Top-kleinvees toetteler: ‘Hier maak die natuur wins’
’n Goeie stoetteler moet dapper wees en die moed hê om die regte besluite te neem. Dit beteken hy moet skape in ’n droogte in die veld los met minimale hulp en in die winter toesien hoe ander boere lekke van die koöperasie af aanry, sê mnr. Clynton Collett wat as SA Stamboek se Kleinveestoetteler van die Jaar vir 2019 aangewys is.
Funksioneel doeltreffende diere wat in jou omgewing aangepas is, is die diere wat geld in jou sak sit en jou deur moeilike tye trek. Mnr. Clynton Collett van die plaas La Rochelle by Venterstad sê dié benadering is die spil van sy boerdery. “Die goeie tye sorg mos vir hulself. Om te oorleef, moet boere selfs in die slegste jare steeds ’n aanvaarbare wins maak.”
Sy Meatmasterstoetery is onlangs as SA Stamboek se Elite-kleinveestoetkudde van die Jaar aangewys.
Collett het die Meatmasterras in 1994 begin ontwikkel as ’n skaap waarmee hy met so min moontlik uitgawes en dus so winsgewend moontlik op sy plaas kan boer.
“Stoetteling is baie anders as baie mense se siening daarvan. Ek glo vas daar is nie net een of ’n paar goeie rasse en dat die ander nutteloos is nie. Skaaprasse word deur telers in rigtings gestuur. Die ras is nie die probleem nie, die mens is. Mense streef altyd na iets wat groter, breër of meer sensasioneel is. Hulle hou nie in hul teling by dit wat by die omgewing pas nie. Ek moet na hierdie omgewing kyk, want dit is waar my skape loop.”
Omgewings en plantegroei se voedingswaarde verskil baie, maar dit is vir alle stoetboere moontlik om toe te laat dat sowat 15% tot 20% van hul diere dit moeilik vind om produksie te handhaaf.
Hy meen die meeste telers glo in drie eienskappe vir ’n goeie teler. “Hy moet ’n goeie voerder en ’n goeie bestuurder wees, en hy moet ’n klomp onsin kan praat. As ’n mens dié drie dinge goed doen, kan jy suksesvol wees met die meeste rasse.”
Collett sê hy praat uit ervaring. “Ek was lank deel van die probleem – ons is dan so geleer! Ek het baie sukses met verskeie rasse behaal omdat ek dié drie dinge goed kon doen. Ek het die perfekte prentjie in die veiling- of skouring geplaas.
“Ek het bepaal wat as ideaal gesien word en geteel om presies daardie prentjie wat mense van stoetdiere van hul ras het, te verskaf. Die hartseer en probleem is dat die dier of prentjie selde of ooit die beste dier is vir die kommersiële boer om mee geld te maak, maar baie stoetboere speel steeds die speletjie.”
STOETTELING IN DIE NATUUR
Collett sien sy soort stoetteling in die natuur heeltemal anders. Hy sonder drie vereistes uit waaraan ’n goeie stoetteler moet voldoen. Eerstens moet hy baie dapper en eerlik teenoor homself en ander wees. Tweedens moet hy ’n baie goeie waarnemingsvermoë hê. Derdens moet hy akkuraat van alle eienskappe wat sy diere winsgewender kan maak, aantekeninge hou. Hy moet weet hoe om dié inligting met wysheid in sy seleksie te gebruik.
’n Mens moet alles van die skape aanteken – hul funksioneel doeltreffende eienskappe, hoe hulle beweeg, wat en hoe hulle vreet, hul gewig in verskillende stadiums, en hoe hulle produseer, presteer en reproduseer.
“Ek glo onwrikbaar aan syfers. Daarsonder kan g’n mens selekteer nie.”
’n Stoetteler moet weet hoe om data in te samel en dit korrek te ontleed. Hy moet verder weet hoe sy skape moet lyk om funksioneel doeltreffend te wees. Bowenal moet dit duidelik wees dat sy skape nie gevoer of “oorbestuur” word nie.
“Al my skape word op die veld gedek. Hulle lam op die veld en maak hul lammers op die veld groot met niks anders nie as klipsout. Die oomblik as ek die skape voer, neem ek die natuur weg van die skape en die hele seleksieproses. Dan kan ek nie meer sien wat goed of sleg is nie. In hierdie toestande staan die 20% of 25% wat nie die paal haal nie, soos ’n seer duim uit. Hulle is maklik om uit jou kudde te haal, maar jy moet dapper wees om die besluit deur te voer.
BESTUUR SAAM MET DIE NATUUR
“Ek glo wel in goeie bestuur van die plaas in simbiose met die natuur, soos goeie kampstelsels, drakrag wat deur die reënval bepaal word, goeie heinings en veesuipings. Dit beteken ook dat jy in moeilike jare baie
strategies lek gee, maar net vir ’n kort tyd.” Collett meen duur lekke dwarsdeur die jaar, prikkelvoeding aan ooie voordat hulle gedek word, lamhokkies en kruipvoeding laat nie net koste styg nie, maar maak genetiese seleksie vir winsgewendheid onmoontlik.
“Alles op ons plaas is natuurlik. Niks kan meeding met skape of beeste wat vreet wat natuurlik beskikbaar is nie. Die skape – kommersieel of stoet – wat die beskikbare weiding die beste kan benut, is die diere wat die meeste geld gaan maak.
