMERSIËLE BOERE
Dié temas val reg in Manderson se kraal. Sy het haar doktorale navorsing juis oor voedselsekerheidsbeleid gedoen en voor sy by die Hoedspruit Hub aangesluit het, het sy programme vir kleinboerontwikkeling by die Southern Africa Food Lab in Johannesburg bestuur.
Manderson sê daar is groot potensiaal vir die kommersiële landbou in SuidAfrika om ’n maatskaplike dryfveer te word wat landelike gemeenskappe help om te verander, sodat mense van ’n breër spektrum aan plattelandse ekonomieë kan deelneem. “Armoede rondom sterk landbougebiede soos Hoedspruit, Letsitele of Ohrigstad is oor
die algemeen ’n hartseer werklikheid,” sê sy.
Sy meen daar rus ’n mate van verantwoordelikheid op kommersiële boere om hulle oor omliggende gemeenskappe te ontferm. Boerderye se arbeidsmag kom meestal uit hierdie gemeenskappe en dit is in boere se belang om te verseker maatskaplike toestande in dié gebiede is gunstig.
PASGEMAAKTE OPLEIDING
In kommersiële en maatskaplike ontwikkeling begin die proses met ’n evaluering voordat opleiding begin. In die landelike gemeenskappe word die vlak van inheemse kennis vasgestel en dan word pasgemaakte opleidingsprogramme ontwikkel wat daarop voortbou en leemtes aanvul.
Dieselfde geld kommersiële opleiding. “Ons verkies dat kliënte sê, ‘hierdie is ons probleme’ sodat ons dan opleiding kan ontwikkel om daardie spesifieke kwessie aan te pak,” sê Taute.
Omdat die Hoedspruit Hub ISO 9001gesertifiseer is, volg die sentrum ’n geakkrediteerde ontwerp-en-ontwikkelingsmodule wat verseker dat die kursusse wat met die samewerking van kliënte ontwikkel word, volledig aan hul spesifieke behoeftes voldoen.
“Ons het nou al ’n paar kliënte bygekry, maar dit het begin by die oorspronklike drie kommersiële boere wat besluit het om opleiding te internaliseer. Wanneer een persoon van jaar tot jaar opgelei word, is dit ’n beter bestuurde ontwikkelingsproses en daardie persoon kan verder leer en miskien later ’n bestuursposisie beklee.
“Die gedagte was en is steeds om mense die geleentheid te bied om ’n loopbaan te volg in die landboumaatskappye waar hul werk,” voeg Manderson by.
Die proses is nie sonder probleme nie. Taute verduidelik dat mense wat op plase werk of wil werk, uit verskillende agtergronde kom en dat ongeletterdheid op die platteland soms ’n groot probleem is. “Dit beteken goeie werkers kan soms nie ’n kursus volg nie.”
Daarom het die Hub ’n werkplekgeletterdheidsprogram ontwikkel. ’n Volwaardige geletterdheidsprogram bevat dikwels meer leerwerk as waarvoor ouer werkers kans sien, maar met die werkplekprogram leer hulle net die woordeskat wat hulle in hul werksomgewing nodig het.
Daar is ’n soortgelyke program vir getalbegrip. “In landbou werk mense daagliks met syfers, en ons leer hulle die nodige vaardighede om te syfers te verstaan, te kan meet, berekeninge te maak en om die verhouding tussen die verskillende volume- en gewigmates te verstaan.”
Aandag word ook aan die begrippe snelheid, massa, koste, temperatuur, data en elektrisiteit gegee – alles om die werkers se begrip te verbeter, sodat hulle ’n meer konstruktiewe bydrae op die plaas kan
lewer. Hy het boere op die Subtrop-transformasieberaad gerusgestel oor die tyd wat werkers afwesig is terwyl hulle opgelei word nie. “Julle sal sien die opleiding motiveer mense en dat hulle sal teruggaan en hul tyd en energie in júl boerderye belê.”
