Landbouweekblad

Wynplaas in Klein-Karoo wil miljoen spekbome plant

- — LUCILLE BOTHA

BOPLAAS, ’n wynplaas in die Klein-Karoo wat veral bekend is om sy pryswenner-portstylwy­ne, beoog om 1 miljoen spekbome teen 2025 te plant.

Volgens me. Rozanne Nel, bemarkings­bestuurder van Boplaas digby Calitzdorp, word die spekboom beskou as ’n “wonderwerk­erplant” wat baie doeltreffe­nd is om koolstofdi­oksied in suurstof om te skakel. Dit kan dus help om klimaatsve­randering teen te werk.

“Dit het vyf jaar laas ordentlik hier gereën. Ons moet al hoe meer druiwe uit die omgewing aankoop omdat die produksie op die plaas afgeneem het. Ons moes dus die sakemodel aanpas en meer op spirituali­eë begin konsentree­r,” sê sy oor die veranderen­de klimaat.

“Die wêreld is by breekpunt en ons moet alles in ons vermoë doen om ’n internasio­nale klimaatska­tastrofe te vermy. Die spekboom (Portulacar­ia afra) is inheems aan die Klein-Karoo en verrig wonderwerk­e wat koolstof betref. Die spekboom is die doeltreffe­ndste koolstofne­erlegger ter wêreld (vir die hoeveelhei­d water wat dit gebruik).”

’n Enkele spekboom kan tonne koolstof in die grond neerlê. Navorsing toon die wêreld produseer tans 1 331 ton koolstofdi­oksied per sekonde.

Rozanne se pa, mnr. Carel Nel, was nog altyd passievol oor natuurbewa­ring en het sowat 20 jaar gelede ’n stuk grond van 2 200 ha gekoop wat hy gerehabili­teer en bewaar het.

Hoewel spekbome natuurlik in die gebied voorkom, gaan die Nels nóg 1 miljoen spekbome oor die volgende vyf jaar vestig. “Dit is my pa se manier om terug te gee aan die natuur. Ek was nog klein toe hy al gesê het ons gaan nog eendag betaal word om bome te plant.”

Die familie gaan ook spekboomst­eggies gratis van die plaas en proelokaal in Klein-Brakrivier aan mense gee.

“Hulle kan net kom aanklop daarvoor. As ons duisend mense sover kan kry om elk honderd spekbome te plant, beteken dit 100 000 spekbome wat klimaatsve­randering help beveg.”

Sy hoop mense gaan die steggies in hul tuine, op landgoeder­e of op plase plant.

“Die spekboom pas uitstekend by sy omgewing aan en kan omtrent enige plek floreer. Dit maak wonderlike heinings en pragtige struike. Dit kan in die veld, blombeddin­gs of potte geplant word.”

Die Nels sal ook inligting verskaf oor hoe om steggies te maak en dit te plant. “Die spekboom verg baie min onderhoud en kan met die minimum hoeveelhei­d water oorleef.”

 ?? FOTO: VERSKAF ?? Me. Rozanne en mnr. Danie Nel by spekbome in ’n stuk veld wat die familie vir bewaring opsy gesit het.
FOTO: VERSKAF Me. Rozanne en mnr. Danie Nel by spekbome in ’n stuk veld wat die familie vir bewaring opsy gesit het.
 ?? FOTO: VERSKAF ?? Mnr. Carel Nel, keldermees­ter van Boplaas. Natuurbewa­ring het hom nog altyd na aan die hart gelê.
FOTO: VERSKAF Mnr. Carel Nel, keldermees­ter van Boplaas. Natuurbewa­ring het hom nog altyd na aan die hart gelê.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa