Waarom miljoene mense honger gaan slaap
Honger mense in Afrika suid van die Sahara stroom na Suid-Afrika in die hoop dat hulle geld gaan verdien waarmee hulle nie net vir hulself kos kan koop nie, maar ook hul familie in hul geboorteland kan help onderhou.
Sowat 728 miljoen mense uit ’n bevolking van 3,8 miljard in 76 sogenoemde laer inkomste lande het nie toegang tot voldoende voedsel om in hul daaglikse behoeftes te voorsien nie. Dit is die lande wat normaalweg voedselhulp kry en waar voedselsekerheid die grootste probleem is.
Die meeste van hierdie lande is in Afrika suid van die Sahara. Suid-Afrika, wat by die middel inkomste lande ingedeel word, word nie hierby ingereken nie.
Die dilemma is dat die persentasie honger mense in Suid-Afrika se buurlande in die volgende tien jaar hoog gaan bly. Na raming sal sowat een derde van die streek se bevolking oor tien jaar steeds, om verskeie redes, onvoldoende voedsel hê. In vergelyking met ander streke in die wêreld is dit die slegste prestasie wat verwag word.
Die feit dat soveel mense in die buurlande honger ly, is een van die redes waarom hulle na Suid-Afrika stroom. Hier kry hulle dikwels werk. Dit verhoog hul voedselsekerheid wanneer hulle geld het. In die meeste gevalle help hulle ook hul familie in hul geboorteland oorleef deur vir hulle geld te stuur.
Dit is ’n ope vraag wat die stand van sake in Zimbabwe sou wees as dit nie vir die miljoene Zimbabwiërs was wat in Suid-Afrika werk en geld vir hul families kan stuur nie.
Die ekonomiese navorsingseenheid van die Amerikaanse departement van landbou, gereeld navorsing oor voedselsekerheid wêreldwyd doen, se jongste verslag is onlangs bekend gemaak.
Luidens die verslag is die grootste groep mense wat nie voldoende voedsel het nie, in Afrika suid van die Sahara, dus Suid-Afrika se buurlande. In dié streek het sowat 35,3% van die bevolking nie voldoende voedsel nie, wat net meer as een uit drie mense beteken.
Voldoende voedsel word gedefinieer as die inname van ten minste 8 800 kilojoules per dag. Daarmee kan ’n mens ’n gesonde en aktiewe lewe lei.
Daar is verskeie redes vir onvoldoende voedselinname. Sekere mense se inkomste is ontoereikend om genoeg kos te koop, maar daar is ook lande met ’n tekort aan bekostigbare voedsel. Verskeie lae-inkomstelande ontvang voedselhulp en voer ook voedsel ten duurste in (hoewel van hulle goeie landbouhulpbronne het).
Die beskikbaarheid van voedsel word gedefinieer deur voedselproduksie en -handel in ’n streek of land te bereken. Handel, dit wil sê invoer, impliseer dat die land voldoende buitelandse valuta het om voedsel in te voer om in die behoeftes van sy bevolking te voorsien.
Finansiële toegang tot voedsel impliseer die berekening van inkomstegroei in die betrokke lande en streke, die groei in die ekonomie, werkloosheid en per capita-inkomste. Dit bepaal of die bevolking se voedselsekerheid verbeter of verswak.
Indien die projeksie van bevolkingsgroei en inkomstegroei in die volgende tien jaar in ag geneem word, verlaag die persentasie mense wat nie voedselsekerheid het nie, van 35% tot 22,5 % in Afrika suid van die Sahara.
Dit is steeds die slegste van al die streke ter wêreld. Een van die redes is dat die bevolking vinniger toeneem as wat hul per capitainkomste groei.
Grootskaalse verstedeliking vind plaas. Weens onproduktiewe boerderypraktyke kan daar nie genoeg voedsel geproduseer word om in die behoeftes van die vinnig verstedelikende bevolking te voorsien nie.
In dié streek is daar ook stamgrondbesit, met kleinboere en bestaansboere wat nie vinnig genoeg meer kan produseer namate verstedeliking en inkomste toeneem nie.
