‘SONDER INVOERBESKERMING SAL MEESTERPLAN MISLUK’
ASTRAL FOODS het ’n slegte boekjaar agter die rug, maar is volstoom besig met die vernuwing van sy Festive-aanleg by Olifantsfontein, Gauteng, om sy produksievermoë met 16% te vergroot.
Mnr. Chris Schutte, uitvoerende hoof van Suid-Afrika se grootste hoenderprodusent, is optimisties dat die regering se benadering gaan verander om plaaslike produsente teen ingevoerde, gestorte hoendervleis te beskerm, en dat dit vir plaaslike produsente ’n gaping op die mark sal open.
Schutte het met die bekendmaking van Astral se resultate vir die jaar tot 30 September gewaarsku die nuwe meesterplan vir die pluimveebedryf sal net werk as invoer beperk word.
In die afgelope boekjaar het die plaaslike bedryf sowat 19,3 miljoen braaihoenders per week gelewer, terwyl gemiddeld sowat 8 miljoen per week ingevoer is.
Die bedryf het aansoek gedoen om ’n tarief van 82% op ingevoerde hoenderstukke aan die been en beenlose snitte, maar Schutte het gesê daar word bespiegel dat die regering nie ’n tarief hoër as 60% sal toestaan nie. Teen druktyd was daar nog geen aankondiging nie.
Volgens Schutte sal Astral se opgeknapte aanleg by Olifantsfontein vir die maatskappy buigbaarheid bring om verskeie produkte op enige tyd te kan vervaardig.
Astral wil in die toekoms meer doelgerig tot die mark vir vars en waardetoegevoegde produkte toetree.
UITVOER MOONTLIK?
Die bedryf se meesterplan bepaal onder meer dat hy meer moet uitvoer, maar volgens Schutte is dit moeilik om met lande mee te ding waar landboubedrywe gesubsideer word. “Dié speelveld gaan nie maklik gelyk gemaak word nie.”
Volgens hom sal Suid-Afrikaanse produsente moet spesialiseer in onder meer borsvleis om te kan uitvoer. “Die geleenthede wat ons sien, is waarskynlik die
uitvoer van gaar borsvleis na die Europese Unie (EU).”
Mnr. Gary Arnold, besturende direkteur van landbou by Astral, sê die EU voer sowat 900 000 ton borsvleis per jaar in. Vir Suid-Afrika om soontoe te kan uitvoer, moet die land se regeringsagentskappe versterk word, sy sanitêre en fitosanitêre maatreëls gereed wees en hy moet EU-akkreditasie kry.
Arnold sê hoewel die bedryf reeds baie selfregulering toepas, sal dít ook versterk moet word. “Ons sal die eerstes wees wat uitvoer as ons ’n hoër prys kan kry. So ’n prys kan ’n mens nie in Suid-Afrika kry nie.”
Hy sê Astral kyk na moontlikhede om binne die volgende drie jaar gaar produkte na die EU uit te voer en binne die volgende vyf jaar hopelik rou produkte.
INKOMSTE STYG
In die afgelope boekjaar het Astral se pluimveeafdeling te kampe gehad met voerkoste wat 7,7% hoër was, terwyl die gemiddelde prys van hoendervleis met 2% gedaal het.
Die afdeling se bedryfswins het met 74,5% gedaal.
Die afdeling het wel, soos in die vorige tien jaar, vordering gemaak met sy voeromsettingsverhouding deurdat 16 g minder voer gebruik is om 1 kg lewende gewig aan te sit. Schutte het gesê gemeet aan Astral se groot jaarlikse volume, maak 16 g per hoender ’n groot verskil.
Die maatskappy het ’n hele paar buitengewone uitgawes gehad, soos ’n gewelddadige staking in KwaZulu-Natal, die inwerkingtreding van die nuwe minimum loon en wateronderbrekings op Standerton.
Astral Foods as geheel se inkomste het met 4% gestyg, maar sy wins voor rente en belasting het met 55% gedaal. Dié syfers is vergeleke met 2017-’18, wat ’n rekordboekjaar vir die maatskappy was.
Astral het ’n totale dividend van 900c per aandeel verklaar.