Voedselproduksie se koolstofspoor
Die Suid-Afrikaanse landbou- en voedselbedryf sal sy sokkies moet optrek ten opsigte van sy koolstofspoor en die uitwerking daarvan op aardverwarming om tred te hou met die heersende klimaatsamesprekings wêreldwyd. Dié bedryf is tans nog uitgesluit van die koolstofbelasting wat in 2020 in werking tree.
Die aarde verwarm vinnig weens die vrystelling van kweekhuisgasse, soos CO2 (koolsuurgas), NH4 (metaangas) en N2O (stikstofoksied) deur menslike bedrywighede. Luidens die jongste spesiale verslag van die tussenregeringspaneel oor klimaatsverandering van die Verenige Nasies oor “klimaatsverandering, verwoestyning, grondverswakking, volhoubare grondbestuur, voedselsekerheid en kweekhuisgaswisselinge in ekostelsels” het die aarde se gemiddelde temperatuur sedert die voornywerheidstydperk met 0,8 °C toegeneem en op land met 1,5 °C. Om die styging van die gemiddelde globale temperatuur tot 1,5-2 °C te beperk en daarmee die mees drastiese gevolge van klimaatsverandering te vermy, word ingrypende stappe benodig om die vrystelling van kweekhuisgasse te beperk. Dit is omtrent ’n resies teen tyd.
Voedselproduksie (dus landboubedrywighede, asook die produksie en vervoer van landbou-insette en voedselverwerking) is verantwoordelik vir 21% tot 37% van die wêreldwye vrystelling van kweekhuisgasse deur menslike bedrywighede.
Die skatting van hierdie persentasie wissel drasties na gelang van watter bedrywighede en bronne van kweekhuisgas in die berekening ingesluit word en weens onsekerheid oor die werklike vrystellings.
Hoe ook al, die landbou lewer ’n stewige bydrae tot die totale vrystelling van kweekhuisgasse. Nes die energie- en vervoerbedryf sal die landbou moet help om die vrystelling van kweekhuisgas te beperk, veral in ’n poging om die voorspelde temperatuurstyging tot 1,5-2°C te beperk.
SÓ STEL LANDBOU KWEEKHUISGAS VRY
Wanneer dit by die vrystelling van kweekhuisgasse deur landboubedrywighede kom, dink ’n mens vinnig aan werkende trekkers en stropers wat diesel verbrand. In werklikheid maak dit slegs ’n klein deel van die totale vrystelling uit.
Die uitbreiding van landbougrond ten koste van natuurlike grond gaan gepaard met ’n groot verlies aan bogrondse en ondergrondse koolstof, wat as CO2 vrygestel word. Daar is ’n enorme hoeveelheid koolstof in die boonste 2 m van die grond vasgevang. Die hoeveelheid ondergrondse koolstof daal vinnig indien grond van voormalige woude, savannas of grasvelde omgeploeg word. Dit is weens verminderde koolstofinsette in die vorm van plantneerslae in die grond en die vinniger afbreking van koolstof in die grond.
Die ploeg van grond, wat suurstof in die grond bring, en die toediening van stikstof (N) verhoog die aktiwiteit van organismes wat die koolstof as kos gebruik en in CO2 omsit. Ook grasveld wat oorbewei word, verloor baie ondergrondse koolstof.
’n Ander groot bron van kweekhuisgasse het te doen met die stikstofsiklus. Dit behels ’n energie-intensiewe proses om N-kunsmis te vervaardig. Nagenoeg 1% van die wêreldkragverbruik is vir die produksie van N-kunsmis. Bowendien stimuleer die toediening van
N-kunsmis en ander N-insette die vrystelling van N2O-gas, wat ’n baie sterker kweekhuisgas as CO2 is, deur bakterieë in die grond. Omtrent 75% van die N2O-vrystellings wêreldwyd kan aan landboubedrywighede toegeskryf word.
Verder is die landbou ’n aansienlike bron van metaangas, ’n ander kragtige kweekhuisgas. Ryslande wat onder water lê (nie van toepassing op Suid-Afrika nie) en herkouers is die groot sondaars op dié gebied. Herkouers, soos beeste, bokke en skape, het organismes in hul pense wat hulle in staat stel om plantaardige kos van ’n lae gehalte te verteer. In die proses produseer dié organismes metaangas, wat die herkouers uitasem.
KOOLSTOFSPOOR
Die koolstofspoor gee ’n aanduiding van die totale hoeveelheid kweekhuisgas in CO2ekwivalente, wat metaan- en N2O-gas insluit, wat vrygestel word deur die produksie en verwerking van ’n produk. Anders as die waterspoor wat in ’n sekere sin ’n teoretiese
getal is, is die koolstofspoor ’n skatting van die werklike vrystelling.
Die koolstofspoor word sterk beïnvloed deur waar en hoe ’n produk geproduseer word. Dit verskil van plek tot plek en tussen produksiestelsels. Die TABEL toon die gemiddelde wêreldwye koolstofspoor van verskillende voedselprodukte.
Al is daar groot verskille in die koolstofspoor binne produkgroepe, is dit duidelik dat diereprodukte ’n baie groter koolstofspoor as plantaardige produkte het. ’n Groot deel van die diereprodukte word gelewer met behulp van graan- en proteïengewasse. Dit is uiteraard doeltreffender as mense regstreeks gewasse eet pleks van om dit aan diere te voer en die dierlike produkte te eet.
