VERF, HARDEWARE EN TROETELDIERE TREK WA DEUR DIE DRIF
DIE kleinhandelsektor, veral brandstof en geriefswinkels, help Kaap Agri steeds om vooruit te boer.
Die maatskappy het op 28 November aangekondig dat sy inkomste met 29,1% tot R8,5 miljard gestyg het. Dit is hoofsaaklik meegebring deur ’n 10,6%-toename in die aantal transaksies by die maatskappy.
“Ons diversifiseer ons kleinhandelvertakking al die afgelope sowat vyf jaar. Dit beteken ons het nie net blootstelling aan die kleinhandelsektor in die landbou nie, maar ook in brandstof, met ’n groot element van geriefswinkels. Ons het ook uitgebrei na KwaZulu-Natal,” sê mnr. Sean Walsh, uitvoerende hoof van Kaap Agri.
hom het ’n groter klem op hardeware, verf en troeteldierprodukte verkope in uitgesoekte Agrimark-winkels verbeter.
“Ons meen ons het ’n groter markaandeel danksy ons diversifikasiestrategie. Verbruikers is onder druk, daarom moes ons markaandeel van die tradisionele boumateriaal-kleinhandelaars weggeneem het.”
Die maatskappy se herhalende wesensverdienste per aandeel het met 6% gestyg. Dit beteken hy het oor vyf jaar ’n jaarlikse groeikoers van 10,9% gehandhaaf. ’n Dividend van 90c per aandeel (in 2018 was dit 84,7c) is verklaar. Die totale dividend vir die jaar is 5,8% meer as verlede jaar.
DROOGTE SE ‘VOORDEEL’
Walsh sê hy voel sleg om dit te sê, maar op kort termyn bring die droogte in dele soos die Klein- en Sentraal-Karoo en die Kalahari vir die maatskappy ’n voordeel vanweë die verhoogde veevoerverkope.
“Dierekosverkope is 40% op, maar ons weet dit is totaal onvolhoubaar op lang termyn.”
Vir die vrugtebedryf is sy vooruitsigte tot Mei beter as ’n jaar gelede omdat damvlakke goed daar uitsien.
VERWAGTINGE VIR 2020
Mnr. Graeme Sim, finansiële direkteur van Kaap Agri, sê in die jaar tot einde September het die maatskappy sowat R230 miljoen bestee aan kapitaaluitbreidings, onder meer deposito’s vir sewe brandstofpersele, wat nog nie ’n inkomste opgelewer het nie.
“Die kapitaal het dus in 2019 gevloei, maar ons sal eers in 2020 resultate sien.
“Daar is gesonde vooruitsigte met nuwe brandstofpersele en winkels wat op pad is.”
Hy verwag dat Wesgraan, wat graanhantering en -opberging doen, ’n swakker jaar gaan hê as die vorige een.
“Die koringteikens is af omdat ons teen die einde van die seisoen nie reën gehad het nie en warm weer ervaar het.”
Hy is egter versigtig optimisties oor die jaar wat voorlê.
“Kleinhandel sal onder druk bly, maar ons het ’n goeie, diverse blootstelling aan produkte en geografiese liggings. Die landbou het gebiede wat goed presteer en ander wat onder druk bly.”