Marmite-tertkolwyntjies
(Proe is Pret Resepte, Vrouediens, NG kerk Strand)
Dié soet-sout-kombinasie is verslawend. Pleks van die Marmite-sous kan jy die soet roete volg en lemoenstroop oor die warm koek gooi. Dit kan in ’n tertbak of in kolwyntjiepannetjies gemaak word. Beslag
120 g koekmeel
10 ml bakpoeier
2 ml sout
Rooipeper na smaak (opsioneel) 125 g botter
250 ml gerasperde beleë cheddarkaas 1 eier, geklits 220 ml melk
Mieliemeel of polenta, vir oorstrooi
Marmite-laag
15–30 ml Marmite ■
55 g botter
Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer ’n tertbak met ’n deursnee 20-22 cm of ’n kolwyntjiepannetjie.
Sif die meel, bakpoeier, sout en rooipeper, indien gebruik, saam. Vryf die botter met die vingerpunte in die meelmengsel. Roer die kaas by. Klits die eier en melk saam en voeg by die meelmengsel, en meng deur. Skep in die voorbereide tertbak of kolwyntjiepannetjie, strooi mieliemeel of polenta oor en bak 20 minute (kolwyntjies) of 30 minute of tot ’n toetspen skoon uitkom. Marmite-laag: Smelt intussen die Marmite en botter saam. Wanneer die tert uit die oond kom, steek gate in met ’n vurk en drup die warm sous oor. Sny in blokke en eet warm. Variasie: Vervang die Marmite-sous met lemoenstroop: Verhit 100 g suiker, 125 ml vars lemoensap en gerasperde lemoenskil saam tot die suiker opgelos is. Kook vir 3 minute en giet oor die warm koek.
Lewer 1 tert of 9-12 kolwyntjies.