VOEDSELSITUASIE IN SA
Die feite spreek vanself. Nogtans wil die regering voortgaan om nuwe kleinboere op staatsgrond te vestig (sonder sekuriteit of ondersteuning), maar dit is nie regte model om kos aan ’n verstedelikende bevolking te voorsien nie.
Die ander feit – en ’n probleem in die streek – is dat dit baie duurder is om klein hoeveelhede voedsel na markte met swak infrastruktuur te neem, as wat dit is om die skaalekonomie te gebruik. Die transaksiekoste is laer en dit verseker goedkoper voedsel in die winkels.
Suid-Afrika vaar baie beter met die verskafwat
fing van voldoende en bekostigbare voedsel aan sy bevolking. Suid-Afrika is daarom uitgesluit van die lande suid van die Sahara waarop die ontledings van Suider-Afrika gegrond is.
Dié lewering van genoeg voedsel word behaal ondanks die feit dat Suid-Afrika se kommersiële boere van die minste staatsondersteuning ter wêreld kry, luidens navorsing van die sekretariaat van die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling. Dit is ook bekend dat Suid-Afrika van die swakste hulpbronne in die streek het (Namibië en Botswana uitgesluit).
GRAFIEK 1 toon die getal mense in Suid Afrika wat nie voedselsekerheid het nie, luidens ’n verslag van die Voedsel- en Landbou-organisasie (VLO) van die Verenigde Nasies. Dit is onrusbarend dat die getal oor die afgelope paar jaar aansienlik toegeneem het.
Dit kan onder meer toegeskryf word aan ’n stagnerende ekonomie en baie lae (indien enige) groei in die per capita-inkomste. Sowat 30% van die werksoekende bevolking is tans werkloos en die persentasie bly styg.
GRAFIEK 2 toon die bedrae wat die staat aan maatskaplike ondersteuning (maatskaplike toelaes) bestee en hoe begroot word om dit in die volgende paar jaar te verhoog. Die staatsbesteding aan maatskaplike toelaes styg voortdurend. Vir 2019 is in die mediumtermynbegrotingsraamwerk geskat dat bykans 20 miljoen mense staatstoelaes kry.
In die 2019-’20-boekjaar is R277 miljard vir maatskaplike toelaes begroot. Navorsing toon dat meer as die helfte daarvan aan voedsel bestee word.
HONGER BUURLANDE
Die huidige stand van mense in buurlande wat nie voedselsekerheid het nie, word in die TABEL weergegee. Hulle kan dus beskou word as mense wat honger ly. Dit toon die bevolking, asook die geraamde persentasie wat nie genoeg voedsel inneem nie.
Angola, waar 42,9% van die bevolking nie genoeg kos het nie, beskik oor ryk landbouhulpbronne. Daar is ongelooflike, onontginde landboupotensiaal.
Die dilemma is die korrupte regering en die omkoopgeld wat betaal moet word om tot besigheid toe te tree. ’n Bykomende probleem is die gebrekkige infrastruktuur om produkte en insette te vervoer.
In Zambië, wat baie beter as Zimbabwe daaraan toe is wat landbouhulpbronne betref, word geraam dat 61% van die bevolking nie daagliks voldoende toegang tot voedsel het nie. Dit is eweneens ’n land met groot onbenutte landboupotensiaal. Met die regte beleidsbenadering sal dit hopelik in die volgende dekade aansienlik verbeter met toenemende voedselproduksie teen bekostigbare pryse en ’n stygende per capita-inkomste.
As die groot persentasie mense met onvoldoende voedsel in die buurlande – ondanks die goeie landboupotensiaal – in ag geneem word, blyk dit dat kommersiële landbouproduksie wat bekostigbaar aan ’n toenemend verstedelikende bevolking gelewer kan word, grootliks die verskil is. Dit sluit tegnologie, kundigheid en ’n sekere vlak van die skaalekonomie in. ’n Groeiende ekonomie en verhoogde indiensneming met ’n styging in die per capita-inkomste is ook nodig.
Suid-Afrika is sy buurlande ver vooruit wat die kwessie van voedselsekerheid betref. As die regering na die buurlande kyk, sal hy egter sien hoe maklik dinge kan skeefloop.