Landbouweekblad

Jou storie: ’n Bul van ’n dag

‘Dit is só eenvoudig en tog só doeltreffe­nd, mense,’ het Smiler, braaiwors in die hand, beduie. ‘Maak net ’n kopskuif van die negatiewe na die positiewe. Dink positief, doen positief en leef positief.’ Dít is presies wat Klara beoog om te doen.

- Sybil Venter (89) woon in Fynbos Park, Humansdorp.

Dit is nie verniet dat die vurige rooikop se naam Smiler is nie. Die ewige optimis, dink Klara toe sy die beddegoed afskop en voor die oop venster gaan staan. En dít is presies wat sy vandag gaan doen, besluit sy. Al wat dit verg, is ’n kopskuif. Sy voel so fris soos hierdie lentedag. Die huis is stil. Die tweeling is weg op ’n rugbytoer en Frans is ook vroegdag al weg na ’n boedelveev­endusie iewers in die Vrystaat. Dit is nou die ideale geleenthei­d om Smiler se filosofie te beproef. Gewapen met “moenie aan jouself twyfel nie” op haar tong en in haar kop, takel sy haar jare lange teerpunt: Eiers bak.

Dit is nou een huishoudel­ike takie wat sy nog nooit kon baasraak nie. Nie in olie, nie in botter of met Spray & Cook nie. Haar gebakte eier het altyd gelyk soos ’n stormrivie­r wat oor ’n sandbank bars – taai en ’n nekslag vir enige aptyt.

“Tog net nie gebak nie, Ma,” hoor sy die tweeling se sporadiese onderstrep­ing van haar onvermoë.

“Kom nou, Klara, word kalm en dink positief en volg net stap vir stap,” bemoedig sy die brose vrou in haar.

Tik, breek en perfek, heel en rond lê die eiergeel in die pan. Deksel op. Hitte laer.

“Ek kan, ek kan,” tel sy die sekondes af. Haal ná minute die deksel af en daar wag ’n pragstuk van ’n gebakte eier. Wit net gestol en geel nog loperig! Toe bak sy sommer nóg drie eiers vir in geval en eet ál vier die pragstukke op.

“Jô, jô. Jy’s vroeg honger,” groet Nene vanuit die agterdeur

met haar oë veelseggen­d op Klara se onderlyf.

Klara lag wyd en sonnig. “Ek moet sterk wees, daar lê nog baie werk voor vandag.”

PERFEKTE PANNEKOEKE

Met die aanvaardin­g van haar eie vermoë rinkink die energie deur haar lyf terwyl sy na die volgende uitdaging jag. Toe onthou sy met ’n warm blos.

“Mamma, ek het vir my juffrou gesê jy sal Saterdag met ons skoolfunks­ie pannekoek bak,” het een van die tweeling blinkoog die tyding gebreek. En Klara weet voor haar siel dat sy ’n ramp by enige pannekoekt­afel is. Daardie verwagting kon sy egter nie van die gesiggie afvee nie.

Sy het vyf resepte bestudeer en toe die bestanddel­e versigtig uitgemeet. Stap vir stap deur die beproefde “Pannekoek vir ’n Koning” se aanwysings gewerk en bly bid. Selfs peperduur room ingevou. ’n Verskeiden­heid panne, spane en selfs ’n langtand-rolvurk saam met die kaneelsuik­er ingepak.

Gevoorskoo­t en met die houding van ’n ervare bakster het sy weggeval. Wat ’n konsternas­ie! Sy bloos nou nog met die gedagte daaraan. Vasgebrand, te dik, te dun en die flopbord word ál voller. Totdat mevrou Dominee ewe taktvol die nagmerrie geëindig het met: “Mevrou Burger, ek sien hulle kort hande by die kaneelstro­oi. Sal jy asseblief daar gaan help?” En dit is toe waar sy gebly het – by die kaneelstro­oiery van elke skoolaange­leentheid. Sy kon nie die vurkding bemeester nie en moes agterna haar halfgaar vingers troetel.

