Nie net meer ‘hardekwas tannies’: Vroueboere se ál groter rol
In ’n tradisionele manswêreld boer al hoe meer vroue op hul eie. Waar dogters lank nie as die opvolggeslag beskou is nie, word die bordjies nou verhang.
In Oktober vanjaar het twee ruimtevaarders ’n volle werksdag van meer as sewe uur buite die internasionale ruimtestasie in hul ruimtepakke rondgedryf terwyl hulle ’n batterykomponent vir ’n sonpaneel moes vervang. Daar was al meer as 200 sulke wandelings in pare van twee in die ruimte, en in 14 gevalle was ’n vrou een van die ruimtevaarders. Wat dit dié keer uniek gemaak het, is dat mee. Christina Koch en Jessica Meir se ruimtewandeling die eerste was wat net deur vroue onderneem is. Dit is aanvanklik vir Maart 2019 beplan, maar moes uitgestel word omdat daar nie twee ruimtepakke wat klein genoeg vir die vroue was, in die ruimtestasie beskikbaar was nie.
Vroue is statisties kleiner as mans. In die verlede is lang mans juis vir dié take in die ruimte gebruik omdat hul reikafstand groter is.
Vroueruimtevaarders het egter al geleer om rondom sulke beperkings te werk, volgens mnr. Ken Bowersox, Nasa se waarnemende administrateur vir menslike eksplorasie en operasies. Hy sê vroue word spesifiek ook gebruik omdat hulle ander vaardighede en ’n ander denkwyse het wat hulle in staat stel om baie van die fisieke probleme met ruimtewandelings te bowe te kom.
Sy opmerkings weerspreek vroeëre sienings van Nasa dat vroue se fisieke en biologiese vermoëns hulle diskwalifiseer vir ’n omgewing wat as die alleenterrein van mans beskou is.
Dit is dalk die rede waarom dit twintig jaar gekos het voordat ’n volwaardige vroue-ruimtewandeling plaasgevind het. Bowersox het op sosiale media laat weet: “No physical reasons. Not small enough spacesuits. Equipment problems held women back – and the men who made decisions about that equipment.”
Toe die regte ruimtepakke dus na die ruimtestasie gestuur is, kon die geskiedkundige ruimtewandeling op 18 Oktober plaasvind.
KOMS VAN DIE LANDBOU
Britse navorsers reken dat toe die mens nog hoofsaaklik ’n jagter-versamelaar was, mans en vroue gelyke invloed gehad het in waar hulle gebly en hoe hulle geleef het.
Volgens dr. Mark Dyble, die studieleier en antropoloog aan die University College London, is daar steeds die opvatting dat die jagter-versamelaartydperk deur mans oorheers is. Die studie voer egter aan dat die koms van die landbou, wat die mens in staat gestel het om self sy eie hulpbronne te versamel, eerder die rede vir manlike oorheersing was.
Die navorsing het getoon dat mense, ter wille van oorlewing, eers in baie klein groepies saamgeleef het waar albei geslagte ewe veel sê in voedselversameling gehad het. Daarna het die landbou ongeveer 12 500 jaar gelede sporadies en onafhanklik op verskeie plekke ontstaan. Ongeveer 5 000 jaar gelede het dit die dominante vorm van menslike voortbestaan geword.
Daarmee saam het eiendomsreg ontstaan, asook die beskerming daarvan. Die fisieke vermoëns waarmee mans die eiendomsreg kon beskerm, en die mag wat daarmee vereenselwig is, het hulle die oorheersende geslag in samelewings begin maak.
Grond, en die beheer oor soveel moontlik daarvan, het die grondslag van die landbou geword. Groot grondeienaars het aristokrate geword en bondgenootskappe met ander aristokrate gevorm om hulle teen vyandige
grondgrype te beskerm. Grond en die gepaardgaande verantwoordelikheid om dit te bewerk en te behou, is dus oor vele geslagte heen van pa na seun oorgedra. Plase en landboukundige kennis het in mans se hande vermeerder, terwyl daar algaande aanvaar is dat vroue nie kan boer nie.
In baie gemeenskappe wêreldwyd is die neiging steeds dat erfopvolging die dogters plaasloos laat. Hulle word ook nie voorberei om ’n loopbaan binne die familieboerdery te volg nie.
SPIERKRAG EN TREKKERS
Die bewerking van grond word as die grondslag van boerdery beskou. Die inspanning wat tradisioneel daarmee gepaardgaan, word met die fisieke vermoëns van mans verbind. Deur die geskiedenis heen het mans gevolglik ’n noue interaktiewe verhouding met die ontwikkeling van landbouwerktuie gehad.
