Reuseplaas se outomatiese stelsels
Boerderymetodes wat hom in staat stel om minder tyd aan instandhouding en herstelwerk te wy, maak dit vir mnr. Pieter van Schalkwyk, Namibië se Kleinveeprodusent van die Jaar, moontlik om méér tyd tussen sy vee deur te bring.
As ’n veeboer gedurig moet gaan kyk of die damme vol is, roofdiere jag en agter plaaswerkers aanry om opdragte te gee, het hy min tyd oor om tussen sy vee deur te bring, wat immers die belangrikste dagtaak is. Daarom het mnr. Pieter van Schalkwyk, Namibië se Kleinveeprodusent van die Jaar vir 2019, stelsels op sy plaas Samehaling by Aorab in die suide van die land in werking gestel wat sulke take minder omslagtig maak.
Hy en sy vrou, Helena, besit Dorper-, Wit Dorper- en Meatmasterstoeterye en boer ook kommersieel met dié skaaprasse, Boerbokke en Bonsmara-Brahman-kruisbeeste om speenlammers, slagbeeste en stoetvee te produseer. Die kommersiële deel van die boerdery maak 75% van hul inkomste uit en stoetveeverkope die ander 25%.
Die Van Schalkwyks boer op 28 000 ha eie grond en huur nog grond in dié distrik. Die verste pos is 60 km van die opstal af. Dit verg dus baie tyd op die pad en tussen kampe om dié omvangryke boerdery seepglad te laat verloop.
OUTOMATIESE WATERSTELSELS
Al die kampe het suipings en die water kom uit boorgate. ’n Derde van die grond is in die Karasberge en teen die berg is daar sterk boorgate. In die ander twee derdes, wat die duineveld is, is daar geen ondergrondse bronne nie. Die hele plaas word dus met ’n pyplynstelsel vanaf die berge bedien. Die maatskappy Andrag op Upington het vir Van Schalkwyk drie outomatiese waterstelsels met pyplyne van altesaam 60 km vir sy 35 veeposte ontwerp. Die drie pompstasies het drukskakelaars en elk voorsien ’n deel van die kampe se suipings van water. Dit pomp water na sement- en sinkdamme, vanwaar die water na krippe vloei. Dit skakel vanself aan en af om die damme vol water te hou. Elke kamp het een of twee krippe. Een pompstelsel word met sonpanele van krag voorsien, ’n ander gebruik elektrisiteit van die nasionale verskaffer, NamPower, en die derde pompstasie het sonkrag én elektrisiteit. In hoogliggende dele vloei die water met swaartekrag na sommige damme.
Die pompstasie wat net met sonpanele funksioneer, het vier 250 W-panele en ’n Grundfos-pomp wat die water sowat 70 meter diep gaan haal en dit 12 km ver na vier damme pomp. Die elektriese pompstasie het ’n dompel
pomp wat ’n groot dam van 120 000 liter vol hou. Vandaar pomp ’n monopomp die water 20 km ver na sewe kleiner damme op dieselfde pypleiding. Dit hou aan pomp totdat die laaste dam vol is en skakel dan af. Alle damme het balkleppe. Die pomp is deur ’n drukskakelaar daaraan gekoppel wat afskakel as al die balle toedruk en die druk in die pyp 6 bar bereik. Ná ses uur skakel dit weer aan.
Die derde pompstasie, wat met sonkrag én NamPower werk, het ’n elektriese Franklin-dompelpomp wat water vanuit ’n boorgat na ’n dam pomp wat sowat 1,1 miljoen liter water hou. Die water vloei dan met swaartekrag 13 km ver na die volgende opgaardam, van waar dit met ’n Lorenz-sonpomp met twee 300 W-sonpanele sowat 35 m oor ’n afstand van 2 km gelig word tot by ’n dam op ’n duin. Dan vloei die water met swaartekrag na kleiner damme. Hierdie stelsel bedien 12 damme met ’n pyplynstelsel van langer as 25 km.
Die waterstelsel is reeds deur sy oorlede oom Flip van Schalkwyk begin, en hy het net die pompe en dele van die pyplyn en damme opgegradeer. “Voorheen moes ons dikwels pype
gaan las wat gebars het, en dan moes ons water na daardie kampe aanry.
“Ons het toe hoëdrukpype gelê. Die damme en krippe is nou altyd vol water danksy die outomatiese stelsels. Ek kan meer tyd tussen my vee deurbring en beter bestuur toepas.”
Die projek het in 2006 begin en is in 2012 voltooi. Van Schalkwyk beoog om kameras by al die veeposte te installeer om die watervoorsiening op sy rekenaar en selfoon te kontroleer en ongewenste besoekers soos roofdiere of veediewe te identifiseer. Sy tegnikus, mnr. Johan du Toit, het reeds die stelsel ontwerp.
