VELPAPIEVLIEË BY SPRINGBOKKE
Ek het verlede naweek ’n paar springbokke op ’n plaas naby Murraysburg geskiet. Een van hulle het snaakse blase op sy rug gehad. As op die blase gedruk word, het vet maaiers uitgekom, ongeveer 1 cm dik en net meer as 1 cm lank. Die boer het gesê aangesien hulle net in die vel is, die springbok se vleis heeltemal veilig is om te eet. Ek het dit nog nooit tevore by ’n springbok gesien nie. Is die bok se vleis wel veilig om te eet, selfs as droëwors daarvan gemaak word?
Volwasse velpapievlieë (Strobiloestrus-spesies) van hierdie soort word selde gesien. Vaalribbokke, rooiribbokke en klipspringers is die natuurlike gashere van die larwes van die vlieë, maar dit kan ook, soos in hierdie geval, by springbokke voorkom.
Die vlieë is betreklik groot en het geen monddele nie. Hulle lê in die lente eiers wat aan die hare van die wildsbokke vasheg. Uit die eiers broei daar eerstestadium-larwes wat deur die vel dring en ná ongeveer ’n maand in die onderhuidse weefsel van die rug en sye na tweedestadium-larwes vervel. Die tweede larfstadium duur ongeveer ses maande en die larwes vervel dan na die derde stadium.
Die derdestadium-larwes is ongeveer 20 mm in lengte en 15 mm in deursnee. Elkeen veroorsaak ’n groot, afsonderlike knop in die vel met ’n gaatjie daarin waardeur die larf asemhaal. Ná ongeveer ’n maand kruip die derdestadium-larwes deur die gaatjies na buite en vorm papies in die grond.
Volwasse vlieë broei in die lente uit die papies en die hele lewensiklus, wat een jaar lank duur, word voortgesit.
Daar is gevind dat die larwes van hierdie vlieë in uitsonderlike gevalle ook beeste, skape en bokke aantas. Dit wil ook voorkom asof die lewensiklus by beeste, maar nie by skape nie, voltooi kan word. Besmetting by beeste word gekenmerk deur groot knoppe op die vel waaruit die larwes gedruk kan word indien hulle byna volgroeid is.
As die vel afgeslag word, word die larwes saam met die vel verwyder. Indien daar kneusplekke onder die vel voorkom, kan dit maar weggesny word. Die vleis sal veilig vir menslike gebruik wees.
Dr. Faffa Malan is bestuurder van die Herkouerveterinêre Vereniging van Suid-Afrika.