Hoenders benodig omtrent 1,5-2 kg voer om 1 kg lewende gewig aan te sit. Vir varke is dit 3-5 kg en vir beeste 5-10 kg. Bowendien word daar gevind dat herkouers (beeste en skape) aansienlike hoeveelhede metaangas vrystel, wat die koolstofspoor van rooivleis verder vergroot.
MANIERE OM VRYSTELLING VAN KWEEKHUISGASSE TE VERMINDER
Boere kan hul boerderymetodes aanpas om die koolstofspoor van voedselproduksie te verminder. Ekstensiewe vorme van gewasproduksie, soos organiese landbou, lei nie noodwendig tot ’n laer koolstofspoor nie.
Al het ekstensiewe gewasproduksie ’n betreklik lae koolstofspoor per hektaar, is die produksie per hektaar ook heelwat laer. Dit is die koolstofspoor per eenheid van die produk wat tel.
Bowendien beteken ’n laer produksie per hektaar dat ’n groter gebied benodig word om ’n sekere hoeveelheid kos te produseer. Dit is juis die uitbreiding van landbougrond ten koste van natuurlike gebiede wat lei tot ’n groter vrystelling van kweekhuisgasse.
Verkieslik moet die bestaande landbougrond produktiewer gebruik en die doeltreffendheid van insette geoptimaliseer word. Byvoorbeeld, al lei die gebruik van stikstofkunsmis tot aansienlike vrystellings van kweekhuisgasse, moet die klem nie eenvoudig op die vermindering van die gebruik van N-insette lê nie, maar op die doeltreffende gebruik van N. Die opbrengs per kg N toegedien moet dus verhoog word.
Bewaringslandbou, goeie weidingsbestuur en ander tegnieke wat help om die koolstofvlakke in die grond te verhoog, kan landbougrond laat verander van ’n bron van CO2 tot ’n opbergplek van CO2.
Om die koolstofspoor van voedselproduksie aansienlik te verminder, sal die ryker deel van die wêreldbevolking minder diereprodukte moet eet. Selfs die diereprodukte wat so doeltreffend moontlik geproduseer is, het ’n baie hoër koolstofspoor as plantaardige ekwivalente vir proteïen- en kilojouleproduksie (Poore & Nemecek, 2018).
Dit is nie ’n gewilde boodskap in Suid-Afrika en elders nie. Maar die boodskap vereis ook fyn onderskeidings. Daar is groot verskille tussen die koolstofspoor van verskillende diereprodukte. Pluimvee- en visprodukte het byvoorbeeld ’n heelwat laer vrystelling as rooivleis. Hoenderproduksie speel ’n belangrike rol om die armer verbruikers van bekostigbare vleis te voorsien.
Rooivleis moet egter nie heeltemal uitgesny word nie. Herkouers het immers ’n besonder doeltreffende vermoë om plantaardige materiaal met ’n lae voedingswaarde (gras en oesreste) tot diereprodukte van ’n hoë waarde om te skakel.
Groot dele van Suid-Afrika se landbougrond is net vir beweiding geskik. Sonder herkouers is dit bykans onmoontlik om dié grond produktief vir voedselproduksie in te span. En indien die beeste, skape en bokke van die veld verdwyn, wat sal die ekologiese rol van hierdie diere oorneem? Wilde bokke is net sulke goeie herkouers en stel ook metaangas vry.
Die herkouers raak eers ’n probleem uit ’n omgewingsoogpunt indien hulle intensief met graan gevoer word.
Om die koolstofspoor van voedselproduksie te verminder, verg ’n wisselwerking tussen boere, verbruikers en beleidmakers.
Neem ook die ekonomiese werklikheid in ag. ’n Boer wat sukkel om ’n bestaan te maak, sal hom nie steur aan die koolstofspoor van sy produksie nie. Die landboubedryf produseer wat die verbruiker wil hê, en die verbruiker is deurgaans baie lief vir diereprodukte indien sy of hy dit kan bekostig.
Waar sprake is van ’n wen-wen-situasie, is dit eenvoudiger. In sekere omstandighede is bewaringslandbou ’n goeie opsie om die koolstofspoor te verminder én die produktiwiteit en volhoubaarheid van gewasproduksie te verbeter. Die optimalisering van die doeltreffendheid van insetgebruik is nog ’n voorbeeld van ’n wen-wen-situasie.
Dinge raak lastiger indien winsgewendheid en ekologiese volhoubaarheid mekaar teenwerk. Dít is wanneer die owerheid grense moet stel.
Die landbou- en voedselbedryf in Suid-Afrika is vir eers uitgesluit van die koolstofbelasting wat in 2020 in werking tree en sal net onregstreeks daardeur geraak word. Die voorneme is egter om die landbou in die toekoms in te sluit.
Elders, met spesifieke verwysing na ontwikkelde lande, het die koolstofspoor van voedselproduksie ’n groot invloed op die huidige klimaatsamesprekings en is dit ’n groot dryfkrag in ontwikkeling in die landboubedryf.
Prof. Linus Franke is die departementshoof van grond-, gewas- en klimaatwetenskappe in die fakulteit natuur- en landbouwetenskap aan die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein. Hy is ook ’n naweekboer wat met Bonsmaras naby Brandfort boer. Volledige bronverwysings is by hom beskikbaar. 051 401 2212.