“Ons het bederf geraak deur inkomste te vergelyk, maar het van uitgawes vergeet. Albei bepaal my netto wins. Wanneer ek na my stoetskape kyk, dink ek nie aan wat die duurste ram of die perfekte prentjie vir die veiling gaan wees nie. Ek dink aan my kommersiële diere wat in die veld loop. Daarom probeer ek die skaap teel wat hulle die beste kan aanvul.”
Wanneer Collett selekteer, hou hy kommersiële eienskappe dop, soos waarom sommige lammers nie verkoop kon word nie; hoekom hulle nie vet, swaar of groot genoeg was nie. “Kommersiële telers is immers die boere wat die diere kan voer. Vir hulle is die regte rantsoen volgens hul eie toestande belangrik om die skape af te rond, want in hul geval speel insetkoste en inkomste ’n rol om by maksimum wins uit te kom. Dís waar jy voer om die grootste moontlike wins te genereer. Maak net doodseker dat hoër insetkoste wel tot hoër wins lei.”
Collett hou deurentyd sy oog op die bal. “My stoetteling gaan ten volle daaroor om te bepaal hoe ek my skape geneties kan verbeter om my en my kliënte se kommersiële dier die vermoë te gee om bo verwagting te reproduseer en produseer teen lae koste vir maksimale wins. Dit doen ek deur die skape onder soveel stres as moontlik te plaas en dan te selekteer.
“Om dit reg te kry, is baie moeiliker as om net ’n mooi skaap vir die skou of veilingring te teel. Getalle is ongelukkig nodig om dit suksesvol te doen, maar dis die beste manier van stoetteling.”
Nadat hy met verskeie rasse geboer het, verkies hy die Meatmaster. “Dié skape is in perfekte balans met die natuur.”
DROOGTEBENADERING
In ’n vorige erge droogte het Collett besluit om die swakker en ouer helfte van sy ooie te verkoop pleks van om kos te koop. “Almal moes net onthou dat die geld reeds in die bank is en dat die ooilammers almal teruggehou word om die volgende jaar hul ma’s se plek in te neem. Dit het baie minder diere op die veld gelaat.”
Gelukkig het dit die volgende jaar gereën, en omdat sy skape op 11-13 maande oud die eerste keer kan lam, kon die ooilammers in hul moeders se plek lam.
Só het hy geen produksie verloor nie, en kon met min uitgawes deur die droogte kom met letterlik geen voer nie.
TEELWAARDES NODIG
Collett sê ’n stoetteler kan nie selekteer sonder ’n goeie rekenaarprogram nie. Sy rekenaar neem hom kraal toe en die kraal stuur hom terug na die rekenaar toe.
Dit is vir die teler uiters belangrik om te weet wat sy doelwitte is en hoe om daarby uit te kom. “Ons het eintlik net een doelwit: om goeie diere vir die kommersiële bedryf te teel. Daarvoor het ons funksioneel doeltreffende diere met uitstekende teelwaardes nodig. Die teelwaardes gee jou die produksieen reproduksie-inligting van jou diere wat jy nie kan sien nie.”
Daarvoor is ’n goeie rekenaarprogram of Logix van SA Stamboek nodig.
By die Collett-boerdery word die skape twee keer per jaar met ’n breëspektrummiddel gedoseer – voordat hulle gedek word en weer voordat hulle lam om hulle veral teen brandsiekte te beskerm.
Net in ernstige gevalle sal sekere skape gedoseer en verkoop word. Skape word net teen bloednier, pasteurella, ensoötiese aborsie en Brucella ovis ingeënt.
SELEKSIE IN DIE TOEKOMS
Toe in 1994 met die ontwikkeling van die ras begin is, is rasstandaarde en seleksiedoelwitte vasgestel wat op ekonomiese eienskappe konsentreer. “Die ras moet funksioneel doeltreffend gebou wees, dit moenie nodig wees om die diere te skeer nie, hulle moet veral op die oë en ore velpigment hê, hulle moenie ’n vetstert hê wat afgesny moet word nie, hulle moet na poenskop neig, en hulle moet ’n sterk tropinstink hê.”
Met dié beginsels as grondslag het die ras só gevorder dat Collett van 2000 af kruisteling gestaak en op die suiwerheid van die ras gekonsentreer het. “Ons funksionele doeltreffendheid en gehardheid is heel aanvaarbaar. Ons sal egter moet seker maak ons beweeg in die toekoms nie agteruit nie, want dit het met baie rasse gebeur.”
Dit gebeur wanneer diere weens onverpoosde seleksie vir groei en vrugbaarheid die boer dwing om hulle te voer, anders vrek hulle. “Net daar begin hy afbreek wat hy deur jare opgebou het.
“Ons belangrikste doelwit is dus om die produksie en reproduksie van ons beter diere te handhaaf en slegs daarop te konsentreer om die swakker 20% te verbeter tot waar die bestes tans is.”
Collett sien uit na genomiese seleksie in die toekoms en wat wetenskaplikes oor epigenetika gaan ontdek. “In my onkunde glo ek dat baie van die gene wat met oorlewing, die verteerbaarheid van laegraadse voedsel en weerstand teen sekere siektes verband hou, reeds aangeskakel kan wees by diere wat op die ‘dapper’ manier geteel is.”
‘Die oomblik as ek die skape voer, neem ek die natuur weg van die skape en die hele seleksieproses.’