En nou, Smiler, gaan hierdie vrou pannekoek bak. Watch my! Sy diep weer dieselfde resep op, meng soos ’n veteraan, terwyl sy neuriesing: Ek kan, ek kan. Van die eerste pannekoek tot die deeg op is, skiet sy hulle dak toe en vang elkeen met flair. Die adrenalien galop deur haar are.

Dit is te goed om waar te wees, prys sy haarself wanneer sy later die stapel goudbruin pannekoeke in ongeloof aanskou. Hoeveel geleenthed­e het sy nie deur haar vingers laat glip as gevolg van blote negatiwite­it nie.

DIE VOLGENDE PROBLEEM

Wat ’n wonderlike dag. Hoe het oom Dirk Nek altyd gesê? “Dit is nou ’n dag om vir ’n bul te laat loop,” onthou sy met ’n guitige laggie.

En vir jul informasie, sê sy vir haarself, ek is ’n plaasmeisi­e. Ek ken van kalwers en dinge. Tussen die seisoen se bulkalwers word die een met die vurige oë, sterk bouvorm en die trots van ’n Afrikanerb­ees in sy houding, afgehok. Die res kry rekkies om hulle what you may call ’t en word osse.

Nou-ja. Hierdie dag kry nie ’n rekkie om nie, sy gaan hom vir ’n bul laat loop, besluit sy plegtig en beur orent teen ’n gevoelige iets.

“Glo net in jouself, bly positief dink,” pols dit deur haar en sy roep vlugtig ’n beeld van ’n Petrus wat op stormsee loop en toe sink, voor haar op. Waar wil jy nou ’n geloofwaar­diger voorbeeld van die stelling kry as hierdie?

Smiler, jou ou doring, hoekom het jy nie al jare gelede met hierdie towerformu­le van jou vorendag gekom nie?

Sy trippel by die agterdeur uit en sien die skewe dakteël op die vleiskamer se dak raak.

Hoeveel keer het sy nie al asseblief gevra nie. As dit reën, is die vleissaag altyd onder water.

“Nene! Nene, vrou,” skop die testostero­on-dinges soos ’n veldsmerri­e in. “Bring vir my die leer by die garage.”

“Om te wat?” roep Nene ontsteld terug.

“Om maan toe te klim.” “Waar’s ’ie maan?” “Nene, kom hou die leer vas dat ek kan opklim en hou op vrae vra,” sê Klara ongeduldig, gewapen met ’n hamer agter by haar broek ingesteek en ’n skroewedra­aier in haar broeksak.

Vlugvoets klim sy boontoe. Sy wonder nog wat Frans van haar bravade sal sê, toe gee alles onder haar pad.

Brandewyn of harsingsku­dding? Sy kom by in ’n woeste reënbui en snak na asem.

“My magtig, Nene, wat maak jy met die tuinslang?” hoor sy Frans vaagweg vra.

“Jô-jô, Klaratjie hy lôp daar by die lêdder en toe val hy en toe lê hy stil en toe spyt ek hom mettie hose.”

Klara begin hoes en voel hoe sy opgetel word. Haar kop tol.

“Hy was die hele dag so hêppie ek dink hy suip jou brêndie,” roep Nene.

Klara maak haar oë oop toe sy Frans se voetstappe uit die kamer hoor wegsterf. Versigtig draai sy haar op haar rug in die snoesige bed. Wat nie gekneus is nie, is gekraak of uit lit uit. Dit voel asof ’n trein haar getrap het. Of ’n bul.

Dan vlam die triomfantl­ike wete oor die pyn: Sy sou daardie teël in sy plek gekry het as die verbrande sport nie gebreek het nie.

“My bul kry nie ’n rekkie nie . . . ” prewel sy dit met ’n verspotte laggie. En Frans, wat intussen met ’n bordjie toebroodji­es die kamer ingekom het, gooi sy hande in die lug. Sou sy vrou harsingsku­dding hê, of is Nene dalk reg?

Tussen die seisoen se bulkalwers word die een met die vurige oë, sterk bouvorm en die trots van ’n Afrikanerb­ees in sy houding, afgehok. Die res kry rekkies om hul what you may call ’t.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa