Herlewing sleutel tot boord van die toekoms
Die somme vir herlewingslandbou by vrugte begin klop.
Die beskuldiging dat dekgewasse duur is, is die nek ingeslaan met ’n proefneming wat toon dat dit ’n aansienlike besparing meebring – en dit sluit nie eens die bykomende voordele van siektevrye boorde en ’n verhoogde opbrengs in nie. Mnr. Ian Cunningham, appel-en-peerboer van Fine Farms by Elgin in die Wes-Kaap, kan 30 m3 organiese materiaal per hektaar per jaar vir ’n deklaag op sy bankies teen slegs R500/ha produseer.
“Ons oogmerk is die vestiging van 200 m3 organiese materiaal per hektaar oor ’n tydperk van vier jaar op die bankie. Die aanvanklike doel was vogbewaring en om grondvoginhoud beter te kan bestuur. Mettertyd het ek besef dat dekgewasse en lewende wortels in die grond soveel meer waarde inhou as bloot die produksie van organiese materiaal.”
Hy meen minstens 60% van die boordvloer se oppervlak word ongebruik gelaat, en kan teen minimale koste tot die langtermynvoordeel van die boord aangewend word.
“As ek houtskaafsels van 200 m3/ha oor ’n vierjaartydperk op my bankies uitstrooi, gaan dit my sowat R181/m3 kos. Dit sluit die vervoer- en verspreidingskoste in. As ek dieselfde met dekgewasse regkry, gaan dit my R76,49/m3 kos.” (Sien TABEL .)
Hierdie koste sluit saad, vestiging en die kap-en-plaas-aksie in. Die dekgewasse is dus ’n logiese finansiële besluit as die doel is om organiese materiaal op die bankie te vestig.
HERPLANT SONDER KOMMER
Cunningham meen dit is nie waar die voordele van dekgewasse ophou nie. “Dekgewasse speel ’n baie groot rol by grondgesondheid. Met die oog op Fine Farms se boord van die toekoms sal ons graag vrugte wil aanplant sonder om oor grondgedraagde siektes bekommerd te wees. Die eerste stap om dit sonder beroking reg te kry, is om die grond so gesond moontlik te kry. Daarvoor het ons dekgewasse nodig.
“Ons is reeds besig met die boord van die toekoms. Ons laat lê die grond van die beoogde boord braak vir twee jaar, waartydens ’n diverse dekgewasmengsel daarop gesaai word. Ná die eerste jaar werk ons die dekgewasse in net voor ons weer in die eerste week in Mei vir die tweede jaar saai. In die tweede jaar sal ons die dekgewasse in November inwerk om grondvoorbereiding te doen en die bankies te maak. Teen die eerste week in Mei sal ons die eerste van vier jaar se dekgewasse in die werkry saai en daarna die bome begin plant.”
Ná proewe van ’n paar seisoene het Cunningham op ’n dekgewasmengsel besluit wat redelik goed in sy omgewing werk, maar niks is in beton gegiet nie. Hy ent nie sy dekgewasse met rhizobium nie en dien 100 kg/ha Nitrabor met planttyd toe.
Die dekgewasse word met ’n Kuhn-kraghark gesaai waarop Piket-planteenhede aangebring is. Hy het ’n mengsel van radyse (5 kg/ha), wit en rooi klawer (10 kg/ha), korog (75 kg/ha), fababone (25 kg/ha) en wieke (10 kg/ha) gebruik. Dit was hoofsaaklik om soveel moontlik materiaal te produseer wat
ingewerk kan word, of om op die bankie op te sny om die koolstofinhoud van sy grond te verhoog. “Die verbetering in grondstruktuur en stikstof danksy die peulgewasse is ’n bonus.”
BOLWURM SE MOSES
“Ons het geleer dat die Afrika-bolwurm (Helicoverpa armigera) vinnig ’n probleem in die lente kan word weens die dekgewasse as jy nie gereeld jou oog oor jou boord hou nie.”
Om dit teen te werk, gebruik Cunningham Bolldex (reg.nr. L8895, Wet 36 van 1947). Dit is ’n biologiese produk en die aktiewe bestanddeel is ’n virus genaamd Helicoverpa armigera nucleopolyhedrovirus.
“Ons spuit die Bolldex op die bome en stuur ons werktuig deur die boord sodra die materiaal droog genoeg is. As die materiaal nog te veel vog het, veroorsaak dit verstoppings in die werktuig en voorkom ’n eweredige verspreiding van materiaal op die bankie.
“Ons sal ook eerder te vroeg as te laat saai. As ons te laat saai, vang die koue ons en behaal ons nie goeie produksie nie.”
Cunningham het aanvanklik gesukkel om die materiaal op só ’n manier op die bankie te kry dat dit ’n doeltreffende deklaag vorm. Die kommersiële modelle kap die materiaal te fyn. “Die windblasers op ons spuitpompe het die materiaal weggeblaas, of die materiaal het in die wind weggewaai of te vinnig verrot. Ons het toe ’n bossiekapper omgebou sodat daar ’n ketting aan die agterkant is wat die materiaal op die bankie gooi. Nou is die materiaal lekker grof en en word nie weggeblaas nie.
“Ons wil graag op grondvrugbaarheid en -gesondheid konsentreer om uiteindelik nie meer van beroking afhanklik te wees nie. Slegs Geneva-onderstamme word met nuwe aanplantings gebruik, en ek glo met die regte praktyke sal ons dit kan regkry.”
Die vraag ontstaan of dit oor ’n paar jaar hoegenaamd nog nodig sal wees om boorde te moet oorplant. Cunningham sê daar is die moontlikheid dat nuwe kultivars op oues geënt sal kan word as die oues hul tyd uitgedien het. “Dan kan ons onderstamme dekades lank, selfs tot ’n eeu, in die grond hou.