Hart tot hart
Bestaan daar ’n kloof tussen die ek-mens en die onsmens? Miskien moet ons eers so ’n ietsie uitlig oor elke mens van wie hier gepraat word. Die ek-mens is óf openlik óf op ’n verskuilde manier op homself gerig. Die Nederlandse digter Willem Kloos het op sy eie manier hierdie gesindheid verwoord (vry vertaal): “Ek is ’n God in die diepste van my gedagte en sit in die binneste van my siel op my troon.” Die Bybel verhaal verskeie sprekende voorbeelde van die aanstootlike ek-mens. Kom ons kyk na die portrette van slegs twee: Lukas, die evangelis, vertel die volgende verhaal: Daar was eendag ’n ryk man wat homself gemaklik ryk gevind het binne die vergulde raam van die ekmens. Dit is opvallend hoe dikwels hy die woorde “ek” en “my” gebruik. Hy vertel dan hoe hy sy bates gaan opgaar tot hy genoeg sal hê om, onafhanklik van enigiemand anders, net vir homself te leef. Wat ’n mooi (lelike) voorbeeld van die ek-mens (Luk. 12 vers 13-21).
Die ander voorbeeld is dié van koning Nebukadnesar wat sy belangrikheid wou bewys deur ’n groot stad, Babilon, te bou en daarop te roem dat dit alles die vrug van sy voortreflikheid is. Ook hierdie ek-mens se val was so groot soos sy verbeelding.
Maar kom ons kyk nou na die onsmens. Hy val in ’n totaal ander klas. Hy sien die ander mens raak as deel van die groep wat die Bybel aan ons voorstel as “ons naaste”. Seker een van die mooiste dinge wat aan iemand toegesê kan word, is “die liefde”.
Van ons-mense word verwag om God “lief te hê bo almal en ons naaste soos onsself”. En net om seker te maak dat ons hierdie opdrag nie verkeerd verstaan nie, vertel Christus dan die gelykenis van die barmhartige Samaritaan.
En dít is die verskil tussen die twee soorte mense – die ek-mense en die ons-mense.
Jy kry hulle ook in Suid-Afrika.