Karooboere werk saam vir bewaring
’n Suksesverhaal vir boere en die omgewing ontvou in die Karoovlaktes om Graaff-Reinet, Somerset-Oos, Cradock en Pearston in die Oos-Kaap, waar die Bergkwagga-Kamdeboobewaringsprojek nou sy tweede fase betree.
Alle boere is bewaarders van die omgewing, meen mnr. Jaco Loots van die Pienaarsbaken-boerdery tussen Graaff-Reinet en Middelburg. Loots is voorsitter van die grondeienaarsvereniging in die Bergkwagga-Kamdeboo-bewaringsgebied, ’n samewerkingsooreenkoms tussen boere en die bewaringsbedryf om gemeenskaplike omgewingsdoelwitte te bereik.
Die buffersones tussen en om die nasionale parke Bergkwagga en Kamdeboo staan bekend as die Bergkwagga-Kamdeboo-bewaringsgebied, wat in 2012 van stapel gestuur is. Dit is ’n amptelike plan om die Oos-Kaap se bedreigde plant- en dierelewe te bewaar, in ruil daarvoor dat die grondeienaars beskerm word teen ontwikkelings wat natuurbewaring kan ondermyn.
“Al hoe meer boere besef hoe belangrik dit is om die omgewing vir die toekoms te bewaar. As hulle nie nou begin nie, kan die volgende geslagte ’n groot probleem hê. As
’n mens nie na die hele ekostelsel kyk nie, sal jy ook nie goeie vesel of vleis kan produseer nie,” sê Loots.
’n Buffersone is ’n wetenskaplik afgebakende gebied wat beskerm word sodat eiesoortige plantegroei en endemiese ekostelsels bewaar kan word.
Altesaam 64 grondeienaars met nagenoeg 275 000 hektaar private grond vorm deel van die beskermde gebied.
Sodra die tweede fase deur die departement van omgewingsake goedgekeur word, hoop die projek om meer as 700 000 hektaar grond in te sluit, met 150 boere wat betrokke is. Boere raak vrywillig betrokke by die grondeienaarsvereniging. Dit kos nie geld nie en boere sluit deur Sanparke aan.
Die tweede fase sluit in ’n groot aantal nuwe grondeienaars en gee erkenning aan boere vir die bewaringswerk wat hulle reeds op hul grond verrig. Dit bied ook hulp aan boere vir groter bewaringsinisiatiewe deur samewerking met Sanparke.
Volgens me. Bronwyn Botha, projekbestuurder, is die doelwit om die grond te beskerm teen nadelige ontwikkeling en omgewingsrisko’s.
“Dit is ook om boere te help om bewaringsaksies uit te voer wat voordelig is vir die omgewing én landbouvolhoubaarheid op langer termyn.”
BEWARING VAN SPESIALE SPESIES
’n Spesiale program is ook aan die gang waar mense kan laat weet as hulle bedreigde of endemiese spesies raaksien. Dit word in groter bewaringspogings en -navorsing opgeneem. Dit behels spesies soos die swartvoetkat, sekretarisvoël en rooibekrenostervoël.
“Dit maak sin om die boere te raadpleeg,” sê Botha. “Dit is die mense op die grond wat die beste kans het om die spesies raak te sien.”
Die moontlike hervestiging van Kaapse aasvoëls is ook in die pyplyn.
Hierdie projek sal saam met groot bewaringsorganisasies, soos die trust vir bedreigde natuurlewe (EWT) reg oor die Oos-Kaap tot in die Noord-Kaap geskied. (Lees ook die
artikel “Boere gee bewaringsprojek vlerke: Kransaasvoëls teruggelok Karoo toe”, LBW, 25 Oktober 2019, bl. 52-54).
VOORDELE VIR BOERE
Volgens mnr. Jaap Jordaan van die Kareebos-Merinoboerdery by Cradock het hul betrokkenheid by die projek hulle aan die vereistes van die Responsible Wool Standard laat voldoen. Laasgenoemde is ’n internasionale wolstandaard wat die welstand van skape en volhoubare boerderypraktyke reguleer.
“Toe wolveilings vanjaar afgestel is vanweë ’n verbod op wolaankope deur China, kon ons steeds wol uitvoer na lande soos Nieu-Seeland, waar wolgebruikers aandring op vesel wat eties en volhoubaar geproduseer en naspeurbaar is.”
Jordaan is betrokke by navorsingsprojekte in die bewaringsgebied wat klem lê op ’n spesifieke bergskilpadspesie, asook rooibekrenostervoëls.
Sy verantwoordelikheid is om Sanparke te laat weet as hy dié spesies waarneem.
Boere trek ook voordeel uit navorsing oor die uitwissing van indringerspesies en die bekamping van gronderosie.
“Die navorsing is gedoen deur ’n konsultant wat ál die skaars spesies op die verskillende plase geïdentifiseer en gekarteer het. Dit is aangebied in ’n verslag en ruimtelike kaart wat vir die boere toeganklik is. Ons skep tans ’n inligtingsdokument wat die spesies en hoe om hulle te benader, sal beskryf,” sê Botha.
“Boere doen reeds hul bes om uitheemse spesies te beveg, erosie te bestry en die verspreiding van veldbrande te voorkom. Ons bou op hierdie stelsels deur data, navorsing en raad aan te bied om die boere te help,” sê Botha.
Die visie van “bewaring deur samewerking” begin vorm aanneem.
Talle grondeienaars in verskillende boerderyverenigings het nou een, groot ondersteuningsnetwerk.
NAVRAE: Bronwyn Botha, 071 272 5784.