Maak altyd seker jou testament is uitvoerbaar
Moet nooit onder die indruk verkeer dat jou testament eenvoudig is en dus nie behoorlik getoets hoef te word vir uitvoerbaarheid nie. Daar is baie slaggate wat sake vir jou erfgename kan bemoeilik wanneer jy nie meer daar is nie.
Dit is ’n nimmereindigende bron van verbasing dat so baie mense op onopgeleide raadgewers vertrou in die voorbereiding van hul testamente, een van die belangrikste dokumente wat hulle waarskynlik ooit sal onderteken. Maar tog word die howe té dikwels betrek om uitsluitsel te gee oor betwiste testamente, wat die gevolg is van die slordige opstel daarvan.
Hoewel hierdie stelling (met respek) my eie frustrasie met sogenoemde goedkoop of gratis testamente weerspieël, is dit nie my woorde nie. Di tis’ n vry vertaalde aanhaling uit die appèl hofuitspraak in die saak Raubenheimer vs. Raubenheimer en ander.
Ek sien dit gereeld in ons praktyk, asook in pos wat ek van lesers ontvang. In laasgenoemde geval is dit gewoonlik te laat om iets daaraan te doen, want die testateur is dan al saliger en onbewus van die gemors wat hy of sy nagelaat het.
Goeie bedoelinge is net nie goed genoeg vir ’n testament nie. Dit moet uitvoerbaar wees, en daarom moet dit aan bepaalde regsvereistes voldoen. Dit is helaas iets wat nie almal wat hul hand aan die opstel van testamente waag, behoorlik begryp nie.
Die testament moet ook uitvoerbaar wees in die sin dat dit wat jy bemaak, wel bemaakbaar is. Om ’n voorbeeld te noem: Ek sien nou die dag (ongelukkig ook eers ná die testateur se afsterwe) dat hy vir iemand ’n vruggebruik oor ’n eiendom geskep het sonder om daaraan te dink dat hy soveel skuld het dat bates, ingesluit die bate waaroor hy die vruggebruik geskep het, verkoop moes word om eers die skuldeisers te kan betaal.
Die taal wat gebruik word, gaan ’n invloed hê op die uitvoerbaarheid van die testament. Jy moenie net bedoel wat jy daarin sê nie, jy moet sê wat jy bedoel. Byvoorbeeld, byna almal praat van “lewensreg”, maar daar bestaan nie so iets nie. Daar is wel ’n vruggebruik, ’n woonreg of ’n fideicommissum. Daar word na hulle as “beperkte regte” verwys, maar elkeen se gevolg en die regsgevolge vir die bevoordeelde is anders.
In die aangehaalde saak hierbo had die hof onder meer juis te doen met die skep van ’n vruggebruik. Of nie. In hierdie geval het die testateur eers sy hele boedel aan sy vrou bemaak en toe net in die volgende klousule vir haar ’n vruggebruik oor die woonhuis geskep. Hy het egter nie genoem aan wie die woonhuis waaroor hy vir haar ’n vruggebruik geskep het, moet vererf nie.
Kortom, jy skep ’n vruggebruik of ander beperkte reg vir iemand wat nie die eiendom erf nie. Só kan A die eiendom erf, maar B kry die vruggebruik. In hierdie geval het hy
A nie genoem nie en daarom moes die hof uitsluitsel gee. Laat ek weer uit die saak aanhaal: “Die woord ‘vruggebruik’ word baie keer losweg gebruik, en die gebruik daarvan in ’n testament beteken nie noodwendig dat die testateur die regsgevolge daarvan verstaan nie.”
Moenie ’n testament opstel sonder dat daar eers omvattend na jou hele boedel gekyk is nie. Daarsonder gaan jy nie weet wat die regsgevolge van jou bemakings is nie (soos hierbo met die vruggebruik). Jy gaan ook nie weet wat die geldelike gevolge vir jou erfgename gaan wees nie (en of hulle dalk in ’n hof sal moet gaan staan en baklei).
Jy gaan ook nie weet wat die belastinggevolge is sonder goeie beplanning nie. Belasting, soos skuld, sal eers betaal moet word voor enige bemaking. Belastings en skuld word betaal uit die restant van die boedel, wat jou restant-erfgename kan benadeel indien jy net ’n hierjy-testament gaan opstel omdat jy gedink het, soos ek dikwels hoor: “Ag, my testament is maar eenvoudig.”
Nico van Gijsen is lid van Fisa en besturende direkteur van Finlac, ’n onafhanklike finansiële risiko-bestuur s maatskappy.