Géén landboubedryf ontsnap die droogte
’N NASIONALE rampdroogtetoestand is nie in hierdie stadium nodig nie, maar die Oos-, Wes- en Noord-Kaap, asook Limpopo, moes beslis al meer as ’n jaar gelede tot rampgebiede verklaar gewees het.
Dít was die slotsom van mnr. Willem Symington, hoof van Agri SA se rampbestuursentrum, op ’n mediakonferensie waar die onrusbarende omvang van die droogte in veral dié provinsies geblyk het. Agri SA het ’n omvattende droogteverslag op die konferensie bekend gestel, waar verskeie bedryfsleiers oor die omvang van die droogte in hul bedrywe gepraat het.
Symington het gesê Suid-Afrika het ’n goeie reputasie wat optrede in ander rampsituasies betref, maar daar is ’n gebrekkige vermoë om rampe wat spesifiek deur klimaatstoestande in die landbousektor veroorsaak word, aan te pak.
“Die verantwoordelikheid berus hoofsaaklik by die departement van samewerkende regering wat met ander departemente moet skakel. Om ’n ramptoestand in ’n gebied af te kondig, stel nie iemand in ’n swak lig nie. Dit toon net daar is die voorneme om iets aan die ramptoestand te doen en die nadelige uitwerking daarvan teen te werk.”
WERKVERLIESE
Mnr. Christo van der Rheede, adjunkuitvoerende hoof van Agri SA, het gesê volgens studies het die droogte landboubedrywe sedert begin vanjaar reeds 30 000 werkgeleenthede gekos. Die publiek en landbou-ondernemings word gevra om skenkings aan Agri SA se droogterampfonds te oorweeg.
Agri SA onderhandel ook met banke en verskaf die name van boere wat geldelik sukkel, aan die banke om individueel te kyk hoe hulle gehelp kan word.