Hierdie tegnologie is oor geslagte heen met manlike aktiwiteite geassosieer. ’n Trekker word vandag nog as ’n simbool van manlikheid beskou. Daar word aanvaar dat boere se seuns vanaf ’n jong ouderdom in landbouwerktuie, veral trekkers, sal belang stel.
Net so word aanvaar dat boere se dogters nie ’n ingebore aptyt vir trekkers het nie. Navorsing kom tot die gevolgtrekking dat boere se dogters nie daarop sal aandring om saam met hul pa op die trekker te ry nie, omdat hulle onder die indruk verkeer dat dit onvanpas is.
Trekkers het dus die verlengstuk van manlike spierkrag geword. Vroue is hierdeur van die middelpunt van landbouproduksie uitgesluit, en word dus ontneem van die belangrikste toerusting wat iemand as boer definieer. Waar hulle vóór die koms van die trekker nog tot ’n mate met die hande-arbeid op die plaas gehelp het, is hul arbeid daarna grootliks tot die plaas se kombuis beperk.
MANNE- EN VROUEKRAG
In ’n ondersoek van die Amerikaanse ontledingsen adviserende maatskappy Gallup Inc wat in 2006 gedoen is, het 34% van die manlike respondente voorkeur aan ’n man as hul onmiddellike hoof gegee, terwyl 10% ’n vrou verkies het. Vir die res het dit nie saak gemaak nie.
Daarteenoor het 40% van die vrouerespondente ’n man as hul onmiddellike hoof verkies, en 26% het ’n vrou verkies. Die ander respondente het nie ’n spesifieke voorkeur gehad nie.
Volgens ’n Amerikaanse sielkundige, dr. Alice Eagly, is dit nie toevallig dat hierdie ondersoek bevind het mans word as beter hoofde in die werkplek geag as vroue nie. Dit is volgens haar ’n algemene kulturele verskynsel wat in diepgewortelde stereotipes gevestig is. Leiers word beskou as mense wat met selfvertroue kan domineer, meeding en beheer. Daardie kwaliteite word tot ’n groter mate eerder aan mans as vroue toegeskryf. Gevolglik meen sy die kulturele model van ’n leier is een van spierkrag.
Eagly meen hierdie siening het baie vroue wat uitvoerende poste beklee, gedwing om manlike karaktertrekke aan te neem sodat dit hulle in staat stel om suksesvolle hoofde te kan wees. Hulle het dus soos mans begin optree om ook spierkrag in hul besluitneming te toon, hoewel dit tot hul uiteindelike ongewildheid en mislukking as hoofde gelei het.
Die studie se gevolgtrekking dat werkers eerder ’n man as hul onmiddellike hoof verkies, is dus nie verbasend nie. Tog reken Eagly dit beteken nie dat vroue swak uitvoerende hoofde is nie. Daar is eerder ’n wanopvatting dat dit die geval is.
OPSPRAAKWEKKENDE SENSUS
Ná 2002 het die Amerikaanse departement van landbou sy metodiek van sensusopnames onder boere verander en toegelaat dat meer as een boer per plaas aan die opname kan deelneem. Hierdie verandering het vroue, wat ook op die plaas betrokke is, toegelaat om met die status van boer aan die sensus deel te neem.
Die resultate was oorweldigend. Die rol wat vroue in die kommersiële landbou speel, kon vir die eerste keer behoorlik gedokumenteer word. Namate die werklikheid daarvan bekend geword het, het al hoe meer vroue hulle tot die beroep gewend omdat dit duidelik geword het vroue kan wél boer.
GRAFIEK 1 bevestig die grootskaalse toename in die aantal vroue in Amerika wat boer. In 2012 was 30% van die raps meer as 3 miljoen Amerikaanse boere vroue. Dié 969 672 vroue het sedertdien met 27% toegeneem. Die 1,2 miljoen vroue wat hulself in 2017 as boere beskou het, maak nou 36% van Amerika se totale aantal boere uit. In dieselfde tydperk het die getal mansboere met 2% afgeneem van 2,2 miljoen tot 2,1 miljoen.
GRAFIEK 2 toon dat die ouderdomme van die vroueboere in 2017 byna ’n spieëlbeeld van die mansboere is. Daar is wel ’n geringe verskil in die gemiddelde ouderdom – die mans is 57,7 jaar teenoor die vroue se 57,1 jaar.
Wat die kenmerke van boere betref, toon GRAFIEK 3 dat 65% van die vroueboere die hoof van die boerdery is. Vir mans is dit 89%. Boerdery is die primêre beroep van 37% van die vroue en 47% van die mans. Wat die vroue betref, verdien 39% vir meer as 200 dae van die jaar ook ’n ander inkomste buite die plaas, en vir mans beloop dit 41%. Altesaam 79% van die vroue woon op die plaas, teenoor 72% van die mans. Dit blyk ook dat 70% van die vroue al langer as tien jaar boer, teenoor 75% van die mans. Vroue maak 36% van Amerika se 321 261 jong boere (35 jaar en jonger) uit – die ander 64% is mans.