Van Schalkwyk het in ’n stadium soveel veeverliese weens probleemdiere gely dat hy moes besluit of hy nog wil boer. “Sommige boere naby my het in 2018 slegs 10% van hul lammers gespeen. Die res is alles deur roofdiere opgevreet. Die droogte het ook ’n invloed deurdat daar nou minder natuurlike prooi is. Die beleid om die hele plaas bestand te maak teen probleemdiere maak dit vir my moontlik om voort te boer.”
Hy is tans besig om 200 km se jakkalsdraadheinings met elektriese skokdrade toe te rus. Die kampe is in blokke gegroepeer wat gemiddeld 1 200 ha groot is. Alle buiteheinings is ook geëlektrifiseer.
Die projek is byna voltooi. Sy eie werkers span die heinings onder leiding van die kampvoorman, mnr. Chrisjan Rooi, om koste te beperk. Die werk het die afgelope sewe jaar teen sowat 30 km per jaar gevorder.
Van Schalkwyk het met ’n Garmin 64S en sy motorfiets al sy kampdrade opgemeet en met behulp van satelliettegnologie (GPS) en Google Earth gekarteer. Nou het hy ’n kaart waarop alle lyndrade wys en die kampgroottes is uiters akkuraat.
Die koste beloop sowat R25 per meter en word gefinansier met lenings wat oor vyf jaar afbetaal word. Die kapitaaldelging bedra R6,76 per meter per jaar.
Weens die moeilike terrein het hy ook ’n stootskraper gebruik om paaie langs die 200 km se elektriese jakkalsdrade te maak. Nou kan hulle oral met voertuie ry, selfs dele wat voorheen net te perd bereikbaar was.
WERKERS BESTE BATE
Sy plaaswerkers is Van Schalkwyk se beste bate en danksy sy goeie bestuurstelsel het hy net tien werkers in die hele boerdery. Hulle bestaan uit die tegnikus, vyf algemene plaaswerkers en ’n kampvoorman met drie mense onder hom wat die heinings bou en in stand hou. Almal kan perd ry en motorfietse of bakkies bestuur en verskillende take uitvoer.
Vir goeie kommunikasie het hy WhatsAppgroepe gestig om met groepe werkers te kommunikeer, byvoorbeeld die skaapgroep, ’n groep vir waterpompe en krane, en ’n groep vir die stoeterye. Take word aan elke groep gekommunikeer. Helena, wat in beheer van administrasie is, ontvang alle opmerkings en inligting wat deur die dag gekommunikeer word, teken dit aan, kry inligting waar nodig en antwoord weer op die groep.
Die boerdery gebruik drie Land Cruiserbakkies, drie 200 cc-Yamahamotorfietse met breë wiele wat in die sand kan loop, en ’n vierwiel-Yamaha. Van Schalkwyk het ook sy eie vragmotor om diere te bemark en voer en ander benodigdhede aan te ry.
Hy gebruik perde vir veewerk. Daarvoor het hy ’n sleepwa om die perde na die kampe te vervoer om tyd te bespaar.
“Ons lê klem op menswaardigheid en wedersydse respek. Ons is ’n span op die plaas en almal werk vir die span. Een leeu kan nie ’n buffel vang nie, maar ons is ’n span leeus wat elke dag saamwerk om die buffels een vir een te vang.”
PRIVATE KRAGLYN
Van Schalkwyk en 21 ander boere in die distrik het hul eie kraglyn van 130 km gebou om hulself van krag te voorsien.
Elkeen het ’n meter vir voorafbetaalde krag en koop self by hul groep krag aan. Die boere doen elk maandeliks ’n vooruitskatting van hoeveel krag hy gaan nodig hê. Só kan elke boer sy kragverbruik doeltreffend beheer. Hulle skakel byvoorbeeld waterpompe aan en af soos nodig om krag te bespaar. Die nasionale kragverskaffer, NamPower, het ’n meter wat meet hoeveel krag hulle gebruik, en stuur maandeliks ’n rekening aan die groep.
Daarvoor het die boere ’n maatskappy gestig en ’n lisensie bekom voordat hulle die kraglyn gebou het. Elkeen kry sy krag teen ’n nominale tarief, met inagneming van ’n kragverlies van 25% op die lyn. Voorheen het nie een van dié boere elektrisiteit gehad nie.
Van Schalkwyk sê hulle beoog ook ’n sonkragstasie van 24 kVA om die lynverlies van 25% teen te werk. Die kosteberaming beloop sowat R350 000. Die projek gaan volgende jaar aangepak word.