DIE AGT STRENG REËLS VIR DIE VERKOOP VAN VARS PRODUKTE OP SA MARKTE
Die meer as R40 miljoen wat tans in die landbouprodukte-agenteraad (APAC) se getrouheidswaarborgfonds is, is voldoende, sê mnr. Francois Knowles, uitvoerende hoof van die raad.
Knowles het die konferensie oor boerdery onder beskerming by Groot-Drakenstein oor die getrouheidswaarborgfonds toegespreek. Hy sê die goeie stand daarvan is te danke aan goeie reëls en regulasies, asook agente wat daaraan gehoor gee. Die getrouheidswaarborgfonds is opgebou uit betalings wat deur markagente as ’n persentasie van inkomste aan APAC betaal word.
Die fonds is ’n druppel aan die emmer gemeet teenoor die jaarlikse omset van varsproduktemarkte. Bykans R7,8 miljard se vars produkte is in die 2018-’19-boekjaar op die Johannesburgse varsproduktemark verhandel. Dit beteken die fonds is nagenoeg 0,51% van die Johannesburgse mark se omset sterk, en 0,24% van die nagenoeg R16,9 miljard wat op die land se 24 varsproduktemarkte verhandel word.
Boere word daaruit vergoed wanneer agente hulself skuldig maak aan wangedrag. Só het APAC onlangs meer as R10 miljoen aan boere uitbetaal nadat agente geld in hul trustrekeninge wanbestee het pleks daarvan om boere te betaal (lees die berig “Varsproduktemarkte: Swaar strawwe vir agente wat wet oortree”, LBW, 20 September 2019).
Knowles sê daar is verskeie reëls wat agente en sake op die markte reguleer. Daarvan is agt onderhandelbaar. Hulle is:
■ Nee vir afpersing. Agente mag nie agentskappe onbehoorlik teen mekaar afspeel nie.
■ Agente se betaling. Agentevergoeding mag nie hoër wees as die algemeen aanvaarde norm nie, tensy ’n agentskap dit vooraf skriftelik goedgekeur het.
■ Inligting op verpakkings. Verpakte vars produkte moet behoorlik gemerk wees. Daar is regulasies oor die nodige vereistes. Die verpakking moet onder meer die adres en telefoonnommer van ’n boer bevat, asook inligting oor ’n produk se graad en grootte. Agente mag koste verhaal as ’n boer nie self die korrekte verpakking verskaf nie.
■ Produkstate. Boere se produkstate moet voldoen aan die stelselvereistes van die mark waar produkte verkoop word.
■ Spoedige betaling. Betaling aan boere moet binne vyf dae ná verkope geskied.
■ Uitskotprodukte. Produkte wat nie geskik is
vir menslike gebruik nie, moet tot niet gemaak word deur ’n aanvaarbare proses. Boere moet binne vyf dae daarvan in kennis gestel word. Boere moet seker wees hulle is ordentlik ingelig en sorg dat hulle markte gereeld besoek sodat op die hulle hoogte kan bly van hierdie aspek.
■ Kommunikasie. Boere moet binne drie dae ná aflewering in kennis gestel word watter produkte verkoop is. Daarna moet agente hulle weekliks op die hoogte hou van die verkope van produkte.
■ Toestemming. Agente mag nie sonder skriftelike toestemming aftrekkings of kredietverkope doen nie.
“Boere moet versigtig wees om op grond van mondelingse ooreenkomste voorskotte van agentskappe te ontvang. Sulke transaksies moet goed gedokumenteer word.
“Voorskotte moet uit die agentskap se sakerekening betaal word en nie uit die trustrekening nie,” sê Knowles.
Boere wat teen die getrouheidsfonds ’n eis wil instel, moet sorg dat alle dokumentasie oor die produkte wat ter sprake is, reg en beskikbaar is.
“Dit is nie altyd die geval nie,” sê Knowles. Hy sê daar is ook ’n paar miljoen rand in ‘n trustrekening. Dit spruit uit produkte wat op die mark afgelaai word sonder dokumentasie of inligting oor die naspeurbaarheid van die boer.
“Boere moet met papierwerk kan bewys dat hulle op ’n sekere datum ’n betrokke produk op ’n mark afgelaai het. Boere kan hulself ’n groot guns bewys deur die gewoonte aan te leer om hul papierwerk bygewerk te hou,” is Knowles se raad.