DIE ANDER SÊ
DIE onlangse ondertekening van die meesterplan vir die pluimveebedryf is ’n belangrike stap om stabiliteit vir dié strategiese bedryf te bewerkstellig, sê mnr. Mike Schüssler, hoofekonoom van economists. co.za. Die werklike stryd om oorlewing sal egter bepaal word deur Suid-Afrika se hantering van internasionale handelskwessies.
Hoender is die grootste vleisbedryf in die land met 47 000 werkers in diens, en 130 000 werkers as verwante bedrywe in ag geneem word. Die bedryf is van deurslaggewende belang vir die land. Ondanks die feit dat Suid-Afrika die wêreld se vierde goedkoopste produsent van hoendervleis is, voer die land meer hoendervleis in as Duitsland én Frankryk, wat albei teen ’n baie hoër koste produseer. Hoe het dit gebeur dat ’n land wat só doeltreffend produseer, nou die vyfde grootste invoerder van hoendervleis is?
Dit begin by die feit dat baie lande hul landboubedryf ondersteun, terwyl Suid-Afrikaanse produsente geen geldelike steun van die regering kry nie. Daarby beperk ryk lande landbou-invoer met verskonings oor voedselveiligheid. As ’n land soos Brasilië met te veel hoendervleis sit, word ’n land soos Suid-Afrika ’n maklike stortingsterein vir hoendervleis teen ’n laer prys as die produksiekoste.
As deel van die meesterplan word beoog om produksie van graan en pluimvee te verhoog en in nuwe produksiegeriewe te belê om meer werkgeleenthede te skep. Dit bied hoop vir die volhoubaarheid van die bedryf. Suid-Afrika moet egter ophou om naïef te wees en soos ander lande hard baklei vir markte. Meer stappe is ook nodig om storting en ander onregverdige handelspraktyke te voorkom.