BOER VAN DIE JAAR DRA EERBEWYS AAN SY PERSONEEL OP
DIE boer van Edenville wat pres. Cyril Ramaphosa in ’n brief in Landbouweekblad gevra het “stuur ons” om die land se probleme te help aanpak, mnr. Nick Serfontein, is as Landbouskrywers SA se Boer van die Jaar vir 2019 aangewys. Hy het die eerbewys opgedra aan die meer as 600 werknemers van die Sernickgroep.
Mnr. Buks Nel, die nuwekultivarspesialis by TruCape in die WesKaap, is as Landboukundige van die Jaar aangewys, en mnr. Dirk Louw van die boerderyonderneming Silver Moon Investments in die distrik
Groblershoop, NoordKaap, as Nuwe Toetreder tot die Kommersiële Landbou. Die glansgeleentheid van Landbouskrywers SA in Pretoria is saam met Bayer, Rovic Leers, Sanlam en Santam Landbou aangebied.
Serfontein het in sy bedankingstoespraak gesê die landboubedryf is tans nie op ’n goeie plek in SuidAfrika nie weens kwessies soos die droogte, politieke onsekerheid, beleidsonsekerheid en wanfunksionele staatsdepartemente.
“Ondanks dit alles het ek soveel hoop en geloof in die landboutoekoms van SuidAfrika. Daar is soveel ander goeie elemente. Ons het ’n president wat hoop skep en ’n regering wat vir die eerste keer in ’n lang tyd die belangrikheid van die landbou, kommersiële boere en die private sektor erken. Daarom moet ons grondhervorming laat werk. Ons kan dit net doen as ons dit as ’n kollektiewe verantwoordelikheid aanvaar.”
PRESTEERDERS
Nel is ’n bedryfs en internasionaal erkende kundige oor geïntegreerde plaagbestryding. Hy spits hom by TruCape toe op die ontwikkeling van nuwe en verbeterde kultivars, en werk al sedert die stigting in 2001 by die maatskappy. Hy het ook die planttelersregte vir die verbeterde Gala, Fuji, Bigbucks en Fuji Royalappelkultivars bekom.
Te midde van sy strewe na dit wat nuut is, het Nel ook ’n reusebydrae gelewer om ou appel en peerkultivars te bewaar. Hy en sy kollega mnr. Henk Griessel het onder meer gehelp om die eerste appelkultivar wat ooit in die Kaap gekweek is, op te spoor.
Louw boer tans op 68 ha, waarvan hy 21 ha huur. Dit bestaan uit 30 ha droogdruifwingerd, 1 ha wyndruifwingerd, 24 ha pekanneutbome en 14 ha wisselbougewasse. Hy hou ook Dorpers en Meatmasters aan.
Rosyne is die sterkste vertakking van die boerdery en Louw het vanjaar ’n rekordoes van meer as 200 ton gehad. Die meeste daarvan word na die MiddeOoste uitgevoer. Hy is verlede jaar as Raisins SA se Opkomende Boer van die Jaar aangewys.