Só sê ’n slaaiboer
Ian Grummbacher is ’n direkteur van Dew Crisp en boer onder meer met kropslaai op sy plaas by Philippi op die Kaapse Vlakte.
Die gebied waar jy boer, is tradisioneel bekend vir groenteverbouing. Hoekom is dit so geskik daarvoor?
Deur en deur oor die klimaat. Ons is naby die Valsbaaikus geleë, en in die somer koel die seebries ons streek af. Dit gebeur selde dat die temperatuur bo 30 °C styg. Slaai floreer in matige toestande. Die sandgrond is lekker om in te boer en het min siektes, maar dit verg meer water en chemiese middels om jou produk te verbou. Dit is dus ’n duurder gebied om in te boer, maar ten minste baklei ons nie met die natuur nie.
Hoe lyk die huidige produksiejaar vir kropslaaiboere?
In die Wes-Kaap lyk die oeste normaal tot ietwat beter. Ons het nie ’n koue winter of uitermatige lente gehad nie. Die ekonomie is egter vuisvoos, en pryse is tans onder druk — selfs laer as produksiekoste. Ons verwag egter dat dit in die laatsomer tot einde Maart weer sal verbeter.
Is tegnologie belangrik vir slaaiproduksie?
Ja, beslis. Al ons saad word van Nederland en Frankryk ingevoer. Die teling daarvan vereis toptegnologie. Jy as boer moet op die hoogte bly van die siektepakkette en saadtipes wat goed werk. Slaaiboerdery is taamlik maklik, mits jy weet hoe om dit te doen en besef hoe intensief dit is. Die verpakking en verspreiding vereis ook baie tegnologie, veral vir verkoeling om ’n goeie raklewe te verseker.
Waar is jou afsetgebied?
Sowat 85% van ons slaai word aan supermarkte en restaurante (soos McDonald’s en KFC) gelewer. Hulle vereis ’n raklewe van vier dae tot sewe dae ná verpakking. Daarom is tegnologie regtig belangrik.
Het die droogte julle beïnvloed?
By Philippi is ons nie afhanklik van bogrondse water nie, maar ons maak staat op grondwater. Dit was nog altyd ons behoud. Boere het die afgelope ses jaar egter baie slimmer geword en gebruik nou danksy beter stelsels en hulpmiddels seker net twee derdes van die water wat hulle tien jaar gelede gebruik het.
Watter probleme ervaar slaaiboere in jou omgewing?
Diefstal — nie van die slaai as sodanig nie, maar van bates, soos pompstasies en rekenaars. As dit gesteel word, moet ons vir ’n paar dae snags met die hand water gee. Marktoestande is ook moeilik, veral om ’n goeie bemarkingstyd te vind. Die grootste probleem is natuurlik die prys, want dit is baie wisselvallig.
Wat is jou gunstelingslaai?
Crunchita is ’n baster tussen Cos- en Iceberg-slaai. Dit is verreweg die lekkerste eetslaai — heerlik soet en krakerig. Die blare lyk soos ’n bakkie en kan met enigiets gevul word. Ek hou veral van die Mediterreense manier van slaai maak met gerookte soetrissies en ’n bietjie proteïene.