Die Amerikaanse landbousensus maak ook voorsiening om die rol van boere in boerderybesluite te bepaal. Volgens GRAFIEK 4 is 78% van die vroueboere by die daaglikse besluite
As ’n vrou boerdery haar beroep maak, verdien sy dieselfde ondersteuning en respekas’nman.
van die plaas betrokke, teenoor 92% van die mans. Slegs 59% van die vroue neem besluite oor die aanwending van lande en die plant van oeste, teenoor die 83% van hul manlike eweknieë. In die geval van lewende hawe neem 55% van die vroue besluite daaroor, teenoor 65% van mans.
Vroue is by 74% van die rekordhouding en finansiële besluite betrokke, en 55% van hulle neem besluite oor boedelbeplanning en erfopvolging. Die persentasie mans is feitlik dieselfde: 75% neem besluite oor rekordhouding en finansiële bestuur, en 57% besluite oor boedelbeplanning en erfopvolging.
Met betrekking tot hul boerdery toon GRAFIEK 5 dat vroue op gemiddeld 128 ha boer en mans op gemiddeld 161 ha. Die omset beloop $942/ha vir vroue en $1 091/ha vir mans. Vroue se boerdery-inkomste is gelyk tussen gewasse en vee verdeel. Vir mans is dit feitlik dieselfde: 51% van hul inkomste is uit gewasse en 49% uit vee.
Op die oog af wil dit voorkom of die mans se boerderyresultate beter as dié van vroue is. In die lig van die beperkings van die “manswêreld” waarbinne hulle moet funksioneer, is vroue se resulate in werklikheid buitengewoon goed.
DIE TOEKOMS WINK VIR VROUEBOERE
Amerika is sover bekend die enigste land met ’n landbousensus wat spesifiek voorsiening maak vir kommersiële vroueboere. Te oordeel na die resultate kan aanvaar word dat daar wêreldwyd, ook in Suid-Afrika, ’n beduidende en toenemende aantal vroue is wat uit eie reg suksesvol boer. Hierdie vroue sien hulself ál meer as selfstandige boere en nie net as die vrou of dogter van ’n boer nie.
Soos in die geval van ruimtewandelings, toon die resultate dat daar geen fisieke beperking is wat vroue verhinder om op dieselfde vlak as mans te boer nie. Die ooglopende beperking is dat vroue op plase met toerusting wat deur mans vir mans ontwikkel is, in ’n omgewing moet probeer funksioneer wat deur mans gedefinieer word.
Dalk weerspieël Rachel Terman, een van die skrywers van The Rise of Women Farmers and Sustainable Agriculture, talle vroue op plase én ook in die ruimte se versugting: “I would love to just keep seeing money spent in technology and innovation to make it just that much safer and that much easier. We just aren’t built the same way as a man. My only limitation on the farm is the frustration of not being able to put a PTO on.”
Terman en ander verdien meer as net ’n maklike aftakkoppeling. As ’n vrou boerdery haar beroep maak, verdien sy dieselfde ondersteuning en respek as ’n man. Sodoende kan hulle op gelyke voet boer, sonder om ’n struikelblok op mekaar se terreine te wees. (Eintlik kan mans ook baat vind by ’n makliker aftakkoppeling!)
Dr. Philip Theunissen is ’n bekroonde joernalis, forensiese rekenmeester en deeltydse boer van Bethlehem.
BRONNE:
2017 Census of Agriculture, Amerikaanse departement van landbou, landboustatistiekdiens. April 2019.
Alsgaard, H. Rural Inheritance: Gender Disparities in Farm Transmission. University of South Dakota-regsfakulteit. 2012. Duttge, W. Do Employees Prefer Male Or Female Bosses? Forbes, 2010. Dyble, M., Salali, GD, Chaudhary, N., Page, A., Smith, D., Thompson, J., Vinicius, L., Mace, R. & Migliano, A.B. Sex equality can explain the unique social structure of hunter-gatherer bands. 2015.
Koren, M. A hitch at NASA Headquarters. The Atlantic. Okt. 2019. Sachs, C.E., Barbercheck, M.E., Brasier, K.J., Kiernan, N.E., Terman, A.R. The Rise of Women Farmers and Sustainable Agriculture. University of Iowa Press. 2016
Saugeres, L. Of Tractors and Men: Masculinity, Technology and Power in a French Farming Community. Sociologia Ruralis, Vol. 42, Nr. 2, April 2002.