Die Hub het sedert sy ontstaan al meer as 1 300 kursusse vir 804 studente aangebied. Kursusse sluit onder meer plantproduksie, leierskapontwikkeling, doelstelling, toesighouerontwikkeling, trekkerbestuur, landbouekologie en plaasbestuur in.
TEORIE EN PRAKTYK IN EEN KAMP
Alle opleiding word op die Hub se perseel by die Bavaria-vrugtelandgoed aangebied. Daar is twee lesinglokale waarvan een plek het vir 40 studente, ’n rekenaarsentrum, ’n raadsaal wat ook vir klein groepe studente se opleiding gebruik kan word, en ’n ou bus wat soms as lesinglokaal dien en soms as bymekaarkomplek vir klein groepies.
Taute, Manderson en mnre. Niel Ndlovu en Nelson Ngoveni bied opleiding aan en me. Karabo Mdhluli en mnr. Ishmael Komane word opgelei om ook kursusse aan te bied. Hulle is veral betrokke by die Hub se demonstrasietuin, waar die potensiaal van agri-ekologie, oftewel boerdery sonder chemikalieë, gedemonstreer word.
Onder ’n nethuis van herwonne materiaal kweek die Hub se span groente wat ’n gesin se dieet regdeur die jaar kan aanvul. Die res van die tuin is 0,2 ha groot en in vyf blokke verdeel, waar die verskillende groentefamilies geroteer word.
Omdat die groente sonder chemikalieë verbou word, het daar in Hoedspruit reeds ’n klein nismark daarvoor ontwikkel. Een van hul klante maak voedsame sappe vir kankerpasiënte en kan nie groente met chemiese residu gebruik nie. Daar is ook ’n gesondheidswinkel wat groente van die Hub koop en twee keer per week lewer die Hub groente op bestelling by dorpsmense af.
Studente van ander instellings, soos Agricolleges International, doen ook hul praktiese oefeninge en lê eksamens by die demonstrasietuin af.
Dan is daar studente van ander instellings wat ’n praktiese jaar moet voltooi om hul landboukwalifikasies te verwerf. “Sulke studente wat die Hub se keuringsproses slaag, word by ons kliënte geplaas en word dan deel van die verskillende programme by die Hub wat hulle beter voorberei vir die formele arbeidsmark,” sê Taute.
Die Hub het ook ’n hoërskoolbeursfonds by die Lowveld Academy op Hoedspruit, vir jong mense uit die plaaslike omgewing, wat daarvoor in aanmerking kom. Hul koshuisen skoolgeld word betaal en hulle kry mentorskap en bystand met hul studies.
’N SIELKUNDIGE MEEVALLER
Die gunstige effek van die Hoedspruit Hub se benadering tot opleiding op plaaswerkers se menswees, is ’n meevaller waarop daar nie gereken is toe die Hub gestig is nie. Dit het egter aan die lig gekom dat die Hub baie meer as net kennis oordra toe een van die instelling se finansiers, die Duitse ontwikkelingskorporasie GIZ, ’n maatskappy aanstel om die impak van die Hoedspruit Hub op sy studente se werksomstandighede te meet.
Big Mamma’s Famous Truth Shop het gevind mense se werksomstandighede is wel verbeter omdat hulle beter kan kommunikeer en voel hulle dra by tot die sukses van die boerdery of maatskappy waar hulle werk.
Die groot onthulling was egter wat die Hub eintlik vermag het en dit was nie aanvanklik ’n doelwit nie, sê Manderson, maar die studie het gevind dat opleiding by die Hoedspruit Hub mense se menswaardigheid opbou. “Mense is baie trots daarop as hulle geïdentifiseer word om hier opleiding te ontvang.”
Buiten die talle kursusse wat die Hub aanbied, leer dit mense ook om die wêreld vierkant en met trots in die oë te kyk.