Hofsaak oor plaasverblyf hang in die lug
DIE hofsaak van plaaswerkers uit die Oos-Kaap wat aanvoer dat daar teen hulle gediskrimineer word omdat hulle in enkelgeslagwoonkwartiere op ’n Wes-Kaapse wynplaas gehuisves word, hang in die lug nadat die gelykheidshof bevind het hy het nie die jurisduksie om dit aan te hoor nie.
Werkers van die Oak Valleywynplaas buite Grabouw in die Overberg oorweeg nou of hulle ’n ander hof gaan nader of moet appelleer nadat die gelykheidshof, wat in die hooggeregshof in Kaapstad sit, bevind het hy kan nie ’n saak van beweerde diskriminasie tussen die landgoed en sy werkers aanhoor nie. Die verloop van die saak is van groot belang vir talle boere wat seisoenwerkers in diens neem.
Regter Owen Rogers het die aansoek van die werkers van die hand gewys en gesê hy het nie die mag om die saak na ’n ander forum te verwys ingevolge artikel 20 van die Wet op Gelyke Indiensneming (Wet 55 van 1998) nie. Geen kostebevel is gemaak nie.
In hoofsaak voer die betrokke 11 heeltydse werkers en 34 seisoenwerkers van Qumbu in die Oos-Kaap aan dat teen hulle gediskrimineer word weens die enkelgeslagwoonkwartiere waarin hulle vir die duur van hul werkstermyn bly.
Oak Valley sê die werkers word nie verplig om daar te bly nie. Daar is in elk geval sedert middel verlede jaar begin om die enkelgeslagwoonkwartiere uit te faseer. Die plaas het 230 heeltydse werknemers waarvan slegs 124 op die plaas woon omdat familiehuisvesting beperk is.
Die familiewonings word ten volle benut. As een beskikbaar raak, gaan dit aan ’n heeltydse werknemer wat daarvoor in aanmerking kom.
Die werkers meen dit is ’n aangeleentheid vir die gelykheidshof waar hulle in breë kan argumenteer oor die impak van die sistemiese probleme van apartheidspraktyke. Oak Valley het egter aangevoer dat die saak voor die arbeidshof of hooggeregshof aangehoor moet word in oorleg met die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie. Oak Valley sê daar rus geen verpligting op hom as ’n werkgewer en private grondeienaar om familiehuisvesting aan werknemers en hul gesinne te voorsien nie.
TWEE KLAGTES
Rogers het in sy uitspraak gesê die werkers se bewerings oor hul verblyf kom neer op twee klagtes. Die eerste klagte handel oor hul verblyf wat volgens hulle selfs vir enkelgeslagverblyf onvoldoende is weens die grootte van die kamers en die gebrek aan privaatheid. Volgens hulle is dit ook onmenslik omdat hul families in effek gedwing word om geografies apart te woon.
“Dit kom nie voor as onbillike diskriminasie nie. Die kern van die klagte is die bewering dat die verblyf onvoldoende en onmenslik is. Daar kan aangevoer word dat ’n private werkgewer onder geen verpligting is om verblyf aan lede van die publiek te verskaf nie. Hy hoef slegs verblyf aan werknemers te verskaf as dit ’n ooreengekome voordeel van indiensneming is.
“Indien die werknemer dit as onvoldoende en onwaardig bestempel, is hy of sy onder geen verpligting om die aanbod te aanvaar nie. Dit kan te ver gevoer word deur te sê die werknemer is geregtig daarop om die aanbod van onvoldoende verblyf te aanvaar, en dan te beweer dat sulke verblyf sy fundamentele regte skend en dat die werkgewer beter en meer uitgebreide verblyf moet verskaf.”
Die tweede klagte gaan daaroor dat Oak Valley teen swart werkers van Qumbu diskrimineer deur hul verblyf te beperk tot enkelwoonkwartiere, terwyl familieverblyf van beter gehalte aan wit en bruin werkers verskaf word.
Rogers het bevind indien dit waar is, is dit diskriminasie op een of meer verbode terreine – ras en etniese of maatskaplike oorsprong. Indirek kan dit ook geslagsdiskriminasie insluit, aangesien die vroulike metgeselle van wit en bruin werkers wel by hul metgeselle mag woon, terwyl swart werkers nie die voorreg het nie. Dié aangeleentheid val wel binne die jurisdiksie van die gelykheidshof.
ARBEIDSVERHOUDINGE
Rogers het gesê hy aanvaar die werkers se klagtes berus op sistemiese diskriminasie met sy wortels in die trekarbeidstelsel. “Dié stelsel dateer uit die onheilspellende apartheidsera van die Nasionale Party sedert 1948. Dit beteken egter nie die Wet op Gelyke Indiensneming is nie gepas nie. Een van die hoofsfere van menslike bedrywigheid waarbinne sistemiese diskriminasie in die Suid-Afrikaanse geskiedenis tot uitdrukking gekom het, is arbeidsverhoudinge.
“Wat ook al die geskiedkundige oorsprong en hoe ook al die enkelkwartierverskynsel nog bestaan, is die behuisingskwessie in die saak voor die hof ’n aangeleentheid tussen Oak Valley en sy werknemers.”
Mnr. Henk Smith, wat die applikante verteenwoordig, sê die saak handel oor rassisme, waardigheid en behuisingsomstandighede waarin hulle op die plaas woon. Dit is slegs van toepassing op die swart werkers van die Oos-Kaap, wat beteken dat hul regte geskend word.